Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Grafiese roman word snaakse teaterervaring

Die grafiese roman Die Avonture van Bal-Oog en Brommel: Moord in Ixiastraat kry lewe op die verhoog as bewegingsdrama of fisiese teater en word inderdaad sommer baie “kineties”.

Richard September is een van die spelers in Moord in Xiastraat: 'n Baloog-en-Brommel-avontuur.

Dit word opgevoer as deel van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en is een van verskeie produksies hier wat opnuut die fyn kuns van bewegingsdrama of fisieke drama illustreer. Binne die beperking van ’n blok bloot met maskeerband op die verhoog afgesper, speel Richard September en De Klerk Oelofse verskeie karakters en beeld talryke situasies uit. Daar word ook “tersyde kommentaar” uitgebeeld soos daar soms in strokies is. Die twee is dierbare niksnutte wat in ’n woonstelblok in Milnerton woon. Daar is nie veel te doen nie behalwe hul eie verbeeldingspeletjies en om mense met ’n verkyker te beloer. Tot iemand vermoor word . . .

Die gelyknamige roman, geskryf deur Sjaka Septembir en geïllustreer deur Willem Samuel, het in September verlede jaar op winkelrakke verskyn. Dit mag dalk op die jeug gemik wees tot jy sien hoe die gryskop voor jou skud soos hy skater – dit herinner gewis aan jou eie streke as kind. Dit is ’n verbeeldingryke, prettige en baie snaakse teaterervaring wat op verskeie vlakke tot ’n mens spreek. Verbeeldingryk omdat dit ’n oënskynlik saai, daaglikse lewe in ’n doodgewone woonstelblok in ’n opwindende avontuur verander. Jou hartklop versnel soos die gevaar toeneem waarin die twee stommerike verkeer. Jy verstom jou aan die bewegingskuns van September en Oelofse, die inherente snaaksheid wat in albei blom al trek hulle net ’n gesigspier of maak die rug effe krom. Beide akteurs is ook in ander produksies op die fees wat ander eise aan hulle stel en ’n mens is opnuut onder die indruk van hul talent. Alles op die verhoog – wat in ’n ommesientjie in ’n gekkespul kan ontaard – word behendig saamgetrek deur die regisseur Gideon Lombard. Dan is daar die gevoelvolle meelewing van Gertjie Besselsen wat ’n klankbaan skep vir Bal-Oog en Brommel se dolle ondernemings. Besselsen speel sommer self later ’n karakter.

Die Avonture van Bal-Oog en Brommel: Moord in Ixiastraat het verlede maand op die US Woordfees gedebuteer. Dit is reeds ’n wenner wat ’n mens graag in skoolsale landwyd opgevoer sou wou sien. Ouetehuise is natuurlik nie uitgesluit nie.

Meer oor:  De Klerk Oelofse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.