Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Elsa Joubert se ‘Spertyd’ na Die Boer in Durbanville
Sandra Prinsloo pak ‘Spertyd’, ’n verwerking van Elsa Joubert se outobiografiese boek, aan.

Dit het hom soveel begrip gegee vir die ouer mense in sy lewe en die oortuiging dat jonger mense soveel by ouer mense kan leer. So het die regisseur Philip Rademeyer aan Laetitia Pople vertel oor sy verwerking van Elsa Joubert se laaste boek, Spertyd

’n Eenvroustuk gegrond op Elsa Joubert se laaste outobiografiese boek, Spertyd, open op 3 November in Die Boer-restaurantteater in Durbanville.

Dit is die première van die langverwagte stuk, met Sandra Prinsloo, wat vanjaar op die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom sou debuteer. Hoewel die fees weens die Covid-19-pandemie nie kon plaasvind nie, gaan van die projekte onder aanvoering van Alexa Strachan, die feeshoof, nog voort.

Die verwerker en spelleier van Spertyd is Philip Rademeyer, wat pas vandeesweek met ’n ATKV Woordveertjie vereer is vir sy jongste toneelstuk, Opdrifsel.

In Spertyd praat Joubert uit die vuis oor haar senior jare as weduwee in ’n aftreeoord in Kaapstad, haar ervaringe van die hede en die onlangse verlede. Sy deel eerlik met die leser uit ’n leeftyd se herinneringe en skryf ook oor die ouderdom se aftakeling van liggaam en gees. Dit is die slot van haar gevierde outobiografiese trilogie, wat begin het met Wonderlike geweld in 2005 en Reisiger in 2009. Sy is vroeër vanjaar op 98 oorlede.

“Die eerste lees het my diep geraak, veral die eerlike en weerlose manier waarmee sy met intieme temas soos oudword, die dood, verlies en selfondersoek omgaan. Dit is meesleurend, beeldskoon, hartverskeurend en soms ook diep snaaks,” het Rademeyer gesê.

Philip Rademeyer het Elsa Joubert se laaste boek, die outobiografiese ‘Spertyd’, vir die verhoog verwerk. Foto: Stefan Erasmus

Kort voor haar afsterwe het Joubert sy teksverwerking gelees, en was sy opgewonde oor Prinsloo se vertolking van haar lewensverhaal. Ná haar dood het haar familie die verwerkings nagegaan.

Die teks het sy oë oopgemaak vir dinge wat hy as (relatiewe jong mens) vanselfsprekend aanvaar. “Beweeglikheid, geheue, die sintuie en kommunikasie. Dit het my meer begrip gegee vir die ouer mense in my lewe en hopelik meer geduld. Joubert skryf oor mense in aftreeoorde as ‘skynmense’ wat ‘skimlewens’ lei. Dit is vir my verskriklik hartseer, veral omdat hierdie mense juis soveel lewenservaring het en die jonger geslagte soveel by hulle kan leer.”

Dit is die dramaturg, bekend om dramas soos The View, Siembamba, Wild en Klippewat val, se eerste verwerking van ’n bestaande teks. Dit het ’n paar keer se lees en herlees geverg en hy noem dit “ ’n wonderlike proses” om as skrywer so te kan skaaf en terugvoer te kry van drie vroue (Prinsloo en die vervaardigers Strachan en Margit Meyer-Rödenbeck) wat soveel van teater weet. Die eerste weergawe wat hy aan die span gestuur het, was sy sesde. En ’n ander weergawe was drie uur lank. Daar is ook baie getimmer in Zoom-sessies aan die teks, vertel hy. “Teksskryf van ’n oorspronklike teks is soos legkaartbou, waar jy stukkie vir stukkie aan die prentjie bou. Met ’n verwerking het jy egter die klaargeboude legkaart voor jou, nou moet jy ’n nuwe een bou en van die stukke weggooi. Dit was besonder uitdagend, ook omdat Spertyd niefiksie is. Ek moes ’n dramatiese arc met ’n duidelike begin, middel en einde vir die verhoog vind en getrou aan die bronteks bly.”

Die boek handel oor ’n wye verskeidenheid temas, maar soos Joubert self sê, “dit is ’n reis deur die kontinent van ouderdom”, vertel Rademeyer. “Die drama is nou gefokus op die fisieke en geestelike uitdagings, probleme, vreugdes en aanvaarding van die ouderdom en die dood.”

Daarby wou hy graag weer saam met Sandra Prinsloo werk. Hulle het saamgewerk aan Soebatsfontein.

“Ek was met Soebatsfontein nogal geïntimideer deur haar, maar dit was slegs my eie onsekerheid en twyfel wat daartoe gelei het, ek moes daaroor kom om my werk effektief te kan doen. As ’n mens en kollega is Sandra nederig, eerlik en snaaks. En sy werk ongelooflik hard en met volle oorgawe. Ons neem saam besluite en bespreek en probeer dinge. Dit was ’n goeie geleentheid om mekaar as mense en mede-teatermakers te leer ken.”

Temas, wat ook in die repetisieproses na vore kom, was die “waarde van medemenslikheid en deernis”.

“Ek hoop die gehoor ervaar dit ook, soos ons dit ervaar het”.

Prinsloo is nou al ’n gedugte teenwoordigheid op die verhoog. Daarby het sy ’n slag met eenvroustukke. Dink maar aan die onlangse Kamphoer en Oskar en die pienk tannie. In Spertyd kyk haar karakter terug op ’n vol lewe, van haar kinderjare, haar huwelik, tot waar sy tans as weduwee in ’n aftreeoord woon.

• Spertyd word van 2 tot 6 November om 20:30 in die Boer-teaterrestaurant opgevoer en van 7 tot 8 November om 13:30 en 20:30. Die klankbaan is geskep deur Simon Kohler. Dit word ondersteun deur: Aardklop, NATi, LW Hiemstra Trust, Clemengold en RSG.

Ouerbegeleiding word aanbeveel. Kaartjies kos R200. Skakel 021 979 1911 of bespreek aanlyn by www.dieboer.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.