Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Hier is die wenners van ATKV-Tienertoneel

Nichola Viviers, ’n matrikulant aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, is Saterdag aanlyn aangewys as die algehele wenner van die ATKV-Tienertoneelkompetisie.

Nichola Viviers Foto: Verskaf
Jeanne-Marie Koekemoer Foto: Verskaf
Merwe van Gent oto: Verskaf

Viviers (18) het dié prys met haar selfgeskrewe teks Bonuspunt gewen, wat luidens ’n mediaverklaring die beoordelaars “oorrompel” het.

Jeanne-Marie Koekemoer (16) van die Hoërskool Stellenbosch, was met haar selfgeskrewe teks Val die naaswenner, terwyl Merwe van Gent (18) van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp met Ilne Fourie se teks Ingeperk die derde plek beklee. Van Gent se monoloog is ook deur kykers as hul gunsteling aangewys.

Vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie het ietwat anders uitgesien as vroeër jare: Dit is weens die Covid-19-pandemie en die inperking in ’n monoloogkompetisie omskep. Deelnemers moes nuutgeskrewe monoloë binne ’n voorgeskrewe temawolk – huis, isolasie, ingeperk, staties, alleen – inskryf. Dié monoloë is toe onder leiding van sewe mentors – die teaterregisseurs en -akteurs Amalia Uys, André Gerber, Henrietta Gryffenberg, Ira Blanckenberg, Jacques Bessenger, Waldemar Schultz en Wilhelm van der Walt – op kamera vasgevang.

Vanjaar is 223 nuwe tekste en 255 video’s deur die paneel beoordeel, voordat ’n “super-12” aangewys is en Viviers eindelik as die wenner bekroon is.

Viviers, wat volgende jaar drama aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, sê in die verklaring sy het omtrent “paniek ervaar” toe die kompetisie weens die pandemie in ’n monoloogkompetisie omskep is en sy self ’n monoloog moes skryf.

“My eindproduk is maar eintlik ’n bewys van wat ek deur is,” sê sy.

Bonuspunt is beslis ’n rebellie teen die aannames wat daar rondom drama is en teen mense wat amper neerkyk op drama.”

Die beste nuutgeskrewe tekste in 2019 is ook tydens die aanlyn prysuitdeling aangekondig – en daar het nog ’n Vivier koning gekraai.

Pierre André Vivier was die wenner met sy teks Forte’ F: Har(t)d, wat in 2019 deur die Helpmekaar Kollege in Johannesburg opgevoer is. Jo-Aithne Stemmet was met Karnaval, wat deur die Selborne College in Oos-Londen opgevoer is, die naaswenner, en Johann Spies is derde met Met engel gesout, wat verlede jaar deur die Hoërskool Swartland in Malmesbury opgevoer is.

Die ATKV het ook vanjaar ’n digitale ATKV-Tienertoneel-monoloogbundel bekend gestel, wat bestaan uit die 48 toptekste wat in vanjaar se kompetisie ’n punt bo 80% gekry het. Dié bundel is gratis op https://atkv.org.za/media/3482/atkv-tienertoneel-monoloog-a-1-_reg.pdf beskikbaar.

JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die kompetisie, sê in ’n verklaring lesers van dié bundel sal nuwe stemme ontmoet wat nog diep spore in die bedryf gaan trap.

“Dit gaan nou stories in die volksmond word wat vlerke kry en die eiendom van ander ook word.”

  • Die ATKV-Tienertoneel se eindronde, asook Viviers, Koekemoer en Van Gent se wen-monoloë, kan op YouTube gekyk word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.