Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Hopkins geniet dit om skurk in ‘Robin Hood’ te wees
Graham HopkinsFoto: Mariola Biela
Graham Hopkins as Norman the Nasty in die Pantomime Robin Hood and the Babes in the Wood in die Joburgteater.Foto: Mariola Biela

Vir die akteur Graham Hopkins (60) is vermaak meer as om die gehoor net te laat lag.

“Dit gaan daaroor om hul verbeelding aan te gryp, die gehoor regtig in te trek, hulle te laat dink, te laat huil, iets te laat voel, om hulle op ’n ander manier na die wêreld te laat kyk. En natuurlik lag ook, maar soveel meer.

“Ek glo wanneer iemand ook na ’n ernstige stuk teater kom kyk, sal hulle ’n aangename tyd hê.”

Hy vertolk die rol van Norman the Nasty, diepolisiehoofvan Nottingham, in Janice Honeyman se pantomime Robin Hood and the Babes in the Wood in die Joburg-teater.

Dit was onder einste Honeyman se regisseurshand wat Hopkins in 1983 sy eerste professionele toneelstuk in Johannesburg opgevoer het.

Dit was ’n verhoogverwerking van Henry Fielding se boek The History of Tom Jones, a Foundling. En ná Robin Hood sal hy weer in ’n toneelstuk onder regie van Honeyman wees wanneer hy in Kaapstad in Florian Zeller se toneelstuk The Mother teenoor Anna-Mart van der Merwe optree.

Voor dit was hy ’n hoërskoolonderwyser wat wiskunde in Pietermaritzburg gegee het. Hy het daar grootgeword.

In Honeyman se heel eerste pantomime, Snow White, het hy die rol van Grumpy vertolk, en hy was ook in die derde een, Jack and the Beanstalk.

Sy optrede in sy derde Honeyman-pantomime was deur onder meer ander teaterproduksies en televisiereekse voorafgegaan. Soveel projekte en elkeen is ’n verskillende ervaring.

“Ek is altyd bly as iemand Barney Barnato onthou, want ek het dit regtig geniet om aan daardie reeks te werk. Dit was ’n goeie geskiedkundige reeks,” sê hy met verwysing na dié televisiereeks, waarin hy die rol van Cecil John Rhodes vertolk het. Sean Taylor was in die titelrol.

“Ek is baie bevoorreg dat ek in ’n wye reeks genres en in verskillende media kan werk. Ook baie in radio, wat ek nog steeds doen. Ek is tans in ’n daaglikse radiosepie (Radio Vuka) op SAfm. Die verhoog is wel my eerste liefde.”

Hy was ook al in groot musiekspele, waaronder My Fair Lady, waarin hy prof. Henry Higgins teenoor Kate Normington (Eliza Doolittle) gespeel het. Normington is ook in Robin Hood te sien.

In Robin Hood maak hy ’n kameeverskyning, sê hy.

“Wanneer jy pantomime doen, is dit gróót!” en hy strek sy arms uit. “Dit is ál manier hoe jy dit kan doen. Daar is nie subtiliteit nie, ek het baie pret daarmee. Komedie is altyd moeilik. Ek sou nie sê moeiliker as ander genres nie, maar jy moet ’n ander soort ingesteldheid hê.”

Ons praat oor die televisiereekse, Hotnotsgode en Een Skoenlapper, waarin hy onderskeidelik ’n Ierse en Amerikaanse karakter vertolk het.

“Ek vertrou myself nie genoeg om ten volle in Afrikaans te werk nie, want ek klink te Engels. Ek onthou jare gelede was ek in ’n advertensie oor plastieksakke, waarin ek Afrikaans en Engels moes praat. Ek moes oefen en oefen en oefen. Die eerste sin was: ‘Kom ons kyk watter sakkie dinge varser hou.’ Dis moeilik om dit vinnig te sê. Daar was ’n taalkundige wat gesê het my Afrikaans is nie goed genoeg nie. Ek het toe gesê hulle is welkom om daardie deel oor te klank. Uiteindelik het hulle nie.”

Hy het wel op universiteit ’n Afrikaanse eerstejaarmodule gevolg.

Hy onthou die verhaal van Robin Hood in boekvorm, en hy het dit ook kleintyd vir sy en sy vrou, Bev Elgie, se enigste seun, Thomas (nou 21), gelees. Sy seun het verveeld geraak.

Nou speel Hopkins die skurk.

“Die slegte ou kom roer maar dinge maar net ’n bietjie. Hierdie produksie is ’n mengsel van Robin Hood en Hansie en Grietjie. Hierdie keer verdwaal hulle in die Sherwood-woud.”

Izak Davel, Desmond Dube en LJ Urbani is ook in die produksie. En weer het Honeyman, ’n paar hedendaagse onderwerpe by die teks ingesluit, waarvan een Donald Trump is. En die gehoor se deelname maak natuurlik deel van die pantomime-ervaring uit.

* Robin Hood and the Babes in the Wood duur tot 30 Desember. Kaartjies kos R220 tot R350. Besoek Webtickets.co.za vir die vertoontye en om te bespreek.

Meer oor:  Verhoogstuk  |  Teater  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.