Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Donderbuie met hier en daar ’n stukkie son
Carlo Daniels en Abigail Mei in ’n toneel uit Onweer.

Onweer, geskryf deur Carlo Daniels

Met Carlo Daniels en Abigail Mei

Baxter-teater, Rondebosch

***

’n Mens wil waag om te sê die Baxter-teater se jaarlikse gemeenskapsteaterfees, Zabalaza, is die grootste en verreikendste van sy soort. Produksies van heinde en verre ding in al die landstale mee om die eerste prys, naamlik die “Best of Zabalaza”. Dít beteken ’n speelvak van twee weke by die Baxter met geldelike en tegniese ondersteuning, asook mentorskap ten opsigte van die teks en produksie.

Carlo Daniels, skrywer en regisseur van die wenproduksie van vanjaar se agtste Zabalaza-fees, Onweer, is terdeë bewus van die groot kans wat hom gegun is. “Geleenthede om ons werk vervaardig en gefinansier te kry, is maar dun gesaai,” sê hy.

Daniels is dalk nuut as skrywer en regisseur en boonop speler van dramas, maar liefhebbers van musiekblyspele sal weet hy het danksy sy veelsydigheid en musikaliteit lankal reeds sy merk gemaak in produksies soos onder meer David Kramer se Kat and the Kings, Orpheus in Africa en District Six Kanala. Hy’t ook vanjaar by die KKNK saam met Kramer in Platteland opgetree.

Met Onweer, asook sy ander solostuk wat hy onlangs opgevoer het, Klippies van die grond, gebruik Daniels die geleentheid om die maatskaplike kwessies van verkragting en dwelmmisbruik in sy gemeenskap te belig. Hy benader dit met die nodige erns, maar slaag ook daarin om nou en dan met humor ’n bietjie lafenis in die woesteny van hopeloosheid te bied.

Met Onweer, asook sy ander solostuk wat hy onlangs opgevoer het, Klippies van die grond, gebruik Daniels die geleentheid om die maatskaplike kwessies van verkragting en dwelmmisbruik in sy gemeenskap te belig. Hy benader dit met die nodige erns, maar slaag ook daarin om nou en dan met humor ’n bietjie lafenis in die woesteny van hopeloosheid te bied.

Joseph Solomons het pas tien jaar tronkstraf uitgedien omdat hy sy dogter Tammy (Abigail Mei) as kind verkrag het. Ná sy vrylating keer hy terug huis toe, na waar Tammy steeds woon. Die vraag is of die tronk Joe sodanig verander het dat hy hom daarvan sal weerhou om Tammy weer te molesteer en verkrag. Vir ons as die gehoor lê die tragedie in Tammy se onmag om aan haar situasie te ontsnap wanneer haar pa terugkeer; selfs nadat hy aanvanklik tronk toe is.

Daniels en Mei lewer albei stewige vertolkings (Daniels het by Zabalaza ook die prys as beste akteur gewen), ook in die tonele waar fisieketeater-elemente ingespan word. Die herkenbare karakters wat hulle skep en die feit dat die gehoor dié soort situasies ken, het baie tot die gehoor se intense meelewing met die openingsaand bygedra. Die dialoog was ook in die soort Afrikaans wat ons daagliks om ons hoor – die taal van die mense.

Die kern van ’n sterk stuk bestaan dus. ’n Mens wil egter voorstel dat Daniels oorweeg om ’n buiteregisseur oftewel ’n “tweede oog” in te bring om aandag te gee aan tegniese aspekte soos soomlose oorgange tussen tonele, die konsekwente gebruik van rekwisiete al dan nie en onnodige maskering wat inbreuk maak op die gehoor se ervaring.

“Wat was, sal altyd wees,” profeteer Tammy.

Mag sy verkeerd wees. 

Meer oor:  Zabalaza  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.