Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Frankryk slaan Ismail Mahomed wéér tot ridder

Die Franse regering het Ismail Mahomed, tans hoof van die sentrum vir skeppende kunste aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, vir die tweede keer in vyf jaar tot ridder geslaan.

Aurélien Lechevallier (links) oorhandig die eerbewys aan Ismail Mahomed. Foto: Facebook

Aurélien Lechevallier, Frankryk se ambassadeur in Suid-Afrika, het die Chevalier de l’Ordre national du mérite Maandagaand in Durban aan Mahomed toegeken vir sy bydrae tot die kunste in Suid-Afrika oor die afgelope meer as drie dekades, én die kulturele bande wat hy in dié tyd tussen Frankryk en Suid-Afrika gesmee het.

Dié eerbewys volg op die Chevalier dans l’Ordre des Arts et des Lettres wat die Franse regering in 2016 aan hom gegee het.

Mahomed, ook dramaturg, regisseur, kunste-administreerder, KKNK-direksielid en voormalige hoof van die Markteater in Johannesburg, sê aan Netwerk24 hy was omtrent uit die veld geslaan toe hy rondom die begin van die jaar ingelig is dat hy weer tot ridder geslaan word.

“Dit is vir meer as een rede ’n groot eer, nie net om vereer te word vir die internasionale brûe wat gebou is nie, maar ook in dié tyd wat kunstenaars in hierdie land ’n krisis beleef.”

Mahomed het die eerbewys opgedra aan onder andere die operasangeres Sibongile Mngoma en al die ander kunstenaars wat hul stem oor ongerymdhede by die Nasionale Kunsteraad dik maak. Mngoma het teen Donderdag reeds 29 nagte onder ’n tafel in die kunsteraad se kantore in Newtown, Johannesburg, oornag om teen hul omstrede uitbetaling van R300 miljoen se noodfinansiering te betoog.

Ismael Mahomed het die eerbewys aan die sitstakers by die Nasionale Kunsteraad opgedra. Foto: Facebook

“Ek het Sibongile en die ander kunstenaars só vereer omdat hulle eintlik die laaste jaar reeds hul stemme verhef om erkenning te kry en met respek en waardigheid behandel te word. Ek kon nie anders as om ’n prys wat my respek en waardigheid gee, met hulle te deel nie. Hulle het die afgelope maand hul families prysgegee om die land van sy kunstenaars se nood bewus te maak.”

Mahomed het onlangs ’n 11-puntplan opgestel en die Facebook-blad Educating Nathi Mthethwa geskep om die minister van sport, kuns en kultuur touwys te maak oor hoe om die kunsteraad se noodfinansieringsdebakel op te los. Talle kunstenaars het kort daarna voorgestel dat Mahomed die leisels by Mthethwa moet oorneem, maar hy sê dié rol is nie een waarna hy mik nie.

“Ek is heeltemal gelukkig daarmee om bloot geleenthede vir Suid-Afrikaanse kunstenaars te skep, hoewel ek moet sê dat ons ’n ontsaglike swak minister het – hy het net geen visie nie.

“Maar ek moet ook sê: Ons probleme gaan nie verdwyn sou hy vervang word nie. Ons het sistemiese probleme in die departement wat net van een dekade tot die volgende oorgedra word, onder meer ’n totale skeiding tussen die departement en die kunstesektor, en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid. As die minister wys genoeg was, het hy nou die sweep geklap om sy eie reputasie te red.”

Meer oor:  Markteater  |  Kknk  |  Nasionale Kunsteraad  |  Nac  |  Sibongile Mngoma  |  Nathi Mthethwa  |  Teater  |  Ismail Mahomed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.