Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Drie wyse manne’ wil Distrik Ses-museum red

Die komediante Marc Lottering, Nik Rabinowitz en Riaad Moosa gaan ’n skerpskertsvertoning aanbied in ’n poging om die Distrik Ses-museum in Kaapstad van ondergang te red.

Marc Lottering Foto: Argief
Nik Rabinowitz Foto: Argief
Riaad Moosa Foto: Argief

Netwerk24 het vroeër berig dat die museum, wat Maandag heropen het, ook weens die pandemie swaar gebuk gaan onder finansiële druk – soveel so dat sy voortbestaan weens leë geldkoffers in die gedrang is.

Dié nuus het Lottering, Rabinowitz en Moosa laat besluit om die museum se deure lag-lag met hul vertoning Night at the District Six Museum te probeer oophou.

“Ons het net gevoel ons wil help op die beste manier waarop ons weet hoe,” sê Lottering.

“Ons praat al ’n tydjie daaroor om weer iets saam te doen, en ek dink dít gee ons uiteindelik die geleentheid. Aanhangers van die Three Wise Men-handelsmerk wag al jare hiervoor, so almal wen.”

Die vertoning herenig die trio vir die eerste keer in meer as ’n dekade nadat hulle in 2008 en 2009 in Three Wise Men en Three Wiser Men saam te sien was.

“David Kramer het dit geregisseer en dit was ’n groot hit,” sê Lottering.

“Ons wou ’n derde hoofstuk doen, maar weens ons besige programme het dit onmoontlik gelyk, so hierdie vertoning is nogal spesiaal. Ek dink dit is grootliks moontlik omdat dit net een aand is – nie ’n hele seisoen met ’n lang speelvak nie.”

Volgens Lottering sal elke komediant ’n aparte skerpskertsvertoning van 20 minute elk lewer voordat hul alter ego’s – Aunty Merle (Lottering), Beryl Rosenberg (Rabinowitz) en Ayesha Patel (Moosa) – hul buiging sal maak.

“Ek sal natuurlik ook nie die versoeking kan weerstaan om agter die klavier in te skuif, my oë toe te maak en ’n wysie te sing nie,” sê Lottering.

“Ons sien regtig uit na ’n uitstaande vertoning. Dit gaan regstreeks uit die museum gestroom word en ons gaan ’n klein gehoor (in die museum) hê.”

As die museum se deure toegemaak word, gaan toekomstige generasies en besoekers aan ons land ook van al dié inligting en noemenswaardige stories afgesluit wees. Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie.
Marc Lottering

Hoewel hulle gehore aan die lag wil kry, maak Lottering geen grap oor hoekom hierdie vertoning vir hulle belangrik is nie.

“Dit is noodsaaklik om goed oor jou herkoms en kultuur te weet – hoekom jou ouers en grootouers gewoon het waar hulle gewoon het.

“As die museum se deure toegemaak word, gaan toekomstige generasies en besoekers aan ons land ook van al dié inligting en noemenswaardige stories afgesluit wees.

“Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie.”

  • Night at the District Six Museum word op 31 Oktober om 19:30 regstreeks uit die Distrik Ses-museum gestroom. Die vertoning sal tot 2 November om 20:50 aanlyn beskikbaar wees. Kaartjies kos R80 en kan by Quicket bespreek word. Die hele opbrengs sal aan die museum geskenk word.
Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Pandemie  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Museum  |  Riaad Moosa  |  Marc Lottering  |  Nik Rabinowitz  |  Komedie  |  Teater  |  Distrik Ses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.