Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Glass Menagerie’ keer ná 30 j. na Kaapstad terug

30 jaar nadat Fred Abrahamse The Glass Menagerie geregisseer het, het die bekroonde teaterskepper besluit om die teaterstuk weer te pak – dié keer om die 75ste herdenking van die stuk se debuut in 1944 te vier.

The Glass Menagerie is vir die eerste keer in 30 jaar weer in Kaapstad op die planke. Foto: Verskaf

Die Amerikaner Tennessee Williams se stellig bekendste werk het ’n lang geskiedenis in die Moederstad: Dit is glo vir die eerste keer in 1949 by die Little-teater aangebied met Leonard Schach as regisseur, voor Bill Tanner in 1974 by die Space-teater in die regisseurstoel was en Abrahamse laas in 1989 in die Baxter-teater die toutjies getrek het.

Sedertdien het Abrahamse en sy vennoot by Abrahamse & Meyer Productions, Marcel Meyer, nege ander Williams-treffers op die planke gebring en hulle as kenners van sy werk gevestig. Abrahamse dra sy hart op sy mou oor sy voorliefde vir dié teaterreus.

“In sy 1953-toneelstuk Camino Real het Williams geskryf: ‘For what is the heart but a sort of instrument that translates noise into music.’ As daar al ooit ’n dramaturg was wat ’n digter van die mens se hart was, was dit Williams,” sê Abrahamse.

“Sy vermoë om die menslike toestand met al sy pyn, skoonheid en broosheid te neem en dit in toneelstukke van digterlike behendigheid en onmeetbare deernis te omvorm, maak van hom ’n dramaturg na wie se werk ’n mens keer op keer wil terugkeer.”

Abrahamse sê hy keer eers nou, 30 jaar later, na The Glass Menagerie terug omdat sy hande met soveel ander Williams-opsies vol was. Tyd het hom meer lewenservaring gegee waarmee hy “nuwe ontdekkings in die teks” maak, sê hy; dit herinner hom ook opnuut hoekom die stuk so geliefd bly.

“Dit is een van Williams se mees outobiografiese toneelstukke. Hy het sy jeug en gesinslewe in St. Louis (in Missouri) gevat en dit in ’n grootse, roerende en delikate verhoogstuk omtower.

“Hy het eintlik onopsetlik ’n universele stuk geskep, waarby gehore wêreldwyd ná 75 jaar steeds aanklank vind, omdat hy geskryf het oor onderwerpe wat so persoonlik, moeilik en privaat is.

“Dit is ook op baie vlakke ’n fundamentele familiedrama – nog ’n rede vir die stuk se langslewendheid en gewildheid.”

Fiona Ramsay. Foto: Jesse Kramer
Fiona Ramsay. Foto: Jesse Kramer
Jenny Stead en Matthew Baldwin vertolk die rolle v
Jenny Stead en Matthew Baldwin vertolk die rolle van Laura en Tom. Foto: Jesse Kramer

Die gedugte hoofrol, dié van die matriarg Amanda Wingfield, is oor die dekades heen deur van Hollywood se blinkste sterre vertolk: Laurette Taylor, Gertrude Lawrence, Jessica Tandy, Katharine Hepburn, Jessica Lange en meer onlangs Sally Field.

In Suid-Afrika het die ewe blink sterre Rosalie van der Gucht (1949), Yvonne Bryceland (1974) en Brenda Wood (1989) dié rol vertolk. Nou val dit die veteraan Fiona Ramsay te beurt.

“Fiona is tans een van ons beste hoofrolspeelsters,” sê Abrahamse. “Ons het al verskeie kere saamgewerk en vertroue in mekaar opgebou. Sy werk – en werk hard! Wanneer ongelooflike skryfwerk en ongelooflike toneelspeltalent soos in hierdie geval bymekaarkom, gebeur egte teater-magic.”

Naas Ramsay sluit die rolverdeling ook vir Matthew Baldwin, Jenny Stead en Meyer in. Die komponis Jaco Griessel het ’n klankbaan vir solotjello vir dié produksie van die stuk geskryf.

  • The Glass Menagerie is van 1 tot 30 November (Maandae en Sondag 17 November uitgesluit) in die Kunstekaap te sien. Vertonings begin om 19:30, met ’n middagvertoning op Saterdae om 15:00 (Saterdag 2 November uitgesluit). Kaartjies teen R250 kan by Computicket bespreek word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.