Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Duiwe laat Sophia van Taak op RSG wen

“Ek het my probeer voorstel hoe die lewe vir ’n seun met Aspergersindroom moet wees. Dis moeilik genoeg wanneer jy ’n normale kind is en puberteit skop in, laat staan nog as jy sosiaal nie inpas nie.”

Sophia van Taak, reisjoernalis van die tydskrif Weg, is die wenner van Sanlam en RSG se radiodramaskryfkompetisie vir 2018.

Sophia van Taak, Weg-joernalis en aanbieder van die televisieprogram Agterpaaie, praat oor haar drama, Anders geveer, wat die eerste prys in vanjaar se Sanlam en RSG-radiodramaskryfkompetisie gewen het.

“Ek het nog altyd ’n belangstelling in outisme en Aspergersindroom gehad en oor baie jare alles gelees wat ek daaroor kon vind.”

Dit is sekerlik waarom sy dié sindroom so sensitief kon uitbeeld en waarvoor die beoordelaars haar spesiaal prys.

Die verhaal gaan oor die matriekleerling Joshua en sy ma, San Scheepers, wat elke keer as Joshua weens onvanpaste gedrag uit ’n skool geskop word, na ’n volgende dorp trek.

Duiwe se vere verskil en so verskil mense met Aspergersindroom ook van mekaar.

Oral ontmoet hulle randfigure totdat hulle in ’n dorp kom waar Joshua aanklank vind by Gus Raubenhaimer, wat soos hy ’n liefde vir vlugduiwe het.

Die verband tussen die vlugduifkultuur en die drama het ’n lang aanloop, vertel Van Taak.

“Ek moes ’n artikel oor wedvlugduiwe vir Weg skryf en het so intensief navorsing daaroor gedoen dat ek my totaal daarin verdiep het.

“Ek het naweke Wellington toe gery waar ervare vlugduif-eienaars my met groot geduld die fyner aspekte van die bedryf geleer het. Middae het ek ure lank gesit en wag dat die duiwe inkom en soggens douvoordag gekyk hoe die mans hul mandjies met duiwe op vragmotors laai om êrens in die Karoo losgelaat te word.

Dié duiwe-ervaring het gelei tot die titel Anders geveer. “Duiwe se vere verskil en so verskil mense met Aspergersindroom ook van mekaar,” verduidelik Van Taak.

Dat sy die eerste prys én R37 000 gewen het, het nog nie by haar ingesink nie. Sy weet ook nie wat vanjaar die keer die deurslag gegee het nie nadat sy verlede jaar met haar tweede poging die derde prys losgeslaan het.

Wat sy wel sê, is dat sy die notas wat sy in die radiodrama-slypskool gekry het weer sorgvuldig deurgelees en toegepas het. Sy het die slypskool bygewoon voordat sy Springgety (verlede jaar se derde prys) geskryf het.

“Jy kry byvoorbeeld aanwysings oor byklanke – waarop jy bedag moet wees, hoe jy dit in die teks moet aandui. En dat die drama nie meer as agt karakters moet bevat nie, ook dat karakters nou en dan op hul name genoem moet word sodat die luisteraar tred kan hou met die storie.”

In Anders geveer is agt karakters. Benewens Joshua, San en oom Gus die duiweboer, is daar sy duiwevriend, Adriaan, die bure Jeanne en Betsie en die skoolhoof, mnr. Groenewald.

Van Taak sê sy sal seker weer ’n radiodrama skryf, maar het ook ’n belangstelling in draaiboeke vir televisie en rolprente. Dit is in dié genre dat haar volgende skryfstuk vermoedelik sal verskyn.

Sy sal egter nie haar pos by Weg verlaat nie. “Ek geniet die tydskrifwerk baie en verkies om die fiktiewe skryfwerk as ’n tydverdryf te hou.”

Meer oor:  Via  |  Sanlam  |  Rsg  |  Sophia Van Taak  |  Radio  |  Weg  |  Reisjoernalis  |  Radiodrama-Skryfkompetisie  |  Weg! Agterpaaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.