Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Eensaamheid van Kersfees in stuk verken
Ilse-Lee van Niekerk speel in die eenvroustuk Hettie se Kersfees, wat volgende jaar by die Toyota US Woordfees opgevoer gaan word.

Hettie sukkel met Kersfees. Met die tannie wie se nare nagereg niemand wil eet nie, maar tog eet, die oom met sy onvanpaste uitlatings en dan die alewige vrae oor hoekom sy dan nog nie getroud is nie.

Terwyl families en vriende saamkom vir feestelikhede oor die Kerstyd, is daar mense wat dit nie so vrolik ervaar nie.

Die eenvroustuk Hettie se Kersfees, wat in Maart op die Fringe van die Toyota US Woordfees opgevoer word, handel oor mense wat worstel met depressie in die feestyd. Die jong teaterskepper Ilse-Lee van Niekerk het dit verwerk en aangepas van die eenmanstuk Harry’s Christmas, ’n donker komedie deur die Britse dramaturg Steven Berkoff.

Van Niekerk sê sy is diep deur Berkoff se stuk geraak toe sy ’n jaar of wat gelede daarmee gewerk het by die Universiteit Stellenbosch, waar sy voorgraads studeer het en haar honneurs in dramakuns behaal het.

Ilse-Lee van Niekerk speel in die eenvroustuk Hettie se Kersfees, wat volgende jaar by die Toyota US Woordfees opgevoer gaan word.

Dit handel oor Hettie, wat ongelooflik alleen en uitgesluit voel. “Die feestyd maak die gevoelens soveel erger. Dit speel af in Hettie se woonstel in die vier dae voor Kersfees. Ek dink as jy jou inleef in ’n ander mens se ervaring dan ontwikkel empatie, en ’n mens kyk anders na die statistieke. Ek glo ook as mens iemand kan raak, iemand se menslikheid kan herken, dan kan jy deurdring na hulle met inligting of nuwe idees. Ek hoop hierdie stuk sal vir mense laat met ’n gevoel van hoop vir verandering of ingryping.”

Sy dink mense wil nie eintlik praat oor die donker kant van Kersfees nie. “Almal fokus net op die ligte, prettige moontlikhede van vakansie. Die bemarkers verkoop daai geluk – in die vorm van samesyn, familie, vriende, kos en drank en koop. Daai dinge is natuurlik nie sleg nie. Maar almal adverteer ’n fees en vergeet van die mense wat buite staan of nie genooi is nie. Dit wat hulle nie het nie, word vir hulle gewys en dit kan mense nog meer alleen en uitgesluit laat voel.

“Sommige mense is depressief en voel vervreemd van die wêreld, ander het nie goeie verhoudings met hul families nie, daar’s mense wat onlangs iemand na aan hulle verloor het en mense wat onder finansiële druk is en om daardie rede voel of hulle misluk.”

Ter voorbereiding vir die stuk het sy aangeklop by ’n vriendin wat sielkunde studeer het en haar tannie, Ilse Pauw, wat ’n kliniese sielkundige is. “Ek wil graag sien of ek op ’n manier mense kan aanmoedig om die regte hulp te soek. Ons wil almal insig kry in onsself en teater bied die geleentheid.”

Die verband tussen kuns en emosie is onmeetbaar sterk, glo sy. “Niks verwoord of druk die omvang van oorweldigende emosies soos kuns uit nie – of dit nou musiek, teater, visuele kuns of wat ook al is. Dalk is dit wat katarsis ontlok – as iemand die dinge wat diep binne jou begrawe is vir jou op ’n manier beskryf. Dit gun jou die geleentheid om dit te kan herken, ontlok en vrylaat.”

Sy het vanjaar haar meestersgraad by die Guildford School of Acting in Surrey voltooi en was beïndruk met die ondersteuning van studente daar ontvang en die gesprek oor geestesgesondheid.

“Op die kampus waar ek was, het een sentrum gefokus op fisieke gesondheid en een op geestesgesondheid, ’n sogenaamde wellness centre. By die een kan jy ’n verpleegster sien as jy verkoue het, by die ander was daar terapeute met wie jy kan praat as jy deur ’n moeilike tyd of ervaring gaan.”

“Op die kampus waar ek was, het een sentrum gefokus op fisieke gesondheid en een op geestesgesondheid, ’n sogenaamde wellness centre. By die een kan jy ’n verpleegster sien as jy verkoue het, by die ander was daar terapeute met wie jy kan praat as jy deur ’n moeilike tyd of ervaring gaan.”

Sy sou graag deur teater mense só wou raak.

Teater is van kindsbeen af in haar bloed. Haar ouma aan haar ma se kant was die aktrise Leonie Ross. “Ek’s die eerste kleinkind, so van die dag wat ek oud genoeg was om deel te neem het sy my vir omtrent elke liewe kunswedstryd ingeskryf – van mimiek tot onvoorbereide lees en alles tussenin. Sy’t my afgerig en ek was mal daaroor. Ek dink die ding wat vir my rêrig die deurslag gegee het, was dat ek op skool in twee optredes by die Kunstekaap was, Annie Get Your Gun, toe ek 11 was, en William Kentridge se The Magic Flute, toe ek 14 was. Daai bekendstelling aan die teaterwêreld was magies.”

* Van Niekerk werk later volgende jaar as regisseur saam met die dramaturg Marina Albertyn, bekend om Melk en vleis/Bloed en bodem, met Lea en Trix Viviers in die hoofrolle.

* Hettie se Kersfees word op 12 Maart om 19:00, 13 Maart om 10:00 en 14 Maart om 16:00 in die Fringe-tent by die Woordfees opgevoer.

Meer oor:  Stellenbosch  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.