Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Drama ook treffend in Engels

’n Mens wonder hoe Reza de Wet se boeiende Diepe grond suksesvol in Engels uitgevoer kan word.

De Wet se stem in dié toneelstuk is te duidelik Afrikaans.

Van links is Zak Hendrikz, Mpho Osei-Tutu, Liezl de Kock en Olive Strachan in African Gothic. Foto: Jan Potgieter

Die sielkundige riller herinner jou te veel aan die randfigure onder die Afrikaanssprekendes wat vir ons taalgroep ’n slegte naam gee.

Die Universiteit van Johannesburg se departement kuns en kultuur vang die Afrikaansheid van die drama egter perfek vas in African Gothic, wat tans in die Fringe van die Joburg-teater op die planke is.

Nie net versinnebeeld die stel ’n tipiese konserwatiewe Afrikaner-plaashuis nie, maar die hoofkarakters, Sussie (Liezl de Kock) en Frikkie Cilliers (Zak Hendrikz), se Engelse aksente is soos dié van Afrikaanssprekendes wat met moeite probeer om Engels te praat.

Dié boetie en sussie woon op ’n afgesonderde plaas wat sedert hul ouers se raaiselagtige dood agteruitgaan.

“Geen herstelwerk is gedoen sedert die skielike dood van ons ouers nie . . . Soms voel dit soos gister en ander kere soos lank terug,” sê Frikkie op ’n keer aan mnr. Grove (Mpho Osei-Tutu), die prokureur wat hul oorlede tannie se boedel behartig.

Die bloedskande tussen dié twee volwassenes is van die begin af duidelik, so ook hul onvolwassenheid.

Zak Hendrikz en Liezl de Kock as Frikkie en Sussie Cilliers.

Dié twee slaap heel dag lank en speel deurnag, terwyl Alina (Olive Strachan) deurlopend vir hulle kos en koffie aandra. Tussendeur grou die twee nog gate ook, op soek na die riviere wat Frikkie die heeltyd hoor.

Mnr. Grove, wat inderwaarheid die enigste redelike mens in die drama is, bied ’n bedreiging vir die ander karakters se afgesonderde, verwronge voortbestaan.

“Julle het alle bande met die realiteit verloor,” sê mnr. Grove op ’n kol.

Waar dit aanvanklik lyk of die drama ’n middelvinger wys na die kerk en die Afrikaner wat die jeug afbreek, weet die gehoorlid naderhand nie meer wat om te glo nie.

Dit voel eerder soos ’n nagmerrie wat jy nie wíl glo nie.

Olive Strachan, Mpho Osei-Tutu en Zak Hendrikz.

Die toneelgeselskap vertolk die rolle in dié riller uitstekend en ’n mens vind dat hul toneelspel én die vreesaanjaende agtergrondmusiek jou deu­rentyd ongemaklik laat voel.

Aangesien African Gothic baie naaktheid bevat, is dit raadsaam om nie jonger kinders saam met jou na die opvoering te neem nie.

Meer oor:  Engels  |  Toneelspel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.