
Die Kalkbaai-teater-en-restaurant moes noodgedwonge sluit.
Die Kalkbaai-teater-en-restaurant moes sy deure sluit.
Die teater is die afgelope paar jaar onder die bestuur van die Followspot-teatergroep bekend om musiek- en dansteater.
“Weke lank het ons nagte omgesit om met moontlike oplossings vorendag te kom en met die besef dat ons nie voor 2021 ons deure sou kon oopmaak nie, met boukoste en personeelonkoste en geen inkomste nie, was dit (om te sluit) ons enigste opsie,” lui ’n verklaring van die bestuur.
Followspot het intussen sy huurkontrak op die ou Nederduits Gereformeerde kerk in Hoofweg, Kalkbaai, opgesê. Die kerk dateer uit 1876 en is as ’n teater met 78 sitplekke ingerig met ’n restaurant op die boonste verdieping.
“Hiermee maak ons nie die boek toe nie, net een hoofstuk. Ons is vasbeslote om nog ’n ruimte te vind en ons deure weer oop te maak.”
Followspot bestaan uit die egpaar Ash Searle en Vanessa Harris, bekend om hul optredes in vele musiekblyspele, asook Brad Searle. Brad en Ash was bekend om die gewilde dansvertoning Big Boys Don’t Dance.
Ash en Harris het onder meer in produksies soos Chicago, We Will Rock You, Buddy Holly, The Rocky Horror Show en African Footprint opgetree. Ash was een van die topdrie-gunstelinge in die televisiedansprogram So You Think You Can Dance.