Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Glass Menagerie’ verdien meer steun

The Glass Menagerie

Kunstekaap-arena, Kaapstad

****

Fiona Ramsay (regs) vertolk in ‘The Glass Menagerie’ die rol van Amanda Wingfield, wat naarstig ’n huweliksmaat vir haar dogter, Laura (Jenny Stead), soek. Foto: Pat Bromilow-Downing

By Dinsdagaand se vertoning van The Glass Menagerie in die Kunstekaap-arena was daar net 17 mense in die gehoor.

Net 17.

Hoewel dié “droogte” seker nie by ’n sommerso vertoninkie vreemd is nie, maak die powere opkoms by ’n Kaapse produksie van die Amerikaanse teaterreus Tennessee Williams se stellig bekendste werk nie sin nie.

Met nabetragting kan ’n mens seker heelwat redes vir die leë teater identifiseer: tydsberekening, tam gehore, Williams-intimidasie, moontlik ook die lang speelvak.

Dié en ’n legio ander redes sê egter niks oor die gehalte van die produksie wat Abrahamse and Meyer Productions hier aanbied nie, en dit sal daarom jammer wees as gehore dit weens moegheid of ’n ander onbenulligheid oorslaan. Daar is heelwat redes hoekom die produksie verdien om elke aand tien keer meer voete as Dinsdagaand te kry.

Een rede is die regisseur Fred Abrahamse se intieme en toeganklike verbeelding van ’n teks wat meestal ’n mondvol is. Abrahamse word wyd as ’n kenner van Williams se werk beskou – hy het The Glass Menagerie ook in 1989 in die Moederstad geregisseer – en sy ervaring is merkbaar in die aanhoudende uiteenwikkeling en sameflansing van die hoofkarakters, die Wingfield-gesin, se ingewikkelde verhouding.

Fiona Ramsay sak à la Meryl Streep so diep in haar karakter weg dat ’n mens soms vir ’n wyle vergeet dit is sy op die verhoog.

Die storie speel in 1937 in St. Louis, in die VSA, af en word vertel vanuit die oogpunt van Tom Wingfield (vertolk deur Matthew Baldwin), wat in ’n fabriek moet werk om sy ma, Amanda (Fiona Ramsay), en suster, Laura (Jenny Stead), te ondersteun. Tom droom daarvan om digter te wees, maar nadat sy pa die pad gevat het, is hy onwillekeurig tot die broodwinner en man van die huis bevorder.

Tom se vertelling fokus grootliks op sy enkelouerma, wat enersyds in haar eie herinneringe van die goeie ou dae vasgevang is, maar andersyds in die hede probeer om haar volwasse kroos se toekoms met die taktiek van ’n helikopter-ma aan die gang te skop.

Wanneer Amanda, byvoorbeeld, met irriterende ywer in haar skaam dogter se liefdeslewe inmeng en Jim (Marcel Meyer) op die toneel verskyn, word die brose band tussen ma en sibbe noukeurig deur Williams bestudeer en blootgelê.

Hoewel die hele rolverdeling met hul Amerikaanse aksente beïndruk, sak Ramsay à la Meryl Streep so diep in haar karakter weg dat ’n mens soms vir ’n wyle vergeet dit is sy op die verhoog. Gehore sal aanklank vind by Amanda wat nie sonder haar kinders kan asemhaal nie, maar haarself gelyktydig ook van hulle wil loswikkel. Ramsay se vertolking van dié Sturm und Drang is gelyk aan dié wat jaarliks in Hollywood met goue beeldjies bekroon word. Dit is ’n skande dat dit Dinsdagaand met net die applous van 17 gehoorlede beloon is, hoewel ek moet sê daar was ’n poging om dit te laat klink asof sy deur ten minste dubbeld soveel mense toegejuig is.

Goeie stelontwerp deur Abrahamse en beligting deur Faheem Bardien rond die produksie goed af. Net die klankbaan het ietwat gepla: Benewens opnames is ’n tjellis neffens die verhoog ingespan, maar dit het meer afgelei as wat dit die produksie begelei het. ’n Opname van Jaco Griessel se musiek sou dalk beter gewerk het.

  • The Glass Menagerie word tot 30 November (Dinsdae tot Sondae) in die Kunstekaap-arena opgevoer. Vertonings begin om 19:30 (Dinsdae tot Saterdae), met ’n middagvertoning om 15:00 op Saterdae en Sondae (17 November uitgesluit). Kaartjies teen R250 kan by Computicket bespreek word. Die tydsduur is 150 minute, wat ’n pouse insluit.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.