Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kalkbaai-teater verrys uit die as

Meer as 80 000 mense het binne twee dae ’n Facebook-inskrywing gelees wat bevestig dat die Kalkbaai-teater in November weer sy deure gaan oopmaak.

Dié inskrywing volg net drie maande ná die aankondiging dat die teater noodgedwonge sy deure weens die Covid-19-pandemie en die staat van inperking moes sluit.

Die Kalkbaai-teater het drie maande gelede sy deure in die Nederduits Gereformeerde kerk in Kalkbaai se hoofweg gesluit . . . Foto: Argief
. . . en gaan in November vanjaar weer in die Brass Bell-restaurant heropen. Foto: Facebook

Netwerk24 het berig dat die FollowSpot-teatergroep, wat die teater vir die afgelope sowat sewe tot agt jaar in die Nederduits Gereformeerde kerk in Kalkbaai se hoofweg bestuur het, kort daarna boonop hul huurkontrak moes opsê. Die kerk, wat dateer uit 1876, is as ’n teater met ’n restaurant ingerig.

Nou brand vreugdevure weer hoog oor die nuus dat die teater gaan herleef – dié keer in ’n vleuel van die welbekende Brass Bell-restaurant, wat net sowat 110 meter van die teater se oorspronklike ligging is.

“Ek het nog nooit ’n sosialemedia-inskrywing gesien wat so gewild is nie,” sê Vanessa Harris, wat FollowSpot saam met haar eggenoot, Ashley Searle, begin het.

“80 000 mense het dit gelees, daar is 301 kommentare onderaan die inskrywing, dit is 384 keer gedeel, en 957 mense het dit gelike. Warrehel?”

Harris sê die bestuur van Brass Bell het haar en Searle genader en gevra of hulle sou belang stel om die teater in ’n vleuel van die restaurant in te rig. Dié vleuel word tans gebruik vir onder meer musiekvertonings en karaoke-aande.

“Ons het dadelik die geleentheid aangegryp,” sê sy.

Harris sê die voormalige Kalkbaai-teater is gesluit juis omdat hul geldsakke weens die pandemie leeg was en hulle nie meer die huur kon bekostig nie. Hulle wou nie lenings aangaan om die teater se deure oop te hou nie en het ook teen skarefinansiering besluit.

“Met die toekoms wat (toe) so onseker was, hoe kon ons geld by mense vat wat self onder finansiële druk is – dít terwyl ons met hul skenkings waarskynlik steeds sou moes toemaak?”

Sy sê hul finansies is eintlik steeds ’n probleem.

“Gelukkig hoef ons darem nie nou enige huur te betaal tot die teater weer op die been is én ons begin om geld te verdien nie.”

Sy sê enigiemand wat bereid is om te help – selfs met verf, waarmee hulle hoop om die nuwe teater in te rig – kan ’n e-pos na kalkbaytheatre@gmail.com stuur.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Teater  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.