Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Karlien gaan haar ‘skoen’ op verhoog verloor
Karlien van Jaarsveld in die rol van Aspoestertjie in die Afrikaanse pantomime. Foto: Verskaf
Karlien van Jaarsveld speel van 5 tot 28 Julie die rol van Aspoestertjie in die Staatsteater in Pretoria.Foto: Verskaf
Aspoestertjie, ’n Afrikaanse pantomime, is in Julie in die Staatsteater in Pretoria.Foto: Verskaf

As kind was die sangeres Karlien van Jaarsveld gek oor Aspoestertjie en binnekort sal sy weer dié rol op die verhoog vertolk in die Afrikaanse pantomime, Aspoestertjie.

“Ek kry weer die geleentheid om my gunsteling-feëverhaalkarakter te kan speel in die Staatsteater,” het Van Jaarsveld in April op Instagram gesê.

Sy het die produksie se plakkaat met haar aanhangers gedeel.

Van Jaarsveld het ook in 2015 dieselfde rol gespeel by die Emperors Palace.

Dié keer is Aspoestertjie van 5 tot 28 Julie in die Staatsteater in Pretoria.

In hierdie weergawe van Aspoestertjie vertolk die twee lelike stiefsusters (Tiaan Rautenbach en Mortimer Williams) saam die rol van die “Dame”-karakter.

Die pantomime volg die tradisionele storielyn, met die nare stiefma en lelike stiefsusters wat Aspoestertjie afknou; die lojale vriend en dienskneg wat heimlik verlief is op haar; Aspoestertjie se goedhartige hulpvaardigheid teenoor ’n ou vrou wat lei tot die sprokiesagtige verskyning van die Goeie Feë, die prag en weelde van die Koninklike Bal en dan die romantiese ontmoeting met die sjarmante Prins; die drama en spanning wanneer die horlosie middernag slaan; die soektog na die ware eienares van die skoen en die gelukkige einde.

“Karlien is baie opgewonde. Sy is mal oor verhoogwerk,” het Ronel Brink, Van Jaarsveld se ma en agent, Dinsdag by navraag gesê.

Van Jaarsveld vat geen ander werk in vir Julie nie, sodat sy haar tyd met haar kinders, Daniël, Eliah en Elah, en die vertonings kan balanseer.

“Sy gaan vir seker haar kinders (Aspoestertjie) laat kyk,” sê Brink.

Aspoestertjie is in 2015 benoem vir nege Naledi-pryse, insluitende vir Beste Musiekspel.

Karlien van Jaarsveld was as kind gek oor Aspoestertjie. Sy het nou weer die geleentheid om dié rol te vertolk op die verhoog.Foto: Verskaf

* Aspoestertjie is op die planke van 5 tot 28 Julie 2019, met vertonings om 19:30 op Vrydae, en om 11:00 en 15:00 op Saterdae en Sondae. Kaartjies is vanaf R160 en is beskikbaar by Webtickets (www.webtickets.co.za) of by enige Pick n Pay winkel.

Spelers

Aspoestertjie word vervaardig deur Renier en Lise-Marie Keyser, wat sedert 2007 bekendheid verwerf het vir hul keurige oorspronklike Afrikaanse musiekspele: HoutkruisEsterDawidLieflingDroomkindSneeuwitjie en Doringrosie.

Hoofspelers:

Karlien van Jaarsveld (Aspoestertjie)

Fezile Mpela (Dun Daantjie/Verteller)

Zak Hendrikz (Prins Regardt Rolandt Rembrandt)

Marlee van der Merwe (Ursula Koekemoer/Nare Stiefma)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.