Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Dop’ terug op die planke

Retief Scholtz se bekroonde toneelstuk Dop “oor die ernstige en private gesprekke tussen mans wat vroue selde te siene kry” is vandeesmaand terug op die planke in Johannesburg.

Dit word tot 19 Januarie in die Barney Simon-teater in die Markteater opgevoer.

André Odendaal en Wilhelm van der Walt in Dop. Foto: Kosie Smit

“Hoe praat mans met mekaar? Hoe praat vader- en seunsfigure met mekaar? Hoe daag generasies mekaar uit?” vra Sylvaine Strike, die regisseur.

In Dop, wat in 2016 in die Pieter Toerien-teater se Studioteater in Montecasino in Johannesburg gedebuteer het, vier Frank (André Odendaal) sy 60ste verjaardag op sy eie in ’n kroeg.

Net die kroegman, Tim (Wilhelm van der Walt), is saam met hom in die vertrek.

Frank ervaar boonop ’n middeljarekrisis.

“En hoewel daar geen vroue teenwoordig is nie, is hulle tog daar,” sê Strike.

“Tim praat van sy ouma en sy ma. Frank praat van sy ma. Maar dit is ’n baie persoonlike gesprek tussen twee mans, en onder die invloed van alkohol maak Frank net al hoe meer oop. En daar is ’n baie tragiese onthulling.”

“Hoe praat mans met mekaar? Hoe praat vader- en seunsfigure met mekaar? Hoe daag generasies mekaar uit?”

Dop is intussen onder meer in Centurion en op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer, waar dit ’n Kanna-teaterprys as beste nuutgeskrewe teks ontvang het.

Dit het ’n kort speelvak in die Markteater, maar Strike is baie dankbaar oor hierdie blootstelling.

Haar vorige toneelstuk wat hier opgevoer is, was Tobacco, and the Harmful Effects Thereof.

Retief Scholtz
Wilhelm van der Walt en André Odendaal in Dop. Foto: Kosie Smit

Dop is die eerste Afrikaanse toneelstuk waarvan Strike die regisseur is. Sy is destyds deur die vervaardiger Kosie Smit met Scholtz se teks genader.

“Ek kon die wonderlike potensiaal van Retief se teks raaksien. Ek het gesê ek sal die regisseur wees op voorwaarde dat ek dit magies kan aanbied. Dit kon nie net in ’n statiese kroeg afspeel nie.

Daar moes beweging wees, want daar is reeds die gevoel van dronkenskap, en die beweging vertoon ook die verskillende perspektiewe van die twee mans.”

Strike en die spelers was almal by die eerste speelvak van Dop betrokke.

“Dit is bykans vier jaar later en die stuk het ontwikkel en ons almal is op ’n ander plek in ons lewe. Ons vind nou dat die stuk baie dieper delf. Dit is baie pynliker, maar ook baie snaakser. Daar is iets vir elke generasie in hierdie storie.”

* Vertonings is Dinsdae tot Saterdae om 20:15 en Sondae om 15:15. Die kaartjies kos R90 tot R150. Bespreek by Webtickets.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.