Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Flikkerende vlam van hoop in ‘Train Driver’
Dawid Minnaar in n toneel uit The Train Driver.

In Athol Fugard se drama The Train Driver neem Dawid Minnaar die gehoor na ’n draaipunt in die donkerte. Johan Myburg het die intense drama oor die mens se verbondenheid aan mekaar beleef.

In Athol Fugard se uitgebreide teaterskat is The Train Driver ’n onlangse verhoogteks, een wat in 2010 sy eerste draai op die verhoog gemaak het, en daarmee saam ’n werk wat dalk meer selfreflekterend van aard is as van sy vroeër werk.

Ten diepste is dit ’n verhaal van interverbondenheid wat die karakters Roelf Visagie, die treindrywer, en Simon Hanabe, ’n grafgrawer, self nie verstaan nie. Nietemin keer dit hulle nie om aspekte daarvan te verken in die kort tydjie wat hulle saam deurbring nie.

Die idee vir die stuk het Fugard in 2000 in ’n koerant gekry: ’n Berig van ’n vrou met vier kinders wat dood is toe sy met hulle voor ’n trein ingespring het.

In sy verwerking van dié gegewe tot drama fokus Fugard op die treindrywer wat na dié onbekende vrou en haar kind se graf gaan soek. Daar kom Roelf vir Simon teë en hy bly uiteindelik ’n paar dae oor by Simon in sy plakkershut. Fugard verplaas die gegewe ook na die Port Elizabeth-omgewing, soos in soveel van sy ander verhoogtekste.

Gedryf deur woede omdat die vrou sy lewe verwoes het deur met haar kind op haar rug voor sy diesellokomotief te gaan staan, kom hy uiteindelik op ’n verlate begraafplaas af waar die naamloses begrawe word, met grafte wat die grafgrawer merk met leë Coke-bottels en wieldoppe.

Roelf, vertolk deur Dawid Minnaar, betree, meer as net die begraafplaas, ook die wêreld buite sy wit voorstedelike bestaan met die beterweterigheid van ’n bevoorregte terwyl Simon, vertolk deur John Kani, ligweg geïrriteerd is met dié wit man tussen die grafte en hom so gou as moontlik daar wil wegkry. Ook omdat dit gevaarlik is.

Minnaar bring die woede, die waansin en die wete dat Roelf alles – vrou, werk, huis, die lewe soos hy dit geken het – verloor het kragtig aan die orde. Hy is tussen die siele sonder liggaam, tussen die dooies sonder naam, ’n man met ’n naam, maar weliswaar ’n liggaam sonder ’n siel.

Minnaar bring die woede, die waansin en die wete dat Roelf alles – vrou, werk, huis, die lewe soos hy dit geken het – verloor het kragtig aan die orde. Hy is tussen die siele sonder liggaam, tussen die dooies sonder naam, ’n man met ’n naam, maar weliswaar ’n liggaam sonder ’n siel. As hy Rooidoek, soos Roelf na die vrou verwys omdat sy ’n rooi doek om die kop gehad het toe sy voor die trein gestaan het, kan vloek en vervloek, glo hy, sal dit hom beter laat voel.

In Charmaine Weir-Smith se regie trek die gewig wat Fugard reeds aan die Roelf-karakter ten koste van die Simon-karakter gee, die skaal nóg meer na die wêreld van die wit ervaring deurdat Kani gewoon klankbord word. Hy speel met wysheid en insig, maar sy Simon ruik nie na grafgrawer nie. Die swart ervaring van armoede en ontbering word geïmpliseer, maar kwalik verbeeld.

Minnaar neem die gehoor saam op sy tog na die draaipunt in die donkerte as Simon die kers uitblaas, saam op sy tog van “getraumatiseerde treindrywer” tot iemand wat “die kans het om iets te kan doen”.

Dit is dié flikkerende kersvlam van hoop wat die interverbondenheid aanvuur, en wat ’n mens kan neem van woede na begrip van iets wat jy andersins kwalik kan verstaan.

* Tot 3 Junie in die Markteater in Newtown, Johannesburg. Navrae: 011 832 1641/2/3.

Meer oor:  Teater  |  John Kani  |  Johannesburg  |  Markteater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.