Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Hier is jou keur uit die kunste
Germandt Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar in Keelvol.

Die akteurs Germandt Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar, albei bekend om hul rolle in Binnelanders, is vandeesmaand terug op die planke met hul produksie Keelvol. Dié produksie oor ’n sangonderwyser en ’n meisie wat graag op die verhoog wil wees, is ’n bittersoet komedie wat op 22 September in die Pierneefteater in Pretoria opgevoer word.

Geldenhuys vertolk die rol van Dirk Havenga, die nuwe sangonderwyser op die dorp. Hy het ’n terugslag in die stad gehad en na die platteland verhuis. Swiegelaar vertolk Mariëtte Labuschagne, wat in ’n boekwinkel werk, maar op die verhoog wil wees. Haar eerste sangles is by die einste Dirk.

Die konsert begin om 19:00. Kaartjies kos R120.

Bel 012 329 0709 of stuur ’n e-pos aan info@pierneefteater.co.za om te bespreek.

Dawid Minnaar staan van 13 tot 30 September in die Markteater weer in sy solorol in Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran.

Dawid Minnaar in Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran. Foto: Jaco Marais

Dit vertel van Momo, ’n gekwelde Joodse seun wat ’n onwaarskynlike vriend vind in Monsieur Ibrahim, ’n eensame Moslem-winkelier. Momo se verhaal begin wanneer hy op 11 sy maagdelikheid in ’n bordeel verloor. Ibrahim leer die seun dat daar meer aan die lewe is as prostitusie en kruideniersware steel. Ná die dood van Momo se pa, ’n aggressiewe man wat sy seun verwaarloos het, neem Ibrahim die kind aan. Hulle reis deur Europa na Monsieur Ibrahim se geboorteplek en dit bring hulle albei by ’n kruispad. Die belangrikste lesse oor lewe en dood in dié snaakse en voortreflike verhaal word geleer wanneer ’n mens dit die minste verwag.

Dit word in die Barney Simonteater in die Markteater opgevoer en kaartjies kos R90 tot R150.

Die sanger Coenie de Villiers en die skrywer Deon Meyer tree op 30 September weer in die Atterburyteater op met hul produksie Karoo Suite.

Dié stuk, wat in 2017 by die KKNK in Oudtshoorn gedebuteer het, belig hul albei se liefde vir dié streek.

Die orkes bestaan uit Jaconell Mouton (klavier), ook die regisseur, David Klassen (perkussie) en Mauritz Lotz (kitaar).

Coenie de Villiers en Deon Meyer bied weer Karoo Suite aan.

Die konsert se eerste gedeelte bestaan uit De Villiers en die orkes wat ’n keur uit sy werk speel, onder meer van die komposisies op sy nuutste album Emoji. Dit sluit ook nuwe werke in wat nog nie vantevore gehoor is nie. Die tweede en grootste deel van die program bestaan uit die Karoo Suite, ’n musikale en tekswerk deur Meyer en De Villiers.

Die konsert begin om 14:00. Kaartjies kos R170 tot R190.

Bespreek by Computicket.

Die visuele kunstenaar Willem Pretorius se uitstalling Hersiening/Revision duur tot 19 September in die Tina Skukan-galery in Pretoria.

Abandoned Pool Parys 3 deur Willem Pretorius.

Sy nuwe uitstalling is 49 olieverfskilderye wat mensgemaakte strukture in die platteland uitbeeld.

Hy peuter nie aan die landskap nie – hy verf dit presies volgens wat hy afgeneem het. Pretorius beskou dit as sy dokumentering van tyd en plek binne die Afrikaanse konteks.

Die adres: Hoewe 6 Koedoebergweg, Faerie Glen, Pretoria. Bel 012 991 1733 of 083 653 6928 of stuur ’n e-pos aan rex@tinaskukangallery.co.za vir meer inligting.

Die top 100 kunstenaars in die jaarlikse L’Atelier-kunskompetisie is van 13 September af vir die publiek oop in die Absa-galery in Johannesburg.

Dié kompetisie se wenner word op 12 September aangekondig.

Vanjaar sluit kunstenaars in van Zambië, Uganda, Kenia, Botswana, Mosambiek, die Seychelle, Tanzanië, Mauritius, Ghana, Namibië, Nigerië en Suid-Afrika.

Die eerste prys beloop R300 000 kontant en ’n kunsteverblyf van ses maande in die Cité Internationale des Arts in Parys.

Die belowendste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat minder as R60 000 per jaar verdien, ontvang die Gerard Sekoto-prys. Dit bied ’n kunsteverblyf van drie maande in die Cité Internationale des Arts in Parys en word geborg deur die Alliance Française, die Franse Instituut en die Franse ambassade.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.