Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Kamphoer’ gaan nog wye draai maak
Sandra Prinsloo in die eenvroustuk Kamphoer – die verhaal van Susan Nell. Foto: Vrystaat Kunstefees

Ná vyf vertonings wat kritici én gehore by die Vrystaat Kunstefees oorrompel het, staan feeste landwyd tou om Kamphoer – die verhaal van Susan Nell aan te bied.

“Groot en veral klein feeste het ons reeds gekontak,” sê Johan van der Merwe, vervaardiger van die produksie.

“Vir nou kan ons net bevestig dat dit van 6 tot 9 Augustus in die Kunstekaap opgevoer word en ook op Aardklop, waar besprekings reeds oop is. Al die ander feeste sal waarskynlik volg.

“Ons wil dit ook graag na Engels vertaal en, as ons groot mag droom, na die Edinburg-fees in Skotland neem.”

Van der Merwe sê hy is net te dankbaar vir die oorweldigende goeie reaksie op die stuk, wat gegrond is op Francois Smith se debuutroman, Kamphoer, en deur Cecilia du Toit vir die verhoog verwerk is.

Sandra Prinsloo vertolk die rol van Nell, wat in die Winburg-konsentrasiekamp verkrag en vir dood agtergelaat is.

Die verhaal uit die Anglo-Boereoorlog, wat vanjaar 120 jaar gelede uitgebreek het, spreek tot baie mense, veral dié wie se familie in konsentrasiekampe was, sê Van der Merwe.

“My ouma – sy sou nou al in die honderd gewees het – was steeds ontsteld oor konsentrasiekampe. Haar tweelingbroer is as baba in ’n konsentrasiekamp dood.”

Hy sê dit was vir hom en Rudi Sadler, sy vennoot by Theatrerocket, belangrik om die produksie in Bloemfontein te debuteer omdat die Winburg-konsentrasiekamp net sowat 100 km daarvandaan is.

“Daar is net baie geskiedenis, en ek dink almal het stories van die konsentrasiekamp of het iemand geken wat in die oorlog dood is.”

Ek dink almal het stories van die konsentrasiekamp of het iemand geken wat in die oorlog dood is.
Johan van der Merwe, vervaardiger

Benewens die dankbaarheid is Van der Merwe verlig omdat “die druk groot was” om die sukses van sy en Sadler se eerste produksie, Die reuk van appels (gegrond op Mark Behr se gelyknamige roman), te oortref.

“Ons was eintlik werklik gespanne daaroor, want die gehoor het groot verwagtinge van ons gehad, en hoe groter die verwagting, hoe makliker kan mense teleurgestel word.”

Hy sê die joernalis en uitgewer Marida Fitzpatrick het die saadjie eerste geplant om Kamphoer te verwerk en op die planke lewe te gee.

“Ons het Francois toe gekontak, kort daarna ontmoet en toe binne ’n paar dae die regte bekom. Alles het baie vinnig gebeur.”

Van der Merwe is ook verlig Smith is in sy noppies oor die eindproduk.

“Hy was op die openingsaand daar, in die heel voorste ry, en is baie, baie tevrede met die produksie. Dis baie belangrik vir my en Rudi, want jy wil nie hê die skrywer moet ná die tyd na jou toe kom en sê jy het hul werk vermorsel nie.

“Ons is werklik gelukkig dat hy (Smith) gelukkig en tevrede is.”

  • Kamphoer – die verhaal van Susan Nell word van 6 tot 8 Augustus om 20:00 en twee keer op Vrouedag 9 Augustus om 11:00 en 16:00 in die Kunstekaap opgevoer. Kaartjies kos R120. Bespreek by Computicket.
  • Dit sal ook op 24 September om 09:30, 25 September om 16:00, 26 September om 09:30 en 27 September om 16:00 op die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom te sien wees. Kaartjies teen R145 is by Ticketpro beskikbaar.
  • Die ouderdomsperk van die produksie is 14 TSGV.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.