Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Jervis Pennington vlek lewe in musikale memoire oop
Jervis Pennington. Foto: Argief

Die sanger Jervis Pennington sê hy word steeds ontroer deur gehore se hartlike reaksie op sy musikale memoire, An Extraordinarily Ordinary Life, wat binnekort vir ’n kort speelvak na Kaapstad terugkeer.

Pennington, wat in die 1980’s onder meer bekend was as voorsanger van die mansgroep The Soft Shoes, se stuk is reeds landwyd opgevoer en bly pal in aanvraag nadat dit in 2015 op die Cape Town Fringe gedebuteer het.

“Ek was nogal verras deur die gehore se reaksie,” sê Pennington. “Partykeer staan wildvreemdelinge (ná die vertoning) in ’n ry om vir my ’n drukkie te gee. Ek het iewers gelees dat om jou hart uit te stort, partykeer die beste manier is om iemand op te beur.”

Pennington vlek sy lewe sonder skroom in die stuk oop: Benewens groot hoogtes soos roem word heelwat laagtepunte bekyk, onder meer dwelmverslawing, ’n tyd toe hy haweloos was, en motorongelukke wat sy lewe handomkeer verander het.

“Dit gaan oor my reis van roem tot haweloosheid tot onbevreesdheid én ’n soeke na gemoedsrus, wat ek deur middel van groot voorvalle in my lewe vertel,” sê hy. “Party daarvan (die voorvalle) is glo skreeusnaaks! In een resensie is ek selfs aangemoedig om skerpskerts te doen! Wie sou kon raai?”

Die stuk het sedert 2015 heelwat verander: Aanvanklik was Janine Cupido saam met Pennington op die verhoog omdat hy “mal daaroor is wanneer ander stemme my liedjies sing”. Nou is hy op sy eentjie, wat volgens hom beter werk omdat die lirieke so persoonlik is en hy sy lewensverhaal self kan vertel. Dit is eintlik terapeuties, sê hy.

“Die skep van die stuk het goed in my ontwikkel, want ek het altyd gedink ek gebruik eenvoudig my verbeelding om liedjies op te maak – maar dit spruit eerder uit my binneste, uit my lewenservaring en verhoudings.

“Ek gee nie erkenning aan my eksvrou as mede-liriekskrywer nie, maar ek moet! Van die liedjies bevat heelwat van haar klassieke kwinkslae.”

Die grapkas sê hy het op sy lewensreis al heelwat geleer en hy hoop dat gehore ook iets daaruit kan put.

“(Die grootste les wat ek al geleer het is) om die materiële wêreld én myself minder lief te hê en eerder vir gemoedsrus te mik. Net dán kan ek die werklikheid, wat ’n wetter is, vergewe.”

  • An Extraordinarily Ordinary Life word van 26 tot 30 November om 19:00 in die Alexander Bar in Kaapstad opgevoer. ’n Kaartjie kos R130 by die deur, maar kan by www.alexanderbar.co.za teen R120 bespreek word. Skakel 079 199 9078 vir meer inligting.
Meer oor:  Musiek  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.