Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Geliefde Kaapse teater verkoop
Kemsley Dickinson en Tiffany Schultz is die nuwe mede-eienaars van die Alexander Bar, Café and Theatre in Kaapstad. Foto: Verskaf

Ná sowat 4 000 vertonings en byna agt jaar se kuier en jolyt, is een van Kaapstad se geliefste teaters en kuierplekke, die Alexander Bar, Café and Theatre, verkoop.

Nicholas Spagnoletti en Edward van Kuik, wat die Alexander Bar in 2011 gestig het, het op sosiale media en in ’n nuusbrief aangekondig hulle wil hulself voortaan op hul ondernemings Nitric Software Laboratory en LawPracticeZA toespits.

Hulle het die leisels van Alexander Bar reeds op 1 Augustus aan die nuwe eienaars – die egpaar Kemsley Dickinson en Tiffany Schultz en hul vennote, Kylie Schultz en Marie Vercruyssen – oorhandig.

(Tiffany) Schultz sê sy en Dickinson, ’n gekwalifiseerde drama-onderwyser en improvisasie-instrukteur, bedryf reeds sedert 2013 die Courtyard Playhouse in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate. Nadat hulle in Maart verlede jaar na Suid-Afrika teruggekeer het, het hulle begin om improvisasieklasse in Somerset-Wes, waar hulle nou woon, aan te bied.

“Ons het uitgekyk vir ’n teater of ’n ruimte waar ons ’n nuwe teater kon bou,” sê sy. “Ons het aanvanklik gekyk na ’n plek in Langstraat, maar het toe vir Nicholas ontmoet terwyl ons die gebied en die haalbaarheid van ’n teater in die omgewing nagevors het.”

Hul oë het geblink toe hulle hoor die Alexander Bar is in die mark.

“Ons het gedink dit is ’n lieflike, eksentrieke plek,” sê sy. “Dit was heel duidelik Nicholas en Edward se hartsprojek, maar dit kon baat by ’n bietjie liefdevolle aandag en praktiese sakekennis. Ons hou van sulke projekte en is gretig om enige bul by die horings te pak. Ons glo in wat ons doen en is vol selfvertroue ons kan van Alex ’n sukses maak en voortbou op die fondament wat hulle (Spagnoletti en Van Kuik) gelê het.”

Ons wil die karakter en die atmosfeer van die plek behou (...) maar ja, ’n paar veranderinge is op die horison. Positiewe veranderinge.
Tiffany Schultz

Schultz en Dickinson het groot planne vir hul jongste teatertuiste.

“Kemsley het reeds met improvisasie-slypskole begin,” sê sy. “Ons is versot op improvisasie en wil graag ons eie interne ensemble saamstel sodat ons ons eie inhoud kan vervaardig en nie net ons teater aan ander verhuur nie.

“Ons wil die slypskole ook meer gereeld aanbied en dit vir tieners en kinders aanpas, asook ’n korporatiewe opleidingsprogram op die been bring.”

Groter veranderinge is ook aan die kom, sê sy.

“Ons wil die karakter en die atmosfeer van die plek behou – ons het ’n soortgelyke estetika in ons Dubai-teater – maar ja, ’n paar veranderinge is op die horison. Positiewe veranderinge. Ons wil nie nou te veel verklap nie, maar ’n herbekendstelling lê voor en ons wil die handelsmerk ’n oormaaksessie gee, maar selfs dié planne kan steeds verander.”

Meer oor:  Teater  |  Kuns  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.