Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Jack and the Beanstalk’ oortref die verwagtinge
Casper de Vries in Jack and the Beanstalk.Foto: enroC photo & video

Jack and the Beanstalk

Mandela-teater, Joburg-teater, Braamfontein

’n Mens voel trots Suid-Afrikaans met die kyk van Janice Honeyman se jongste pantomime Jack and the Beanstalk.

Die humor, kwinkslae en soms werklike skerp woordspeling is die soort vermaak wat net ’n Suid-Afrikaner die meeste sal geniet en waardeer. Dit is vlymskerp.

So ook ’n verwysing na die Springbok-rugbyspan en die Suid-Afrikaanse vlag wat op Jack (vertolk deur Zolani Shangase) se rugsak wapper.

Woorde soos “beurtkrag” en “staatskaping” steek ook kop uit, maar Suid-Afrika as geheel vind neerslag in hierdie feëverhaal.

Honeyman het nou maar eenmaal die gawe om die beste uit elke akteur te haal, hetsy taal of komedie.

Neo Motaung en Clive Gilson in Jack and the Beanstalk.Foto: enroC photo & video

Sy ken haar spelers se sterkpunte.

Vanjaar klink baie Afrikaanse dialoog op. Dit is hoofsaaklik te danke aan twee akteurs wat die eerste keer in ’n pantomime van Honeyman optree: Casper de Vries as die booswig, Hendrik, geskoei op die Joker, en Germandt Geldenhuys, wat die rol van Jack se ma, Dame Miemie Mosbolletjie-Melba, vertolk.

Nie dat hulle aan gehore onbekend is nie. De Vries het lankal sy stempel op die komedieverhoog en later op televisie afgedruk.

Geldenhuys, wat al voorheen in verhoogproduksies soos die Afrikaanse pantomime Sneeuwitjie opgetree het en in die rolprent Kanarie verskyn het, is veral bekend om sy rol in die kykNET-sepie Binnelanders.

Selfs die gehoor word in ’n stadium as “binnelanders” aangespreek.

Albei se geesdrif is opmerklik en ’n mens kan sien hulle geniet die genre.

Germandt Geldenhuys in Jack and the Beanstalk.Foto: enroC photo & video

Die rolverdeling, of sal ons sê die bevolking van Doedoela Dorp, is ’n jolige spul.

Hulle laat baklei en die ontvang van boetes na goeie nuus klink. Ondanks al die gevare wat hulle moet trotseer, hou hulle die noot – hulle sing wanneer die gemoed swaar is.

Die verhaal van Jan, wat ’n koei vir ’n paar bone verkwansel en sy ma woedend daaroor het, is alombekend, maar met ’n hele paar kinkels. Op die maat van talle bekende deuntjies klim Jan die boontjierank na die reus Giant Grumbelguts (wie se stem deur Terence Bridgett vertolk word), min wetende van wat op hom wag. En wat ’n is pantomime sonder ’n tikkie romantiese liefde. Wie gaan wie se hart verower?

’n Pantomime volg uiteraard ’n baie spesifieke benadering tot die skep van teater, en Jack and the Beanstalk is werklik snaaks. Die ouers sal dit net soveel soos die kinders geniet, maar gewis om ander, meer subtiele redes, glo my vry.

Dikwels gaan ’n mens met vooropgestelde idees na ’n pantomime. Die (wen)resep is teen dié tyd al bekend.

Juis daarom is dit so ’n plesier wanneer die produksie jou verwagtinge oortref.

Huppel en sing voort, inwoners van Doedoela Dorp. Ons het jul humor en geesdrif nodig.

* Jack and the Beanstalk duur tot 22 Desember.

Meer oor:  Jack And The Beanstalk  |  Pantomime
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.