Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Endgame’ is stuk van jaar
Anna-Mart van der Merwe

Die Afrikaanse stuk Swerfgoed en die Engelse produksie Endgame het drie Fleur du Cap-pryse elk gewen. Drie pryse is ook toegeken aan Kudu.

Die pryse is Sondagaand by ’n spoggeleentheid in die Kunstekaap-teatersentrum oorhandig. Dis die 54ste keer dat die pryse vir uitnemende werk in teater toegeken is.

Swerfgoed spog met pryse vir die beste aktrise in ’n hoofrol (Anna-Mart van der Merwe), beste ondersteunende aktrise (Nicole Holm) en beste akteur in ’n ondersteunende rol (Richard September). Die stuk het ses benoemings vir die gesogte teaterpryse gehad.

Die stuk is ’n produk van die eerste Teksmark en is geskryf deur Bauke Snyman, en Tinarie van Wyk Loots het haar debuut as regisseur met die stuk gemaak.

Ryan de Villiers

Van der Merwe het verlede jaar in ’n onderhoud oor haar rol gesê dis “iets akuut, rou, nuut en energiek, selfs gevaarlik”. Die eerste keer toe sy die teks gelees het, het sy geweet sy moet fiks word vir die rol.

Die beste akteur (Andrew Buckland) en beste regisseur (Sylvaine Strike) kom uit Endgame. Dié stuk is ook as die beste produksie van die jaar bekroon.

In haar resensie van die stuk, wat verlede jaar in Augustus in die Baxter-teatersentrum opgevoer is, het Marina Griebenow Buckland se vertolking van Hamm beskryf as “sentraal tot jou sielevreugde” en “verbysterend”.

Sy het onder meer gesê sy vertolking “behoort as woordeboekdefinisie van ’n kragtoer te staan”.

Die stuk Kudu deur Lwanda Sindaphi is aangewys as die beste nuwe Suid-Afrikaanse teks. Die rolverdeling het die prys ontvang vir die beste ensemble en Sindaphi is die beste nuwe regisseur.

Die rolverdeling van Kudu.

Die musiekspel Matilda the Musical is eweneens met drie pryse huis toe met wenners in die afdeling vir beste akteur (Ryan de Villiers), ondersteunende aktrise (Bethany Dickson) en stelontwerp (Rob Howell).

Rehane Abrahams se Womb of Fire is in ses afdelings benoem en is uiteindelik bekroon met twee pryse – vir haar as beste in ’n revue, kabaret of eenpersoonstuk en Lukhanyiso Skosana vir oorspronklike musiekuitvoering.

Saul Radomsky

Die bekroonde stelontwerper Saul Radomsky is vir sy lewenswerk vereer en Theatre Arts Admin Collective het die prys vir vernuwing ontvang.

David Kramer en Amy Jephta het dié pryse aan die wenners oorhandig.

Die regisseur van die program by die prysuitdeling was Mbongeni N. Mtshali, wat in 2016 die Fleur du Cap-prys vir beste nuwe regisseur ontvang het. José Dias was die musiekregisseur en kunstenaars wat opgetree het, was Nomfundo Xaluva, Dizu Plaatjies, die Sibonele-dansgroep, die Township Opera Company, die Universiteit Stellenbosch se jazzorkes en die Zip Zap-sirkus.

Die Fleur du Cap-paneel het na 87 produksies gekyk om die bestes aan te wys in die 26 kategorieë. Dit sluit in die prys vir lewenswerk en beste vernuwing in teater. Daar is nie vanjaar 'n Encore-prys toegeken nie. Die paneel het bestaan uit die voorsitter, Melanie Burke, Africa Melane, Beverley Brommert, Eugene Yiga, Lwando Scott, Griebenow, Maurice Carpede, Peggy Mongoato, Tracey Saunders en Wayne Muller.

Die volledige lys van wenners is:

*Belowendste student: Nancy Sekhokoane (Afda)

*Teaterproduksie vir kinders en jong gehore: Vlooi en die musiekfabriek/Kipper and the Music Factory: Marinda Engelbrecht en Margit Meyer-Rödenbeck).

*Nuwe Suid-Afrikaanse teks: Kudu: Lwanda Sindaphi).

*Nuwe regisseur: Lwanda Sindaphi.

*Optrede in ’n revue, kabaret of eenpersoonstuk: Rehane Abrahams in Womb of Fire in verskillende rolle.

*Ondersteunende rol in musiekspel of musiekteater (vroulik): Bethany Dickson in Matilda the Musical as Miss Honey.

*Ondersteunende rol in ’n musiekspel of musiek­teater (manlik): Msizi Njapha in Tsotsi the Musical as Boston.

*Ensemble: Die rolverdeling in Kudu.

*Akteur in musiekspel of musiekteater: Ryan de Villiers in Matilda the Musical as Miss Trunchbull.

*Aktrise in ’n musiekspel of musiekteater: Carmen Pretorius in The Sound of Music as Maria Rainer

*Beligtingsontwerp: Gareth Hewitt Williams vir The Curious Incident of the Dog in the Night-time.

*Stelontwerp: Rob Howell vir Matilda the Musical.

*Marionet-ontwerp: Janni Younge vir die baba in Tsotsi the Musical.

*Kostuumontwerp: Andrea van der Kuil en Sue Steele vir Curse of the Starving Class.

*Klankontwerp, oorspronklike komposisie of klankbaan: Lukhanyiso Skosana vir Womb of Fire vir oorspronklike *musiekuitvoering.

*Operasanger: Bongani Kubheka in Don Pasquale as Don Pasquale.

*Operasangeres: Janelle Visagie in La Voix Humaine as Elle.

*Ondersteunende akteur: Richard September in Swerfgoed in verskillende rolle.

*Ondersteunende aktrise: Nicole Holm in Swerfgoed as Aegistha.

*Aktrise: Anna-Mart van der Merwe in Swerfgoed as Esta.

*Akteur: Andrew Buckland in Endgame as Hamm.

*Regisseur: Sylvaine Strike vir Endgame.

*Beste produksie: Endgame (Baxter-teater en Derek Lubner).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.