Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Jong skrywers se werk na Suidoosterfees
Herschelle Benjamin

Plaasaanvalle, geslagsgeweld en kulturele toeëiening is onder die gewigtige temas wat binnekort in vyf jong dramaturge se toneelstukke onder die loep kom.

Hul jongste dramas gaan in 2020 by die Suidoosterfees in Kaapstad debuteer. Hulle is Herschelle Benjamin met Hier’ie land, Kanya Viljoen met Jessie, die man en die maan, Du Toit Albertze met Kaap, Tasneem Daniels met Miela’s Box en Keanen Engel met Slim mense.

Die vyf was deel van skrywersverblyf in die Paulet-skrywershuis in Somerset-Oos. Die huis behoort aan die Jakes Gerwel-stigting. Somerset-Oos was Gerwel, ’n stigterslid van die Suidoosterfees, se geboortedorp.

Kanya Viljoen

Hul mentors is die teaterskeppers Amy Jeptha en Rafiek Mammon. Jeptha het leiding gegee in die skryf van die tekste en Rafiek Mammon gaan help om die stukke op die planke te kry. Die skrywers kry geld van die Nasionale Afrikaanse Toneelinisiatief (NATi) om hulle dramas op te voer.

“Dit is belangrik om ’n projek saam met die Suidoosterfees te doen wat fokus op jong dramaturge. Dit gaan oor die bevordering van hul skryfwerk en om mentorskapprogramme aan te bied, omdat Jakes Gerwel so ’n groot rol gespeel het in die totstandkoming van die Suidoosterfees,” sê Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting.

Jephta sê dit was ’n strawwe proses, maar het in ’n baie ondersteunende omgewing plaasgevind.

Tasneem Daniels

“Die stories wat hulle vertel is baie persoonlik, maar ook polities. Baie van die stories het geraak aan groter temas van die samelewing en politiek. Hulle is dapper en neem risiko’s en dit is vir my ook inspirerend,” sê sy.

Jephta en Mammon hoop dat die stukke ná die Suidoosterfees, waar dit net een keer opgevoer word, nog speelvakke sal kry.

Benjamin, wie se stuk oor plaasaanvalle en -moorde handel, meen hy het die skrywersverblyf nodig gehad.

“Plaasaanvalle raak nie net een groep nie. Ek wou vraagstukke belig wat nie baie aandag in die hoofstroommedia kry nie, naamlik hoe plaaswerkers ook deur plaasmoorde geraak word. Hetsy dit ’n plaaswerker is wat doodgaan of werkloos gelaat word.”

Keanen Engel

Sy stuk het sewe karakters, hoewel hy sê jong mense word veral in Afrikaanse teater ter wille van begrotings aangemoedig om dramas met kleiner rolverdelings te skryf.

“Ek verstaan dit, maar ek wil ook graag groot dramas met baie karakters skryf. Die uitdaging is nou om die begroting te laat klop met sewe akteurs. Dit projek leer jou ook om slim te wees met begrotings. Ek het eers die teks geskryf vir ouer akteurs. Ek het toe besluit om jonger akteurs in te bring, wat wel kan speel en nog nie gespeel het nie, maar ook nie baie geld vra om op te tree nie.”

Albertze meen die verblyf het hom opnuut herinner aan kameraadskap wat kunstenaars moet behou. “Amy het my op my tone gehou, maar ook die vryheid gegee om te skryf sonder sensuur.”

Du Toit Albertze

Albertze beskryf sy stuk Kaap as ’n “postmoderne hervertelling van generasies se kulturele toeëiening”.

Viljoen se Jessie, die man en die maan vertel die verhaal van ’n man en sy seun wat hul vrou en ma verloor het en steeds in die rouproses vasgevang is. Temas soos geslagsgeweld, geestesgesondheid en trauma, wat van een generasie na die volgende oorgedra word, word uitgelig.

Oor die skrywersverblyf sê sy: “Dit was so wonderlik om vir ’n maand net te kon wroeg en groei as ’n jong skrywer. Ek dink nie ons kry genoeg die geleentheid om aan ons skryftegniek te werk nie, want as jy deur die dag werk, gebeur dit net laataande of vroegoggende.”

*Al vyf stukke word op 1 Mei in die Arena-teater in die Kunstekaap opgevoer. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.