Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Gee jou oor aan prettige ‘time warp’ in Kaapstad
Craig Urbani as Frank-N-Furter in ‘The Rocky Horror Show’.Foto: Jesse Kramer

The Rocky Horror Show

Musiekspel

****

Die prettigste partytjie in Kaapstad is loshande The Rocky Horror Show en die gehoor se reaksie op Sondag se openingsaand het daarvan getuig.

Dié baldadige rock and roll-musiekspel is nie onbekend aan Suid-Afrikaners nie, inteendeel, soos oorsee het dit ook hier kultusstatus behaal. Die stuk is ’n parodie op tweederangse wetenskapsfiksie- en gruwelrolprente.

Dit handel oor Brad (Anthony Downing) en Janet (Didintle Khunou) wie se motor op ’n donker, stormagtige aand onderweg na hul universiteitsprofessor onklaar raak. ’n Kasteel, wat herinner aan Frankenstein se huis, is waar hulle aanklop om hulp, maar dan ontmoet hulle ’n paar vreemde karakters. Een van hulle is dr. Frank-N-Furter (Craig Urbani), ’n “sweet transvestite from Transexual, Transylvania”, wat toevallig op dieselfde aand in gepaste Frankenstein-styl iets aan die broei het.

Jarryd Nurden as Rocky en Craig Urbani as Frank-N-Furter in ‘The Rocky Horror Show’. Foto: Jesse Kramer

Só ’n premis val dikwels in min mense se smaak, maar dit is so oordadig dat dit nie anders kan as om uiters vermaaklik te wees nie.

Rocky Horror is so gewild dat sedert dit in Junie 1973 in Londen debuteer het, dit tot op hede iewers in die wêreld opgevoer word. Die stuk is ook bekend vir gehoorlede wat soos die karakters aantrek en deelneem deur op gepaste tye grappige opmerkings uit te skree en saam te dans. Dit was ook by die openingsaand die geval.

Hierdie produksie se rolverdeling skitter en dit is nie danksy die blinkers nie.

Urbani kwyt hom uitstekend van sy taak as dr. Frank-N-Furter. Nadat Tim Curry dié karakter in The Rocky Horror Picture Show verewig het, verwag gehore dikwels om vir Curry op die verhoog te sien. Dit blyk egter nie vir Urbani te pla nie, wat sy unieke Frank-N-Furter goed in toom gehou en lekker laat galop het wanneer dit nodig was. Nog akteurs wat uitgestaan het, was Khunou (Janet), Stefania du Toit (Columbia) en Kristian Lavercombe (Riff Raff).

Mooi was nog nooit lelik nie en Jarryd Nurden as die skraps geklede spiertier Rocky is geen uitsondering nie. Daar moet melding gemaak word van sy fisieke voorbereiding vir die rol, wat sy indrukwekkende akrobatiese toertjies insluit, aangesien dit nie iets is wat ’n dag of twee neem om reg te kry nie.

Wat die stuk se tegniese aspekte betref, was dit ’n fees om na te kyk. Hugh Durrant se prettige stel is slim bedink en die indrukwekkende beligtingsontwerp deur Nick Richings het nie net ingestaan vir sekere spesiale effekte nie, maar het veral gehelp om die gehoor se blik op die regte tyd op die regte plek te fokus.

Al is die stuk stout – baie stout – of jy dink dit is dalk te volksvreemd vir jou smaak, is dit steeds ’n ervaring wat jy nie moet misloop nie. Daar is nie ’n vermaakliker vertoning wat op die oomblik in Kaapstad op die planke is nie.

  • The Rocky Horror Show word tot 12 Januarie in die Kunstekaap opgevoer. Kaartjies kan by Computicket bespreek word.
Meer oor:  Rocky Horror  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.