Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Honeyman se 30ste pantomime op planke
Janice Honeyman

Janice Honeyman sit voor die verhoog tydens ’n repetisie van ’n kleurvolle toneel uit haar 30ste “end of year grappie”.

Sy raak ’n oomblik stil en sê later net saggies die woord “ja”. Vanjaar ís die 30ste keer dat sy ’n pantomime aanbied.

Elke jaar word een in The Mandela in die Joburgteater in Braamfontein opgevoer en vanjaar kyk die gehoor na Pinocchio, die een wat tot nog toe die beste verkoop het.

Dit is ’n Britse genre en tradisie, wat sy nie geken het nie toe sy destyds opdrag gekry het om een te skryf.

“Ek was destyds by Truk en Lynette Marais het my opdrag gegee om een te skryf. Ek het gevra wat is ’n pantomime? Ek het nie geweet nie. Sy het vir my gesê: ‘Well then, my girl, you better learn.’ Sy het my natuurlik ’n bietjie daarvan vertel. Sy het gesê ek moet ’n boek gaan koop. Ek het sowat ’n maand gehad om ’n teks te lewer.”

Snow White and the Seven Dwarfs was dié pennevrug.

Sy het meer as tien pantomimes geskryf en sommiges is al meer as een keer opgevoer.

“Ek het ’n klomp plaaslik opgevoer sonder dat ek ooit self ’n ander een gesien het. So op ’n manier het ek my eie reëls daarvoor geskep. Toe Bernard (Jay, wat saam met haar die pantomimes aanbied) betrokke geraak het, het dit ’n bietjie meer van ’n Britse gevoel begin kry, maar ek probeer steeds die teks eg Suid-Afrikaans hou.”

Daarvoor dink en droom sy die pantomime eintlik die hele jaar.

Die hoofspelers in volgende jaar se pantomime, Snow White, is reeds bekend omdat hulle so lank vooraf beplan.

Die banier van die einste produksie hang reeds in die teater se portaal. Sy moet dit tussen haar ander werk doen, want die teaterproduksies uit haar kraal is baie.

Van einde Januarie is Honeyman se produksie The Color Purple ook op dieselfde verhoog as waar Pinocchio tot die einde van die jaar op die planke is.

As student aan die Universiteit van Kaapstad kon sy al die produksies so inryg.

“Ek dink in my eerste jaar was ek betrokke by 11 toneelstukke. Toe ek begin het, kon jy my nie weghou van die teater nie.”

Sy wou ’n veearts word, maar haar wiskunde was nie goed nie.

Gevolglik wis sy nie watter loopbaan om te volg nie en haar ma raai haar aan om ’n BA-graad te volg.

“Sy het gesê indien ek bietjie drama wil doen, moet ek, en dis wat op universiteit gebeur het.”

Pinocchio begin die naweek. Foto: Corné du Plessis

Sy het ook baie Afrikaanse werk gedoen, ook vertalings van Shakespeare en Tsjechof.

Sy kon Afrikaans vroeg praat.

Op laerskool het haar skool ’n stelsel gevolg van een week net Engels en die volgende week net Afrikaans.

“As jy gevang word Engels praat in ’n Afrikaanse week ... onthou jy daardie liniale met die stukkies metaal?”

Dit was tydens ’n speelvak van ’n Afrikaanse toneelstuk, haar karakter “ ’n Engelse meisie in ’n Afrikaanse kantoor”, wat sy haar been gebreek en oplaas haar “lucky break” met regie gehad het.

Sy en Tobie Cronjé, wat dikwels in haar pantomimes optree en eintlik ’n staatmaker in dié genre is, het gaan ysskaats en sy het haar been gebreek. Sy kon nie meer haar rol in Babbelkous en bruidegom vertolk nie.

“Ek was lank buite aksie. Maar ek was onder kontrak. Mannie Manim het net vir my gesê ek gaan beslis nie niks doen nie. Ek gaan regie doen.”

En dis wat sy sittend begin doen het.

"Ek sê altyd that was my lucky break."

Pinocchio is een van die min pantomimes waarin Cronjé nie ’n rok dra nie.

Hy vertolk die rol van Gepetto. En dit pas hom goed, reken Honeyman.

“Tobie is gemaak vir Gepetto. Hy vang daardie weerloosheid en kwesbaarheid vas, soos wat hy ouer word. Hy verleen ’n warm kwaliteit. Hy was in Jack and the Beanstalk ook nie in ’n rok nie, maar met die ander vertolk hy vroue. Hy doen dit so goed. Hy trek sy gesig en sy lippe is bloedrooi. Dit gaan oor jou talent gebruik, eerder as jou seksualiteit. Dis baie belangrik.”

Sy hou haar oor konstant op die grond, so ook haar inwonende regisseur Tim le Roux.

“Ek stap in supermarkte om te hoor wat die nuutste liedjies is. Ek gaan na Musica om uit te vind wat die jaar se toptreffers is. Ons vergader in Maart en dan weer in Julie. Dis dieselfde met nuusgebeure. Jy noem net die woord ‘kabinetskommeling’ en dit kry reaksie.”

Op die oomblik is die teks finaal, maar indien iets groot gedurende die speelvak gebeur, sal Honeyman, wat in Kaapstad bly dit inwerk as sy dink dit kan waardevol vir die produksie wees.

“Dit lyk altyd alles so spontaan, maar elke 20 sekondes is ’n stukkie van die legkaart, so versigtig is dit bereken. Ek neem altyd die oorspronklike feëverhaal en ek behou die essensie van die storie, maar nie die besonderhede nie. Ek borduur ’n bietjie.”

* Pinocchio word in samewerking met M-Net, Jacaranda FM en die tydskrif Your Family aangebied. Kaartjies kos R180 tot R315. Besoek joburgtheatre.com of Webticket of bel 0861 670 670 om te bespreek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.