Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
En tog lag die gehoor op die verkeerde plekke . . .

Antoinette Kellermann, Neels van Jaarsveld en Anna-Mart van der Merwe in Koningin Lear.Foto: Nardus Engelbrecht

Hoekom skater gehore so op die verkeerde plekke, dikwels in tragiese oomblikke? Hoekom het Tom Lanoye se briljante ‘Koningin Lear’ se openingsaand in ’n komedie verander? Melvyn Minnaar besin oor die stand van teatergehore.

In Shakespeare se tragedies is daar flitse van humor wat die onafwendbare noodlottige afloop van die drama gewoonlik sinapties herlaai.

In die meesterlike King Lear is dit die nar Fool wat grappies maak en spot met die koning se irrasionele optrede. Maar uiteindelik stort alles op die verhoog ineen in bitter menslike tragedie. Lear as slagoffer van hubris, van demensie ’n gevallene.

Met die openingsaand verlede week in die Baxter van Tom Lanoye en Antjie Krog se skitterende herverbeelde weergawe, Koningin Lear, was dit asof hierdie diepverruklike tragedie skielik in ’n komedie verander het: die gehoor (uitgelese, sou ’n mens skat, uitgenooi vir die opening) het soms so geskater dat van die knap teks en slim spel verlore gegaan het.

Waarvoor het hulle so kliphard gelag? Vir vloekwoorde natuurlik. Ai.

My vraag is eintlik bedrukkend: is dít die stand van Afrikaanse toneel? Is dít hoe Afrikaanse gehore reageer? En erger: is dít wat hulle op verhoë wil sien? Of het die groot tradisie van Afrikaanse drama in die niet verdwyn?

Veral Lear is ’n merker.

In Mei 1971 open die Nico Malan-skouburg (vandag genadiglik bekend as Kuns­tekaap – as die bestuur soms onthou om die Afrikaanse naam te gebruik!) triomfantelik met Koning Lear.

En nie sonder omstredenheid nie.

Uys Krige, aan die kruin van sy woordkunstenaar-loopbaan, vertaal die Shakespeare-tragedie met liriese vernuf in opdrag van Kruik. ’n Fortuin word bestee.

Die avant-garde Duitse regisseur Dieter Reible behartig die opvoering. Die land se voorste manlike akteur van sy tyd, Cobus Rossouw, betree die verhoog in ’n slepende kleed van egte haanvere. W.E.G. Louw skryf die ganse kunsbladsy vol met sy kritiese resensie.

Dié opvoering sal staan in die geskiedenis as mylpaal vir wat was en sou kom in Afrikaanse toneel: Bedrewe dramaturge en verhoogmakers soos onder andere Pieter Fourie, Bartho Smit, Chris Barnard, P.G. du Plessis, Reza de Wet en ja, skitterende vertalings van selfs die klassieke werke verryk die taal en ons lewe.

Waar staan ons vandag? Is daar straks ’n diskonneksie tussen woord, intrige, spel en gehoor wat Afrikaans toneel betref?

Koningin Lear is skitterend verbeel in terme van eietyds kwessies, wat die intriges betref, en die huidige toneelaanbieding is hiperbewus van resente kommunikasie.

En tog lag die gehoor op verkeerde plekke.

Meer oor:  Koningin Lear  |  Baxter  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.