Die Courtyard Playhouse CT in die Kaapse middestad het ook weens die pandemie in die stof gebyt en sy deure heeltyds gesluit.

Die Courtyard Playhouse CT se verhoog nadat dit opgeknap is. Foto: Facebook
Tiffany Schultz, wat die teater met haar man, Kemsley Dickinson, en hul vennote, Kylie Schultz en Marie Vercruyssen, besit het, het die sluiting in ’n kort e-pos aan Netwerk24 bevestig.
“Ongelukkig moes ons ook ons deure heeltyds sluit. Ons is gedwing om te likwideer. Ons het tot op hede nog nie enige openbare aankondiging daaroor gemaak nie.”
Schultz het by navraag nie op enige verdere vrae gereageer nie.
Netwerk24 het vroeër berig dat Schultz en Dickinson op 1 Augustus 2019 die leisels van die destydse Alexander Bar-restaurantteater by Nicholas Spagnoletti en Edward van Kuik oorgeneem het.
Die egpaar het die teater se binneste herbou en dit op 11 Januarie 2020 die Courtyard Playhouse CT herdoop, soortgelyk aan die Courtyard Playhouse Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate wat hulle ook besit.
Die Kaapse teater se eerste teaterseisoen het ook toe afgeskop, maar dit is weens die pandemie en die begin van die staat van inperking in Maart verlede jaar kortgeknip.
Die teater was sedertdien bottoe. Dit is nog nie bekend wanneer die likwidasieproses begin het nie.

Kemsley Dickinson en Tiffany Schultz. Foto: Argief
Die Courtyard Playhouse CT se ondergang volg net ’n paar dae ná die aankondiging dat die 44 on Long-teater, ook in die Kaapse middestad, en Die Boer-restaurantteater in Durbanville ook gaan sluit.
Jurgen Human en Margit Meyer-Rödenbeck, eienaars van Die Boer, het aan Netwerk24 gesê hulle hoop Die Boer kan weer in die toekoms heropen, maar dit bly nog ’n ope vraag wanneer en óf dit sal kan gebeur.
“Ons maak vir ’n onbepaalde tyd toe,” het Human gesê.
“Miskien kan ons later dalk die plek red, maar ons moes al ons werknemers – ons hele topbestuur, ons sjef, al ons kelners, ons kroegman en ons kombuispersoneel – laat gaan. As ons daaraan wil dink om die plek later te red, moet ons nou sluit.”
• Fahiem Stellenboom, bemarkingsbestuurder van die Baxter-teater in Rondebosch, het intussen gesê hy is “hartseer” om te verneem van al die teaters in Kaapstad wat moes sluit.
“Ons bevind onsself tans omtrent in ’n toestand, nie net hier nie, maar wêreldwyd,” sê hy.
“Die Baxter is tans slegs vir die publiek tot einde Januarie toe, in ’n poging om die oorweldigende toename in die verspreiding van Covid-19 te bekamp.
“Ons personeel werk tans van die huis af, terwyl ons daarna uitsien om die teater te heropen wanneer die nasionale regering en die Universiteit van Kaapstad dit veilig ag.”
Stellenboom het die publiek aan die teater se Baxter Coffee Angels-veldtog herinner: Teaterliefhebbers kan steeds R30 per maand, die prys van ’n koppie koffie, aan die teater skenk.
Die veldtog is verlede jaar geloods om die teater se finansiële volhoubaarheid, en daarmee saam sy toekoms, te verseker.