Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Hanekom en Phillips oor Akademiepryse
Nicola Hanekom

In ’n tyd waar al hoe meer toneelskrywers na die skryf van draaiboeke vir rolprente beweeg, en die pandemie teater erg geknou en tot halt geroep het, is dit baie spesiaal om die Hertzogprys vir drama te wen.

So sê die veelbekroonde dramaturg en aktrise Nicola Hanekom, vanjaar die wenner van die Hertzogprys vir drama. Sy wen dit vir haar toneelstuk In glas.

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans genl. J.B.M. Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa.

“Ek kon net die woord ‘sjoe’ en toe ‘dankie’ uitkry, toe hulle my bel. Ek voel bietjie weggeblaas.

“Ek voel nie soos die ware Jakob nie, ek voel ’n bietjie soos ’n swendelaar, wat skryf om werk te skep en te eet. Soveel wonderlike skrywers, my helde soos Reza de Wet en ook Tertius Kapp, het al die prys gewen.”

In In glas betree Hanekom die intiemste ruimte, die slaapkamer van ’n paartjie wat smag na ’n kind en in vitro-bevrugting ondergaan. “Dit was nie ’n maklike stuk nie, nogals serebraal, en dit kom uit ’n moeilike plek, mense wat nie kan kinders kry nie, dit slaan jou ook as jy skryf.”

Sy verwys onder meer in die stuk na die herhaalde besoeke aan on­sim­­patieke dokters, die mono­tonie van seks wat gemonitor word, die aftakeling van ’n man en vrou wat gereduseer word tot hul voortplantingsorgane tot die astronomiese koste aan in vitro-bevrugting ­verbonde.

Dit is op die KKNK opgevoer met Tinarie van Wyk Loots en Paul du Toit en die teks is in 2018 uitgegee deur Protea.

Jolyn Phillips

Op die kortlys was: Philip Rademeyer met Wild en Klippe wat val, Wessel Pretorius: Die ontelbare 48, Marina Albertyn met Melk en vleis en Bloed en bodem en Antjie Krog met Met die oog op môre.

“Hierdie eer, die eer om die Eugène Marais-prys te wen is ‘Die dans van die reën’," het die digter en wenner van vanjaar se Eugène Marais-prys, Jolyn Phillips gesê, met verwysing na Marais se gedig waar die langverwagte reën as seën uit­sak ná ’n lang droogte. Sy ontvang dit vir haar tweede bundel, Bientang.

Dié bundel vervat ’n epiese gedig waarin die legende ondersoek word van Bientang, ’n Khoi-Strandloper wat in die vroeë 1900’s in ’n grot in Hermanus gewoon het.

Sy bring met die bundel ook ’n stuk geskiedenis na die voorgrond wat nie behoorlik opgeteken is nie. Taal word “gebreek en vervorm, !kun-woorde en verdwene kulturele praktyke kom na vore”, luidens die resensent Bibi Burger in haar resensie vir Netwerk24 en Die Burger. Sy skryf voorts dat dit nie net ’n “polities noodsaaklike bundel is nie, maar ook lieflik en verbysterend”.

Die kortlys was soos volg: Lynthia Julius: Uit die kroes, Francois Smith: Die kleinste ramp denkbaar, en Madré Marais: Luistervink.

Die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur word driejaarliks toegeken. Vanjaar is die wenner Fanie Viljoen (skrywer) en Tumi K. Steyn (illustrasies) vir Die dag toe die draak kom.

Die boek takel die seksuele misbruik van kinders en dien om kinders in te lig en te bemagtig. Deur middel van ’n karakter en storie waarmee kinders kan identifiseer, word die gevaartekens van seksuele misbruik uitgewys en riglyne gebied oor hoe om in sulke situasies op te tree. Weergawes vir seuns en meisies het verskyn.

Die kortlys was: Adeline Radloff (skrywer) en Alex van Houwelingen (illustrasies): Die skandalige susters Smit, Gertie Smit (skrywer) en Samantha van Riet, Tasia Rosser, Melany Pietersen en Steyn (illustrasies) vir Stories vir pikkies en peuters en Jaco Jacobs (skrywer) en Yolandi Prins (illustrasies): Moenie die melk vergeet nie.

  • Hennie Loock, eertydse dirigent van die veelbekroonde Tygerberg Kinderkoor asook onderwyser, ontvang die Huberte Rupertprys vir klassieke musiek. Loock het in 2018 uitgetree.
  • Die kunstenaar Johann Louw ontvang ’n erepenning vir visuele kunste.
  • Christiaan Olwagen en Charl-Johan Lingenfelder ontvang die Deleen Bekker-prys vir die beste draaiboek in Afrikaans vir die rolprent Kanarie.
  • Die akteur Marius Weyers ontvang ’n besonderse erepenning vir sy bydrae tot rolprent- en televisiekuns.
  • Gunter Pakendorf met sy vertaling Die eindelose storie is die wenner van die Elsabe Steenberg-prys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans.

Hierdie werke word gemik op lesers in die ouderdomsgroep vyf tot 12 jaar (kinderliteratuur) en tieners en jong volwassenes (jeugliteratuur).

By die beoordeling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne sy eie letterkunde geniet en op die juistheid, oorspronklikheid en gehalte van die vertaling.

Op die kortlys was: Kobus Geldenhuys se vertaling: Brug na Terabithia (deur Katherine Paterson), Philip de Vos se vertaling: Die nagbeer (deur Ana en Thiago de Moraes) en Nathan Trantraal met Lang pad onnetoe (deur Jason Reynolds).

  • Prof. Janine Allen-Spies is die wenner van die Stalsprys vir kunstewetenskappe. Sy is verbonde aan die departement visuele kunste van die Universiteit van die Vrystaat.

Sy word vereer vir haar waardevolle rol as beeldende kunstenaar, kunstenaar-akademikus, mentor, lektor, aktivis en blywende ondersteuner van uiteenlopende huidige en voormalige studente wat aktief is as kunstenaars op die Vrystaatse kunstoneel, sowel nasionaal as internasionaal.

Wenners in wetenskaplike kategorieë is ook aangewys.

Die pryse word op twee virtuele geleenthede oorhandig. Die datums van die geleenthede sal later bekend gemaak word.

Meer oor:  Akademiepryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.