Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Grootste kunstefees gedenk oorlog
Anna Meredith Foto: Kate Bones

Vanjaar se internasionale kunstefees in Edinburg gedenk die Eerste Wêreldoorlog, wat 100 jaar gelede in 1918 tot ’n einde gekom het nadat dit in 1914 uitgebreek het.

Dié fees wat in Augustus in die Skotse hoofstad aangebied word, is juis in 1947, twee jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog (1939 tot 1945) begin as ’n poging om kunstenaars van verskillende lande, wat deur die konflik van die oorlog uitmekaargeskeur is, te verenig. Dit is die grootste kunstefees ter wêreld.

Verskeie produksies vanjaar probeer om die mensdom se bande met die verlede te beklemtoon, ’n stem te gee aan die stemlose, eenheid deur dans aan te moedig en ’n Skotse komponis se verlore werke weer te laat opklink. Klassieke tekste word weer op die planke gebring en ’n gesoute teaterregisseur keer terug met ’n splinternuwe stuk.

’n Nuwe produksie van die Ierse dramaturg Samuel Beckett se Waiting for Godot, wat as die beste weergawe van die ikoniese teks die afgelope kwarteeu beskou word, word opgevoer. Die regisseur is Garry Hynes.

Marty Rea as Vladi­mir en Aaron Monaghan as Estragon in ’n toneel uit Waiting for Godot, deur Samuel Beckett. Foto: Matthew Thompson

Die veteraan- Britse teaterskepper Peter Brook keer terug met ’n splinternuwe stuk, The Prisoner, in samewerking met sy jaarlange meeloper, Marie-Hélène Estienne. Die stuk belig misdaad, skuld, geregtigheid en wie die reg het om daaroor te besluit.

Gehore kan ook uitsien na die multimediaproduksie Five Telegrams, wat handel oor sensuur en propaganda. Dit is geskep deur die Britse komponis Anna Meredith in samewerking met die teatergroep 59 Productions.

Meredith soek daarin ooreenkomste tussen die Eerste Wêreldoorlog en vandag deur te fokus op telegramme wat die jong soldate uit die loopgrawe aan hul geliefdes gestuur het.

Die choreograaf Akram Khan groet met sy laaste dansstuk, Xenos (Vreemdeling). Daarin put hy uit eerstehandse vertellings uit dagboeke en briewe van die sowat 1,5 miljoen miskende Indiese soldate wat deel was van die Britse weermag en wat as die ‘the army of sepoys’ bekend was. Sy ander werk op die fees is ook deur die oorlog geïnspireer en heet Kadamati.

’n Blik op die Skotse hoofstad, Edinburg, in die nag.Foto: Michael Bryant

Daarin laat val hy die kollig op identiteit, migrasie en hoop.

Honderde plaaslike mense van verskillende agtergronde en vermoëns sal in die loop tot die fees saam dans in die voorplein van Holyrood Street om diversiteit en eenheid uit te beeld.

Die nasionale jeugorkes van Skotland gaan musiek van die jong Skotse komponis Cecil Coles (1888 tot 1918) wie se handgeskrewe musiekmanuskripte uit die loopgrawe aan ’n vriend gestuur is, uitvoer. Hy het aan die westelike front gesterf terwyl hy beseerdes na veiligheid gedra het. Hy was net 30 jaar oud en sy werke was lank verlore.

Die geskiedkundige Edinburg skud sy vere reg vir ’n ontploffing van klassieke musiek, dans, opera, buitelugbedrywighede, gesprekke en werksessies in teaters van wêreldklas.

* Die fees vind plaas van 3 tot 27 Augustus in Edinburg, Skotland.

Meer oor:  Augustus 2018  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.