Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Dramaturg ewig op soek na sy ‘eie stem’

Herschelle Benjamin (22) is ’n jong dramaturg wat in minder as ’n jaar met drie van sy tekste sukses behaal het. Verlede jaar is sy stuk In slavenhuis 39 by die Teksmark gekies om verder te ontwikkel en dit open volgende jaar se US Woordfees.

Herschelle Benjamin

Die stuk Korreltjie kop klong is my dood is een van vier wat gekies is om opgevoer te word as deel van die Kunstekaap se Nuwe stemme-program in Oktober vanjaar.

By die pas afgelope Teksmark was hy een van 15 dramaturge wat uit sowat 70 gekies is om ’n teks voor te lê wat moontlik ontwikkel en waarskynlik opgevoer gaan word. Hy het by die Teksmark ’n skryfbeurs van R50 000 ontvang om verder aan sy stuk te werk.

Hy is ’n meestersgraadstudent in drama aan die Universiteit Stellenbosch. Vroeër vanjaar het hy ook ’n somerskool in Edinburg bygewoon nadat hy die internasionale Elizabeth MacLennan-beurs ontvang het vir teater. Hy doen tans ’n internskap by Media24 en Die Burger se kunsblad.

Hy beantwoord ’n paar vrae:

Sien jy jouself in die toekoms as ’n akteur of as ’n dramaturg?

Eerder ’n dramaturg of veelsydige skrywer met die oog om eendag in ’n volronde teatermaker en kunstenaar te ontwikkel. Ek wil ook my vlerke sprei om meer aan die besigheidskant van die kunste te kom. Maar skryf was nog altyd die een konstante en ek vermoed dit sal ook so bly.

Wanneer het jy jou eerste toneelstuk geskryf?

In my eerste jaar van universiteit het ek besluit om een monoloog wat ek in matriek geskryf het te gebruik as die fondament vir my eerste toneelstuk. Korreltjie kop klong is my dood kom dus van die monoloog, Rehab, en word vanjaar in die Kunstekaap opgevoer. Die teks kom nou al vyf jaar aan. Intussen was daar klomp ander pogings wat ek steeds vir myself hou onder my bed en dis eers in my honneursjaar toe ek In slavenhuis 39 geskryf het, wat ek soos ’n jong skrywer/dramaturg gevoel het.

Is jy iemand wat mense dophou en uit hul gewoontes en persoonlikheid put vir jou tekste?

My persoonlikheid speel ’n belangrike rol want ek is alewig op soek na “my eie stem” wat ek vermoed ’n skril een is, maar dit word beïnvloed deur inspirasie, verbeelding, en intelligensie van andere wat ek bestudeer en bewonder. Toe ek klein was het my ma altyd gesê sy hou nie daarvan om met my winkels toe te gaan nie want ek bewonder alles. Ek kyk die mense, die karre, die klippies en dan loop ek stadig of luister nie wat sy sê nie. Ek stap veral sommige oggende van Tamboerskloof na die middestad net om tussen gewone mense te loop en hulle te bewonder. Gewone mense wat daagliks net probeer lewe en oorleef.

Sê in een sin waaroor jou drie toneelstukke onderskeidelik gaan?

Korreltjie kop klong is my dood – ’n Enkelma wag vir haar jong dwelmverslaafde seun by die huis na nog ’n onsuksesvolle rehabilitasieproses.

In slavenhuis 39 – Vier bruin eerstejaar manstudente kom na die Universiteit Stellenbosch en bly almal saam in een woonstel wat jare gelede dieselfde plek was waar Kleurlingslawe gewoon het in Stellenbosch.

Aas poetica – ’n Jong bruin student is vasgevang in ’n liefdesdriehoek met twee van sy wit professore en droom om eendag ’n digter te word.

Wat is jou volgende projek?

Ek wil eerstens my meestersgraad klaarmaak, maar ek werk ook aan ’n besigheidsvoorstel vir ’n opwindende elektroniese/digitale apparaat vir die teaterbedryf asook vir die hele kunstebedryf. En dan probeer ek ook om my eerste meertalige toneelstuk te skryf in Afrikaans, Engels, isiXhosa en Nederlands/Vlaams.

Wat verstaan jy onder sukses?

Sukses is toewyding, opofferings, nederigheid, belangstelling, konstante harde werk en is in die eenvoudige goed wat belangriker is.

Meer oor:  Teksmark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.