Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Gate69 maak wonder bo wonder weer oop

Die Gate69-teater in Kaapstad gaan Woensdag wonderbaarlik heropen – dít nadat die teater likwidasie net-net vrygespring het.

Die bestuur van die Gate69-teater sug van verligting omdat die teater weer sy deure kan oopmaak. Foto: Facebook

Dié teater in Breestraat in die Kaapse middestad is op 14 Maart verlede jaar genoop om sy deure te sluit weens die staat van inperking wat 27 Maart begin het. Die teater kon eers weer op 11 September heropen, maar moes weer sy deure op 19 Desember sluit nadat pres. Cyril Ramaphosa streng vlak 3-regulasies aangekondig het.

Christopher Dudgeon, een van die teater se drie eienaars, sê hulle het byna nie dié wipwarit oorleef nie.

“Ons was basies agt uit die afgelope 12 maande gesluit, wat ’n rampspoedige effek op die bestuur van die onderneming gehad het.

“Ons het voor die begin van die staat van inperking 12 tot 15 personeellede gehad, afhangend van die tyd van die jaar. Ons moes ongelukkig die meeste van hulle aflê.”

Die spyskaart is ook geskrap en kaartjiepryse is verlaag om die kostes te beperk, sê hy.

“Dit is nie maklik om Covid-maatreëls in ’n teater te implementeer nie, veral nie in een so intiem soos Gate69 nie. So ons moes talle aanpassings maak om die protokolle na te kom.

“Ons is wel ongelooflik dankbaar dat ons teater dit tot hier gemaak het. Gate69, ’n onderneming wat talle gesê het nie gaan werk nie, het nog altyd moeilike omstandighede oorwin. Ons beplan om ook oor dié hekkie te kom.”

Hoewel Dudgeon sê dat hulle “verheug” was dat die Covid-19-regulasies onlangs verslap is en hulle nou weer kan heropen, is dit steeds ’n tameletjie om nou te swem en nie te sink nie.

“Die 50%-beperking (teaters wat net halfvol mag wees) maak sin omdat dit help om die verspreiding van die virus te bekamp, maar dit maak nie die bestuur van die onderneming maklik nie. Ons maak staat op soveel as moontlik teatergangers om kop bo water te hou.”

Brendan van Rhyn (links) en Sean John Louw is in die vertoning ‘Eros’ te sien. Foto: Justin Munitz Photography

Die teater gaan ’n tweede keer met die vertoning Eros heropen; die oorspronklike speelvak is verlede jaar weens nuwe regulasies kortgeknip.

“Die doel van hierdie vertoning is om mense te herinner dat moed, skoonheid en liefde na vore kom wanneer ons op medemenslikheid fokus,” sê Dudgeon.

“Die staat van inperking het my in ’n relatiewe diep mensehaat-krisis gedompel, en ek het hierdie vertoning geskryf as ’n oefening om myself en ander te herinner dat ons steeds ons menswees moet vier, selfs al voel dit soms soos marteling.”

Kaartjiepryse wissel van R390 tot R450. Bespreek by www.gate69.co.za of skakel 021 035 1627. Besoek ook die Facebook-blad www.facebook.com/Gate69CapeTown vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.