Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Griekse tragedie uit eietydse SA hoek bekyk
Die rolverdeling van Antigone (Not Quite/Quiet). Foto: Mark Wessels

Die Griekse tragedie Antigone, wat Sophocles sowat 2 460 jaar gelede geskryf het, gaan danksy ’n plaaslike navorsingsprojek nuwe lewe in Kaapstad kry.

Antigone (Not Quite/Quiet) is die eerste van vier nuwe tragedies wat deel vorm van die Centre for Theatre, Dance and Performance Studies (CTDPS) aan die Universiteit van Kaapstad se navorsingsprojek “Reimagining Tragedy from Africa and the Global South (RETAGS)”.

Die nuwe tragedies word in samewerking met die Magnet- en die Baxter-teater geskep en word deur die Andrew W. Mellon-stigting befonds. Prof. Mark Fleishman, hoof van die CTDPS, en Mandla Mbothwe, artistieke direkteur van die Magnet-teater, is die projekleiers.

Volgens Fleishman, wat navorsing doen oor die gewildheid van Griekse tragedies in Afrika, was ’n vertelling van Antigone vanuit ’n Afrika-perspektief ’n vanselfsprekende wegspringplek.

“(Die karakter) Antigone verteenwoordig ’n jong vroue-aktivis wat in opstand kom teen die staat, regsinnigheid en konserwatisme – ook ou tradisies en die wette van familiestamme en -groepe,” sê Fleishman, wat die regie van Antigone (Not Quite/Quiet) behartig.

“As die stem van die jong vroue-aktivis het dit veral ooreengestem met jong Suid-Afrikaners ná die #RhodesMustFall- en #FeesMustFall-bewegings, wat die afgelope paar jaar so prominent op universiteitskampusse in Suid-Afrika was. Dit stem ook nou ooreen met die betogings teen gendergeweld.

“Ek het gevoel dit spreek tot ’n spesifieke tydgees of gevoel wat tot die samelewing deurdring. Ons produksie is dus gegrond op Sophocles se Antigone, maar ons het vanuit ons huidige raamwerk daarop gereageer.”

Jennie Reznek vertolk die rol van Ismene in Antigone (Not Quite/Quiet). Foto: Mark Wessels

Fleishman sê dit bestaan uit drie dele, wat elk uit die perspektief van ’n karakter in die oorspronklike weergawe vertel gaan word: Ismene, Antigone en Teresias.

Jennie Reznek het die eerste deel, Ismene, geskryf en vertolk ook dié rol. Die tweede deel, Antigone, is ’n koorwerk waarin 13 mans en vroue saam die titelrol gaan vertolk. Dit word deels gesing. Mandisa Vundla het die teks geskryf en Neo Muyanga het die musiek gekomponeer.

“Die derde deel fokus op die stuk se Xhosa-subtitel – Ninganiki Okungcwele Ezinjeni (moenie vir honde heilige dinge gee nie). Dit verken hoe mense met mag met ons heilige drome omgaan. Dit is gegrond op ’n gedig van die Xhosa-digter S.E.K. Mqhayi.”

Benewens Reznek, sluit die rolverdeling Abigail Mei, Balindile ka Ngcobo, Carlo Daniels, Jason Jacobs, Luxolo Mboso, Kanya Viljoen, Motlatji Mjamba, Sityhilelo Makupula, Sivenathi Macibela, Sive Gubangxa, Siyavuya Gqumehlo, Sizwe Lubengu en Yvonne Msebenzi in.

Fleishman kan nog nie iets sê oor die volgende drie tragedies in die reeks nie. “Die volgende tragedie sal wel deur Mbothwe geregisseer word.”

  • Antigone (Not Quite/Quiet) is van 19 tot 28 September om 19:30 in die Baxter-teater op die planke. Saterdae sluit ’n middagvertoning om 15:00 in. Kaartjiepryse wissel tussen R100 en R150. Studente en leerlinge betaal R50 vir middagvertonings en R70 vir aandvertonings. Bespreek by Webtickets of Pick n Pay-winkels landwyd.
Meer oor:  Teater  |  Baxter-Teater  |  Antigone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.