Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Ek is klaar met TV, sê Nataniël
Nataniël in een van die ontwerper Floris Louw se nuwe skeppings.

“Ek is klaar met televisie. My gesig was nou sewe jaar op die skerm, eers in Die Nataniël-tafel en toe in Edik van Nantes en in al die programme fokus die kameras op die kos en niemand sien my wange hang nie.”

Nataniël is by Emperor’s Palace in Johannesburg waar sy hande in sement verewig word “sodat almal daarop kan trap”. Intussen gesels hy oor alles en nog wat én oor sy optrede in Bloemfontein.

“Ek bring stories van my vorige shows en stories van my nuwe show wat eers in Desember in Pretoria open. Ek is mos ’n hoofmeisie, ek het reeds Messengeringeoefen, al open dit eers oor twee maande.”

Een van die stories gaan oor ’n operastudent met ’n neusring, ’n ander oor die wêreld se gevaarlikste bestuurder en nog een oor hoe om die mense om jou te verbeter.

Hy is ook opgewonde oor sy nuwe liedjies “wat die hartsnare sal roer” en waarmee hy begelei word deur Charl du Plessis (klavier), Juan Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (baskitaar) en Peter Auret (tromme).

Maar waaroor hy veral in sy noppies is, is die “800 of 900 kostuums” wat hy gaan aantrek. Sy ontwerper Floris Louw het met ’n splinternuwe gedagte gespeel en hy dink dit is fantasties.

“Ek bring ook my boek Closet met foto’s van my mooiste kostuums oor 30 jaar.”

Nataniël sê hy gaan volgende jaar nét teatervertonings aanbied. Geen televisiewerk, geen feeste nie.

“Ons gaan die land plat ry totdat my rug dit nie meer kan hou nie en ek by my huis moet kom lê – en daarna ry ons weer.”

Die nuwe jaar begin vir hom egter met ’n hele maand in Frankryk waar hy en sy broer, Erik, saam gaan “konkel aan goedjies”. Wat dit gaan wees, weet hy nie. Mense daar het hulle genooi om moontlikhede te bespreek.

Die Franse se belangstelling spruit uit die opnames van die kosprogram Edik van Nantes waarvan al die reekse in Frankryk geskiet is en waar sy broer Erik woon en werk.

Gevra oor sy verskyning vandeesweek in die media, raak Nataniël geesdriftig aan die gesels oor die Optog!-projek, al is dit nie syne nie.

Hy het die advertensie gedoen en bied die eerste vertoning aan, want dit is ’n projek wat hy ten sterkste ondersteun –

om teater dwarsdeur die jaar in dorpe en stede te laat herleef.

“Baie kunstenaars gaan optree en met elke vertoning sal ’n bydrae gelewer word om die vervalle teaters of skoolsale op te knap. Die een produksie sal stoele vir die kleedkamers koop, ’n ander sal die badkamerteëls laat vervang of die beligtingstegnici oplei of advertensieborde op straat aanbring. Mense moet die Atterbury-trust in Pretoria bel om deel te word van die projek, hetsy deur ’n saal aan te bied, as borg of vir enige ander bydrae.”

Anders as in vorige jare tree Nataniël nie in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein op nie, maar in die Kopanong-Kovsiekerk.

“Ek is vir niemand kwaad nie, die Sand bly my mees geliefde teater in die hele wêreld, maar ek gaan nie terugkeer voordat die lugreëling nie werk nie. ’n Mens sweet soos ’n os op daardie verhoog. Gelukkig is daar ook die ou Kovsiekerk.”

* Nataniël in Concert: 18 en 19 Oktober om 19:30 in die Kopanong-ouditorium. Die kaartjies kos R160 by Computicket.

Meer oor:  Nataniël  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.