Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kentridge-opvoering ná groot sukses oorsee nou in SA

William Kentridge se produksie The Head and the Load word ná twee jaar van groot welslae in New York, Londen, Amsterdam en Duitsland, die eerste keer in Suid-Afrika, naamlik Johannesburg, opgevoer.

Ann Masina, een van die hoofsangers in ‘The Head and The Load’. Die projeksie wat oor die verhoog troon is ’n kenmerk van die veelsydige kunstenaar William Kentridge.

Die verhoogopvoering handel oor Afrika se rol in die Eerste Wêreldoorlog en die versweë verhaal van miljoene swart Afrikane wat vir die Britse, Franse en Duitse magte geveg het en waarvan duisende op die slagveld gesneuwel het.

Die werk dra die Kentridge-merk – ’n multidissiplinêre produksie met musiek, libretto, dans, projeksies en ’n pragtige stelontwerp.

Kentridge is bekend vir sy dikwels ekstreme en grootskaalse produksies, maar volgens ’n resensie in Brittanje se The Telegraph is die enigste rekwisiete op die 55 meter lange verhoog in die Tate Modern ’n regop-klavier, ’n megafoon en die silhoeët van ’n trapleer.

The New York Times se resensent, wat Kentridge in vorige produksies as ’n “oordadige illustreerder vol slim grafika” beskryf het, skryf Kenridge het die slimmighede na ’n sublieme vlak geneem waar die teaterganger se gedagtes betower word, terwyl die lyf hom een voel met die luidrugtige fisieke spel.

Die opvoering is ontleen aan die Ghanese spreekwoord “The head and the load are the troubles of the neck”.

Dit kan gesien word dat dit dui op die historiese belangrikheid van Afrikane se rol in die oorlog, ’n onderwerp wat in die afgelope eeu onder ’n maatemmer versteek was en nooit verken is nie.

Sipho Sereto in ‘The Head and The Load’.

The Head and the Load is miskien nie oordadig nie, maar dit is steeds ambisieus.

Die rolverdeling bestaan uit internasionale asook Suid-Afrikaanse sangers, dansers en akteurs, insluitende Hamilton Dlamini, Nhlanhla Mahlangu en Luc De Wit, en die hoofsangers Ann Masina en Joanna Dudley.

Die verhaal word aaneengeskakel deur musiek, dialoog, dans, filmprojeksies, gemeganiseerde beeldhouwerke en skaduspel.

Philip Miller het die musiek gekomponeer, terwyl die musiekregisseur Thuthuka Sibisi en die choreograaf-hoofdanser Gregory Maqoma die “ononderbroke musikale triomftog” op die verhoog uitbeeld.

Kentridge se beskrywing van die verhaal is dat dit handel oor al die teenstrydighede, paradokse en kolonialisme wat in oorlogsituasies versterk word én verdwerg is.

Die opvoerings in Johannesburg word voorafgegaan deur gehoorontwikkeling en opleiding met die doel om mense by die gesprek oor die onderwerp te betrek.

Vanweë die unieke verhoogopset is daar sitplek vir net 500 mense in die ouditorium. Kaartjies is dus beperk.

  • 1 tot 9 Mei om 20:00 in die Joburg Theatre. Middagvertoningsop op 3 en 9 Mei om 15:00. Bespreek by www.joburgtheatre.com of www.webtickets.co.za.
Meer oor:  Musiek  |  Dans  |  William Kentridge  |  Teater  |  Kuns  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.