Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Finaliste vir Basa-pryse bekend

Die Nasionale Kunstefees en Riebeek-Kasteel se Royal Arts Town-amfiteater (Rata) is almal ’n benoeming of twee vir ’n Basa-prys ryker.

Dié pryse word vir die 24ste keer deur die organisasie Business and Arts South Africa (Basa) uitgedeel en word vanjaar oudergewoonte in samewerking met die versekeraar Hollard aangebied.

Die Basa-pryse bekroon jaarliks die beste kunsteprojekte wat saam deur die private sektor en kunste-organisasies geskep is.

Volgens Charmaine Soobramoney, Basa se voorsitter, gaan vanjaar se prysuitdeling pryse in sewe kategorieë uitdeel wat die kollig gaan plaas “op die talle maniere waarop die sake- en kreatiewe sektor suksesvol saamgewerk het, ondanks die uitdagings wat die pandemie die afgelope jaar daar gestel het”.

Die tema van vanjaar se prysuitdeling is juis daarom Rise, sê Ashraf Johaardien, Basa se hoof, in ’n verklaring. Die tema is deels deur Maya Angelou se gedig “Still I Rise” geïnspireer.

“Ons het gedink dit is belangrik om die veerkragtigheid van die kunste en die sakevennootskappe wat hulle gehelp het om kop bo water te hou, te erken en te huldig,” sê hy.

Onder die 20 finaliste is die Nasionale Kunstefees, wat verlede jaar en vanjaar danksy die steun van Standard Bank aanlyn aangebied is. Dít het hulle twee benoemings besorg – een vir innoverende aanbiedinge en nog een vir inhoud wat oor grense heen aanklank vind.

Die Internasionale Openbare Kuns-fees (IPAF), wat in samewerking met AkzoNobel Suid-Afrika en Dulux Suid-Afrika jaarliks in Kaapstad aangebied word, kom in aanmerking vir die Sponsorship-In-Kind-prys. Ondernemings wie se steun grootliks niefinansieel is, kom vir dié prys in aanmerking.

Die IPAF sal in dié kategorie moet meeding teen onder meer die Rata vir hul somerteaterseisoen, wat in samewerking met die Royal Hotel Riebeek-Kasteel en Arts Town Riebeek Valley aangebied is.

Ook die UJ-kunsgalery van die Universiteit van Johannesburg het twee benoemings met hul vennoot MTN vir twee afsonderlike projekte gekry: UJ’s Moving Cube Breaks Ground with MTN’s Blind Alphabet en UJ Art Gallery and MTN SA Foundation Partnership.

Van die ander benoemdes sluit in die Outreach-stigting, die Artist Proof-ateljee, die Rainbow-akademie, die Nasionale Kunsteskool en die Spier-kunstetrust. Besoek www.basa.co.za vir ’n volledige benoemingslys.

Die wenners word op 30 Augustus bekend gemaak.

Meer oor:  Standard Bank  |  Maya Angelou  |  Dulux  |  Universiteit Van Johannesburg  |  Mtn  |  Hollard  |  Naf  |  Nasionale Kunstefees  |  Basa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.