Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Frank-N-Furter is Urbani se ‘droomrol’
Craig Urbani as Frank-N-Furter in The Rocky Horror Show.Foto’s: Jesse Kramer

Hou die visnetkouse, tulle, vals wimpers en hemelhoë hakke maar reg. ’n Blinknuwe The Rocky Horror Show is op pad na Kaapstad en daarna Johannesburg.

Die musiekteater-legende Craig Urbani gaan die ikoniese rol van Frank-N-Furter vertolk wat kultusstatus gekry het nadat Tim Curry die karakter in die 1975-fliek, The Rocky Horror Picture Show, vertolk het.

Frank-N-Furter is die derde karakter wat Urbani in ’n produksie van The Rocky Horror Show speel. Sy eerste rol was as die blonde adonis Rocky in ’n weergawe deur Colin Law in 1992.

“Toe ek aanvanklik vir die stuk oudisie gedoen het, was dit vir die rol van Brad. Ek was 21 en nog baie onervare en ek dink hulle was besorg dat my stem nog nie reg was om hom te speel nie. Hulle sê toe vir my: ‘Seun, gaan bleach jou hare en maak ’n draai by die gym.’ ”

Die daaropvolgende jaar het hy toe uiteindelik die rol van Brad teenoor Samantha Peo as Janet gespeel.

Oor die rol van Frank-N-Furter sê hy: “Ek onthou as jong akteur het ek na die fantastiese optredes van Jeremy Crutchley, Ian von Memerty en David Dennis gekyk en gedink: ‘Sjoe, ek hoop eendag kan ek daardie rol vertolk.’ ”

Craig Urbani in The Rocky Horror Show.

Urbani meen Frank-N-Furter is ’n droomrol. “Wat wonderlik van hom is, is dat hy nie lig en kamp is nie. Hy kán wees, maar al is hy baie flambojant, wissel hy van baie butch en manlik tot amper vroulik. Dié wisseling maak van die karakter ’n droom om te vertolk.

“Wanneer mense wou weet watter rol ek eendag sou wou vertolk, is dit dié een. In my kop het ek al ’n paar jaar die rol gespeel en hier is ek nou,” sê hy.

Oor gehore se verwagting om Curry op die verhoog te sien, sê Urbani: “Die optrede gaan beslis nie ’n nabootsing van Curry wees nie, maar daar is sekere elemente wat hy verewig het. Ek gaan sekere dinge wat hy so briljant gedoen het, steel, maar ook ’n paar unieke Urbani-eienskappe byvoeg. Hopelik werk dit en kom alles goed bymekaar.”

Frank-N-Furter verskil ook hemelsbreed van die karakters wat Urbani al voorheen gespeel het, soos die alfa-mans kaptein Georg von Trapp in The Sound of Music of Billy Flynn in Chicago.

“Sommige mense sukkel miskien om my as die regte keuse te sien, maar ek dink as hulle my eers leer ken in die repetisie-proses, sal hulle dalk van mening verander.”

Besig met die transformasie van Craig Urbani in Frank-N-Furter.

Vir die rol moet Urbani nie net toneelspeel, sing en dans nie, hy moet dit alles in hemelhoë hakke doen. Die skoene is spesiaal vir hom in Duitsland gemaak.

“Hulle het elke deel van my voete gemeet en die hakke is verbasend gemaklik.”

Wanneer hy die skoene uittrek, is dit egter ’n ander storie. “Dit neem my ’n paar minute langer om op te staan in die oggend, want ek kan dit aan my lyf voel. Veral my knieë en my hammies.”

Urbani meen mense is gaande oor The Rocky Horror Show. “Dit doen altyd goed wanneer dit in Suid-Afrika opgevoer word en mense is baie ontvanklik daarvoor. Daar is nooit ’n slegte tyd, en beslis nie in ons land nie, vir ’n klein bietjie ontvlugting, pret, stoutigheid, ironie en sexyness nie.”

The Rocky Horror Show begin op 6 Desember by die Kunstekaap in Kaapstad en op 17 Januarie by die Teatro by Montecasino in Johannesburg. Kaartjies kan aanlyn by Computicket bespreek word.

Meer oor:  Musiek  |  Craig Urbani  |  The Rocky Horror Show
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.