Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kaapse ‘La bohème’ kry nuwe storielyn by

Die artistieke direkteur van Kaapstad-opera (KO), Matthew Wild, het ’n bykomende storielyn vir La bohème geskep om die geliefde en welbekende opera deur ’n “nuwe lens te bekyk”.

Matthew Wild

Die opera, wat deur Giacomo Puccini gekomponeer en vir die eerste keer in 1896 uitgevoer is, fokus onder meer op die liefdesintrige tussen vier Boheemse kunstenaars, onder andere die skilder Marcello, wat ’n armlastige bestaan in Parys voer.

Wild se nuwe storielyn speel 50 jaar ná die gebeure in die opera af en sluit ’n bejaarde Marcello in, wat oor die dekades heen ’n wêreldberoemde kunstenaar geword het.

“Die opera begin in ’n kunsgalery – hy (Marcello, in ’n rolstoel) word deur sy vrou by die galery ingestoot – en hulle word deur sy kleinseun vergesel,” verduidelik Wild.

“Hy is bejaard en tenger, en toon tekens van demensie. Puccini se opera in vier bedrywe speel dan daarna af en vul die rol van terugflitse wat die bejaarde Marcello weens sy demensie ervaar – hallusinasies van sy jeug toe hy arm was, maar ook kunstig, wild en roekeloos en met inspirasie vervul was.”

Wild sê die bejaarde Marcello maak weer later sy verskyning in die opera danksy twee interludes. Die proloog en interludes het nie teks nie, sê hy, maar word met van Puccini se strykkwartette ondersteun.

“Ons het so baie ongelooflike talent, en ons moet aanhou om dit te ontdek en te ontwikkel. Wat ons wel werklik benodig, is gereelde finansiering wat kontinuïteit, stabiliteit, opleiding en werk sal verseker."

“Die eerste strykkwartet is ’n nogal bekende een, genaamd Crisantemi, wat in die proloog (in die galery) uit Marcello se beeldhouwerk sal opklink.

“Daarna, in die interludes, word Puccini-strykkwartette weer gehoor. Baie mense sal verbaas wees om dit te hoor, want dit is nie bekend nie. Dit is meestal stukke wat hy as student geskryf het en glad nie soos sy latere werk klink nie, hoewel hy interessant genoeg heelwat temas daaruit in sy latere operas gebruik het.”

Die nuwe kinkel wat Wild in die produksie bekend stel, is die soveelste vernuwing in KO se aanbiedinge wat hy sedert 2015 aangebring het. Hoewel hy nog vernuwings beplan, is daar onlangs onthul dat die 2021-operaseisoen sy laaste vir die operageselskap sal wees.

“Volgende jaar is dit 20 jaar sedert ek vir die eerste keer in 2001 as assistentregisseur vir KO gewerk het,” sê hy.

“Ek wil egter daarna op my loopbaan as vryskutregisseur fokus, meestal in Europa. My kalender raak al hoe voller met vertonings in Europa, insluitende drie vanjaar. Hoewel ek my aandag daarop wil toespits, is ek doodseker my pad sal weer met dié van die KO kruis.”

Wild sê daar is heelwat hoogtepunte waarvoor hy hoop hy onthou sal word, onder meer Suid-Afrikaanse operasterre soos Pretty Yende, Sunnyboy Dlala, Pumeza Matshikiza en Johanni van Oostrum, wat hy vanuit die buiteland na Suid-Afrika kon lok vir konserte hier – ook die operas Salome, Der fliegende Holländer en Orfeo ed Euridice wat óf nog nie hier uitgevoer is nie óf lanklaas plaaslik op die planke was.

“KO het ook sowat twee jaar gelede ’n finansieringskrisis beleef, en ek is nogal tevrede met die manier hoe ek en Elise Brunelle, ons besturende direkteur, sake kon bestuur om te verseker dat die geselskap finansieel en artistiek gesond is.

“Ek glo ek gaan die geselskap verlaat terwyl dit artistiek perdfris en ook volhoubaar is sodat dit in die toekoms nog hoër hoogtes kan bereik.”

Wild sê daar is “natuurlik” en “sonder twyfel” ’n toekoms vir opera in Suid-Afrika.

“Ons het so baie ongelooflike talent, en ons moet aanhou om dit te ontdek en te ontwikkel. Wat ons wel werklik benodig, is gereelde finansiering wat kontinuïteit, stabiliteit, opleiding en werk sal verseker.

“Ons moet daarom aanhou om die nasionale regering te kry om erkenning te gee vir wat ons doen, sodat hulle hopelik eendag opera in die hele land kan subsidieer.

“Daarmee saam moet ons maatskappye, individue, trusts, en gehore ook herinner dat ons net met hul volgehoue ondersteuning die nodige toegang en opleiding kan verskaf aan die duisende wonderlike jong stemme in Suid-Afrika, wat hulle eindelik toelaat om ’n professionele loopbaan te bou.”

* Kaartjies vir KO se produksie van La bohème in die Kunstekaap is byna uitverkoop. Van die vyf vertonings is nog net ’n handvol kaartjies vir die openingsaand op 14 Februarie om 19:30 beskikbaar. Kaartjiepryse wissel tussen R150 en R325. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Kaapstad-Opera  |  Giacomo Puccini  |  Matthew Wild  |  Kunstekaap  |  Teater  |  La Bohème
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.