Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Fugard se ‘Rocky Horror’ is dekade se beste musiekspel

Die akteur en sanger Brendan van Rhyn sê hy was “baie verras” toe hy die prys vir beste verhoogkunstenaar van die dekade en beste sanger van die dekade van die BroadwayWorld South Africa-teaterpryse wen.

Brendan van Rhyn as Dr. Frank-N-Furter in ‘The Rocky Horror Show’. Foto: Nasief Manie

Dié aanlyn toekenningsgeleentheid, wat jaarliks die uitblinkers in Suid-Afrikaanse teaterproduksies vereer, het weens die Covid-19-pandemie en bottoe teaters in 2020 ’n ander rigting ingeslaan: Die beste Suid-Afrikaanse teater van die hele dekade, tussen 2011 en 2020, het teen mekaar om pryse meegeding.

Teatergangers het oudergewoonte self weer die benoemings en uiteindelike wenners beslis.

Van Rhyn het albei sy pryse vir sy onvergeetlike vertolking van Dr. Frank-N-Furter in die Fugard-teater se produksie van The Rocky Horror Show gewen, wat van 2013 tot 2015 op die planke was.

Hy het nie net die rol in 444 vertonings in die karakter se hoë spykerhakke aangepak nie, maar het ook in 2013, 2014 en 2015 onderskeidelik ’n Fleur du Cap-, ’n Naledi- en ’n BroadwayWorld South Africa-teaterprys vir beste akteur in ’n musiekspel daarvoor verower.

Van Rhyn sê die twee pryse wat nou in sy skoot beland het, span die kroon op ’n wonderlike en uitdagende produksie.

“Dit was die wonderlikste prestasie om net benoem te wees – en om albei my kategorieë te wen, is iets wat vir altyd in die geskiedenisboeke opgeteken sal wees.

“Die pryse maak my ongelooflik nederig en ek is dankbaar vir almal wat vir my gestem het én dié wat my nag ná nag (tydens die speelvak) ondersteun het en aangemoedig het om net my beste te doen.”

The Rocky Horror Show het nog drie pryse gewen, insluitende beste ensemble, beste regisseur van ’n musiekspel (Matthew Wild) en – die groot prys – beste musiekspel van die dekade.

Die Fugard-teater in Kaapstad, wat waarskynlik tot die einde van die jaar weens die pandemie gesluit sal wees, het in talle ander kategorieë koning gekraai.

Die teater se aanbieding van die musiekspel Kinky Boots in 2019 en 2020 het drie pryse gewen (beste klank-, kostuum- en stelontwerp), terwyl die veteraan John Kani die prys vir beste oorspronklike draaiboek vir Kunene and the King ontvang het. Dié drama was in 2019 in die Fugard-teater te sien.

Die Fugard-teater het ook die pryse vir beste teaterpersoneel, beste voor- of ná-vertoning-eetplek (restaurant) en gunsteling- sosiale media in sy sak gesteek.

Die enigste ander vertoning wat meer as een prys kon wen, is The Curious Incident of the Dog in the Night-Time wat in 2018 in die Theatre on the Bay, ook in Kaapstad, op die planke was.

Hier is die volledige lys van wenners, wat elk betrekking op die hele dekade het:

  • Beste beligtingsontwerp: Gareth Hewitt Williams (The Curious Incident of the Dog in the Night-Time, Theatre on the Bay, 2018)
  • Beste dansateljee: Cape Dance Company
  • Beste danser: Duane Alexander (Jersey Boys, Kunstekaap, 2013)
  • Beste ensemble: The Rocky Horror Show (Fugard-teater, 2013)
  • Beste jeugteaterkamp of naskoolprogram: JATA (die Johannesburg Akademie vir Teaterkuns)
  • Beste klankontwerp: Mark Malherbe (Kinky Boots, Fugard-teater, 2019)
  • Beste kostuumontwerp: Birrie le Roux (Kinky Boots, Fugard-teater, 2020)
  • Beste kunste-opvoeder: LAMTA (Luitingh Alexander-musiekteater-akademie)
  • Beste musiekspel: The Rocky Horror Show (Fugard-teater, 2013)
  • Beste oorspronklike draaiboek: John Kani (Kunene and the King, Fugard-teater, 2019)
  • Beste regisseur van ’n musiekspel: Matthew Wild (The Rocky Horror Show, Fugard-teater, 2013)
  • Beste regisseur van ’n toneelstuk: Alan Committie (The Play That Goes Wrong, Theatre on the Bay, 2017)
  • Beste sanger: Brendan van Rhyn (The Rocky Horror Show, Fugard-teater, 2013)
  • Beste stelontwerp: Paul Wills (Kinky Boots, Fugard-teater, 2019)
  • Beste teatergeselskap: Pieter Toerien
  • Beste teaterpersoneel: Fugard-teater
  • Beste toneelstuk: The Curious Incident of the Dog in the Night-Time (Theatre on the Bay, 2018)
  • Beste verhoogkunstenaar: Brendan van Rhyn (The Rocky Horror Show, Fugard-teater, 2014)
  • Beste voor- of ná-vertoning-eetplek (restaurant): Die Fugard-teater
  • Gunsteling- sosiale media: Die Fugard-teater
Meer oor:  Brendan Van Rhyn  |  Teater  |  Kinky Boots
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.