Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Groot lag op pad in Kaapstad se eie pantomime
Loukman Adams gaan die rol van die wrede stiefma, Patricia D, vertolk in die Kaapse pantomime ‘Cinderella & FrikaDella’.

Daar is niks so feestelik soos ’n pantomime om die einde van die jaar op te vrolik en almal nuwe woema te gee nie.

Kaapstad het nie soos Johannesburg ’n tradisie van ’n pantomime elke Kersvakansie nie, maar kan nou uitsien na ’n eietydse en effe oordrewe vertelling van die bekende sprokie, Aspoestertjie, met ’n stewige storiekinkel of drie. Dit word van 23 November tot 17 Desember in die Roxy Revue Bar by die GrandWest-casino in Goodwood opgevoer.

Cinderella & FrikaDella is geskryf en geregisseer deur die vermaaklikheidster Allistair Izobell.

“Dit is ’n groot uitdaging om jou in Janice Honeyman (wat gewoonlik die pantomimes in Johannesburg regisseer) se voetspore te begeef. Met die moeilike jaar agter ons en met Covid-19 steeds met ons, dink ek mense wil in die stadium van die jaar net lag. Ons almal het van ons kinderdae af

Cheswyn Ruiters vertolk die rol van die sjarmante prins in die pantomime ‘Cinderella & FrikaDella’. Foto: Peter Abrahams

’n mooi herinnering aan Aspoestertjie. Daarom wou ons dit lewend doen. Daar is geen manier dat ’n mens ’n panto aanlyn doen nie,” sê Izobell.

“’ n Mens het die interaksie van die gehoor nodig, hulle raak mos lekker opgewerk met die onderstebo storie en karakters.”

In ’n poging om by te bly met alles en almal beraam die talent-agent en wrede stiefma Patricia D slinkse planne om haar talentlose dogters, Frika en Della, te bevoordeel.

Dan hoor hulle van ’n reuse-talentkompetisie. Cinderella, Patricia D se afgeskeepte stiefdogter, skryf in die geheim aanlyn daarvoor in.

Die talent van Cinderella is ooglopend, maar sy word geïgnoreer, stief behandel en verdruk in die huis terwyl haar talentlose stiefsusters bevoordeel word. Tog blyk dit dat sake nou gaan verander.

“Daar is baie lag, lekker slapstick, ons Cinderella beland in die toptien. Dit sorg vir groot stories.”

Izobell het die rolverdeling so saamgestel dat dit ’n mengsel van veterane soos Nur Abrahams en Loukman Adams, asook jonger kunstenaars soos Nicoleen Saal, ten beste vertoon.

Saal is Cinderella. Sy is die wenner van die tweede seisoen van Maak my famous. Teenoor haar as die wrede stiefma in ware pantomime tradisie speel Adams die uitspattige Patricia D. Abrahams is Frika en Daylin Sass is Della, die wrede en norse stiefsusters. Die prins word gespeel deur Cheswyn Ruiters, wat die eerste seisoen van Maak my famous gewen het. In die rol van die goeie fee skitter Ramaine Barreiro.

“Mense vergeet dalk hoe snaaks Loukman is, hulle dink hy sing net, maar die man het ’n stewige streep satire, hy laat jou groot lag,” sê Izobell.

Cinderella & FrikaDella word van Dinsdae tot Saterdae om 20:00 opgevoer en daar is middagvertonings op Sondae om 16:00. Geen kinders jonger as drie word toegelaat nie. Kaartjies kan bespreek word deur Quicket (www.quicket.co.za). Kaartjies vir die vertonings in die week kos R120 en die naweek R150. Streng Covid-19-protokol word gevolg.

Meer oor:  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.