Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kaapse teater sluit nié, maar daar ís ’n swanesang

Die titel van die Gate69-teater in Kaapstad se volgende aanbieding, Swan Song, is “ongelukkig letterlik”, maar nié op die manier wat teatergangers dink nie.

The Trolley Dollies is (van links) Holly (Christopher Dudgeon), Cathy Specific (Brendan van Rhyn) en Molly (Rudi Jansen).

Só sê Christopher Dudgeon, mede-eienaar van die teater in Breestraat én een derde van die trio The Trolley Dollies, wat sedert 2016 heeltyds hier optree.

Teatergangers het ná die aankondiging van Swan Song ietwat angsbevange op sosiale media aangeneem die teater gaan sluit – dít nadat die Fugard-teater en The Courtyard Playhouse in die middestad reeds nie die uitwerking van die Covid-19-pandemie kon oorleef nie.

Dudgeon het egter dié vrese besweer en enige verwarring uit die weg geruim.

Swan Song gaan The Trolley Dollies se swanesang by Gate69 wees,” sê hy aan Netwerk24.

“The Trolley Dollies tree al ’n dekade lank saam op en het vyf jaar daarvan in Gate69 deurgebring, maar ons het oor die jare ’n gehoor dwarsoor die land en selfs in die buiteland opgebou.

“Ons voel ons het die Gate69-handelsmerk op die Kaapstad-teatertoneel stewig genoeg gevestig dat ons nou ons vlerke kan sprei en albei handelsmerke onafhanklik van mekaar kan ontwikkel.”

The Trolley Dollies, wat bestaan uit die fopdossers Cathy Specific (Brendan van Rhyn), Holly (Dudgeon) en Molly (Rudi Jansen), gaan die teater dus vaarwel toeroep, maar Gate69 se deure bly oop.

“The Trolley Dollies en Gate69, wat aparte entiteite is, sal steeds aanhou om te doen wat ons nog altyd gedoen het – om gehore te vermaak! Gate69 is ’n unieke venue op die Suid-Afrikaanse teatertoneel, en hoewel dit sedert 2016 The Trolley Dollies se huis was en sinoniem met die handelsmerk is, gaan die teater nie enige tyd gou sluit nie.

“Ek sal steeds inhoud vir Gate69 skryf en vervaardig, so gehore kan dieselfde standaard van skreeusnaakse inhoud in die Pers Paleis (die teater se bynaam) verwag.

“Ons het opwindende nuwe inhoud by Gate69 wat binnekort aangekondig sal word – ook The Trolley Dollies se toer, wat in November in die Joburg-teater begin.”

Ons kaartjieverkope het meer onlangs toegeneem. Hoewel sake aan die einde van April steeds beroerd gelyk het, kom dit voor asof teatergangers besluit het genoeg is genoeg.

Dudgeon het voorheen aan Netwerk24 gesê dat die teater se finansies weens die pandemie wipplank ry en dat hulle dit in die toekoms dalk sou moes oorweeg om te sluit. Dit gaan nou egter beter – al is dit net ’n bietjie, sê hy.

“Ons kaartjieverkope het meer onlangs toegeneem. Hoewel sake aan die einde van April steeds beroerd gelyk het, kom dit voor asof teatergangers besluit het genoeg is genoeg.

“Ons het ook opgelet dat kaartjieverkope drasties toeneem kort voordat ’n nuwe vlak van die staat van inperking aangekondig word. Ons kan net hoop en bid dat strenger inperkings nie weer ons voorland is nie.”

Hy sê The Trolley Dollies, wat ook al drie eienaars van die teater is, skud nou hul vere reg om te verseker dat hulle die teater op ’n hoë noot groet.

Swan Song is ’n Gate69-nostalgiereis wat deur The Trolley Dollies se oë vertel word. Jy kan jou indink: Dit is nie maklik om jou eie teater op te bou, te bestuur, én daarin op te tree nie; dié reis het vir ons al drie hoogte- én laagtepunte besorg.

“Die vertoning is ’n eerlike kykie na dié wipwarit, die manier hoe dit ons verhouding met mekaar beïnvloed het, en die ongelooflike lewenslesse wat ons geleer het sedert ons die teater geopen het.

“Dit is nie maklik vir ons om ’n nuwe blaadjie om te slaan én vir ons stoere ondersteuners te verduidelik hoekom dit nodig is nie, maar Swan Song sal dit hopelik vergemaklik en antwoorde verskaf – terwyl dit almal tegelykertyd sal laat skaterlag.”

  • Swan Song is van 4 Junie tot 31 Julie elke Woensdag-, Donderdag-, Vrydag- en Saterdagaand in Gate69 op die planke. Die vertoning begin om 20:00. Kaartjiepryse wissel tussen R390 en R450. Bespreek by www.gate69.co.za.
Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Fugard-Teater  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.