Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Geldknyp by SAUK
RSG Kunstefees bly in die slag
‘My hart is gebreek,’ sê Amanda Strydom
Die logo van die RSG Kunstefees

Die RSG Kunstefees bly vanjaar in die slag weens die finansiële verknorsing waarin die SAUK hom bevind.

Dit is die eerste keer in 2013 aangebied en was onmiddellik ’n treffer by die luisteraars. Om dit alles te kroon, het dié eerste fees in 2014 ’n Fleur du Cap-prys vir innovasie in teater ontvang – die eerste keer dat ’n radiostasie ’n teaterprys ontvang het.

Dit het ook twee Business Arts South Africa (Basa)-pryse vir innovering ontvang.

Magdaleen Krüger, RSG-stasiebestuurder, het vroeër in die stasie se gereelde nuusbrief genoem dat die openbare uitsaaier se geldprobleme ook vir hulle beperkinge inhou.

“Die SAUK se moeilike geldelike situasie plaas uiteraard beperkinge op ons sodat ons nie noodwendig meer alle projekte en planne kan laat realiseer nie. Maar ons pas aan en weet dat dit vorentoe weer alles klopdisselboom sal gaan.”

Die RSG Kunstefees, wat vanjaar die vyfde keer aangebied sou word, het ’n verskeidenheid kuns gratis na luisteraars in al die uithoeke van Suid-Afrika en in ander lande geneem.

Vorige feeste se hoogtepunte sluit in toneelstukke soos Uys Krige se vertaling van William Shakespeare se Koning Lear en P.G. du Plessis se Teerling.

Antjie Krog se digbundel Mede-wete (wat later die Hertzogprys ontvang het) is hier bekend gestel, Hennie Aucamp se kabaret ’n Vuur gevang in glas is deur Amanda Strydom met begeleiding deur Janine Neethling opgevoer en ’n paar kunstenaars het elkeen vyf minute se stilte ontvang en moes dié stilte regstreeks op die lug verdryf.

Strydom het meer as een keer aan hierdie feeste deelgeneem.

“My hart is gebreek,” sê sy. “Die fees is so ’n oorspronklike konsep. Jy is by ’n kunstefees, maar jy is ook in jou huis. En dit het soveel mense na die radio gelok.”

Behalwe vir ’n Vuur gevang in glas, het Strydom ook verlede jaar se fees geopen met haar bekende eenvrouvertoning State of the Heart, wat ook regstreeks uitgesaai is.

“Die reaksie op my optredes tydens die feeste was fantasties. Met die opening van daardie konsert (verlede jaar) in die ateljee was dit wonderlik om voor die gehoor op te tree en te weet dat ’n halfmiljoen mense terselfdertyd by die huis ook luister.”

Strydom meen die SAUK moet hul sake regkry.

“Hulle het die potensiaal om vir soveel mense werk te skep. Dit is jammer dat die estetiese in krisistye na die agterspeen geskuif word. Laat ons hoop dat ’n engel sal kom. Iets sal moet gebeur.”

Prof. Wessel van Wyk, pianis en dosent aan die Universiteit van Pretoria se musiekdepartement, glo die kunstefees bied ’n platform aan ’n groot groep verskillende kunstenaars.

“Dit was ’n stepping stone tot soveel nuwe wonderlike dinge. Met albei die konserte waaraan ek deelgeneem het, is daar ’n album as resultaat daarvan uitgereik. Dit is jammer dat dit nie voortgaan nie,” sê hy.

Die konsert 2 tot 16 in 80 minute is tydens die fees in 2014 in die SAUK-ateljee in Auckland Park opgeneem en regstreeks uitgesaai. Salon Musiek het later ’n album van dié opname uitgereik.

Van Wyk en die orrelis Ockie Vermeulen het in die produksie 35 pedale in 2015 se fees saam opgetree.

“Toe het daar vir my ’n nuwe klank oopgemaak,” sê Van Wyk.

“Hierdie konsert was nie regstreeks nie, maar daar was baie goeie reaksie en ook hier het ’n album uit die konsert gespruit. RSG gee blootstelling aan musikante. Hulle doen baie vir musiek in die land.”

Krüger het wel in die nuusbrief laat blyk dat nie alles verlore is nie.

“Dit gaan goed met jou stasie, daar is ’n paar uitdagings en ekstra gekners op tande, maar ons beur vorentoe.

“My ervaring is dat die tussentydse raad goeie vordering maak. Die vyf van hulle werk regtig hard agter die skerms. Ek ry daagliks in die SAUK se ondergrondse parkeerterrein by die raadslede se parkeerplek verby en dan sien ek hul motors daar staan – van vroeg soggens en selfs oor naweke.”

* Dit is ook vanjaar RSG se 80ste verjaardag en nog baie programme lê voor. Ter viering van dié mylpaal het programme soos Staal Burger herleef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.