Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Kinky Boots’ skop stof in teenstanders se oë

Die musiekspel Kinky Boots was die wegholwenner by die 55ste Fleur du Cap-teaterpryse, wat Maandagaand weens die Covid-19-pandemie en die staat van inperking aanlyn aangekondig is.

Earl Gregory het vir sy hoofrol as die fopdosser Lola in die musiekspel ‘Kinky Boots’ die prys as beste hoofakteur in ’n musiekspel gewen. Foto: Claude Barnardo

Benewens die prys vir beste produksie, wat aan Eric Abraham en die Fugard-teater toegeken is, is Tshepo Ncokoane (beste akteur in ’n ondersteunende rol in ’n musiekspel), Namisa Mdlalose (beste aktrise in ’n ondersteunende rol in ’n musiekspel), Paul Wills (beste stelontwerp) en Birrie le Roux (beste kostuumontwerp) vir hul aandeel in die musiekspel bekroon.

Earl Gregory, wat die hoofrol van die wulpse fopdosser Lola in die musiekspel vertolk het, is ook as beste hoofakteur in ’n musiekspel bekroon.

Christiaan Boonzaier het Gregory in ’n resensie op Netwerk24 as Kinky Boots se “grootste uitklophou” beskryf.

“Hy stal sy talente – akteurspel, sang en dans – in elke snaakse, bitsige en hartverskeurende oomblik op die verhoog uit en hy het boonop die geleentheid van begin tot einde gebruik om sy pad tot in elke gehoorlid se hart oop te flankeer. In kort: Hy is ’n ster.”

Die stuk G7: Okwe Bokhwe (Like/Of a Goat) het drie pryse ontvang, onder meer vir beste ensemble en beste regisseur (Mandla Mbothwe), terwyl Scott ook drie pryse ontvang het – twee daarvan aan Morapeleng Molekoa vir beste nuwe Suid-Afrikaanse draaiboek en beste nuwe regisseur.

Fiona Ramsay en Jenny Stead, wat saam in ‘The Glass Menagerie’ geskitter het, is albei met ’n prys bekroon. Foto: Pat Bromilow-Downing
Alan Committie het die prys vir beste vertolking deur ’n hoofspeler in ’n toneelstuk vir sy rol in ‘Richard III’ gewen. Foto: Jesse Kramer
Die bariton Bongani Kubheka is ook vir sy rol in die opera ‘La Serva Padrona’ bekroon. Foto: Verskaf

Daarby is Fiona Ramsay en Jenny Stead, wat saam in The Glass Menagerie geskitter het, vir onderskeidelik hoofspeelster en byspeelster in ’n toneelstuk bekroon; die grapjas Alan Committie het vir sy uithalerrol in Richard III die prys as beste akteur in ’n toneelstuk gewen, en die sanger Zolani Mahola is danksy haar vertoning in The One Who Sings met die prys vir beste hoofaktrise in ’n musiekspel of musiekvertoning huis toe.

Fatima (Fats) Dike, veteraandramaturg, -regisseur, -akteur en opvoedkundige, het die lewensprestasie-prys ontvang.

“Sy het ’n sleutelrol daarin gespeel om die deure van die teater vir almal te open,” sê Africa Melane, voorsitter van die beoordelaarspaneel, in ’n mediaverklaring.

“Toe sy gedurende die struggle in ballingskap was, het sy haarself geleer; sy het die apartheidswette uitgedaag en teengestaan en sy het die verfoeilikheid van apartheid ontbloot. Ons dank haar daarvoor dat sy nooit haar herkoms in Langa verloën het nie. Mag sy nog vir jare met woorde skilder.”

Volgens Melane weerspieël vanjaar se wenners ’n “gesonde, dinamiese mengsel van ontluikende en gevestigde plaaslike talent.

“Die veeleisende toestande die laaste paar jaar het teater- en operaliefhebbers nie van produksies van uitsonderlike gehalte ontneem nie. Die paneel en ek is weer eens oorrompel deur wat aangebied is, veral die nuwe Suid-Afrikaanse werke. Dit bewys net weer eens dat talent sal floreer wat ook al die omstandighede,” sê hy.

Daar het vanjaar 59 produksies vir die Fleur du Cap-pryse in aanmerking gekom. Wenners ontvang elk R15 000 en ’n silwermedalje.

Die volledige lys van wenners is:

  • Beste nuwe Suid-Afrikaanse draaiboek: Morapeleng Molekoa (Scott)
  • Beste nuwe regisseur: Morapeleng Molekoa (Scott)
  • Beste teaterproduksie vir kinders en jong mense: Lumka
  • Beste aanbieding deur ’n ensemble: Abigail Mei, Carlo Daniels, Luxolo Mboso, Siyavuya Gqumehlo, Sivenathi Macibela, Sizwe Lubengu, Sityhilelo Makupula en Yvonne Msebenzi (G7: Okwe Bokhwe [Like/Of a Goat])
  • Beste vertoning in ’n revue, kabaret of solovertoning: Tafara Nyatsanza (Scott)
  • Beste vertolking deur ’n akteur in ’n ondersteunende rol in ’n musiekspel of musiekvertoning: Tshepo Ncokoane (Kinky Boots)
  • Beste vertolking deur ’n aktrise in ’n ondersteunende rol in ’n musiekspel of musiekvertoning: Namisa Mdlalose (Kinky Boots)
  • Beste vertolking deur ’n hoofakteur in ’n musiekspel of musiekvertoning: Earl Gregory (Kinky Boots)
  • Beste vertolking deur ’n hoofaktrise in ’n musiekspel of musiekvertoning: Zolani Mahola (The One Who Sings)
  • Beste poppespel-ontwerp: Jenine Collocott (The Old Man and the Sea)
  • Beste beligtingsontwerp: Fred Abrahamse (Equus)
  • Beste stelontwerp: Paul Wills (Kinky Boots)
  • Beste kostuumontwerp: Birrie le Roux (Kinky Boots)
  • Beste klankontwerp, oorspronklike musiek, klankskepping of lewende uitvoering: Babalwa Makwetu (G7: Okwe Bokhwe [Like/Of a Goat])
  • Beste vertolking in ’n opera – manlik: Bongani Kubheka (La Serva Padrona)
  • Beste vertolking in ’n opera – vroulik: Siphokazi Molteno (I Capuleti e i Montecchi)
  • Beste vertolking deur ’n byspeler in ’n toneelstuk: David Viviers (Cellist with Rabies)
  • Beste vertolking deur ’n byspeelster in ’n toneelstuk: Jenny Stead (The Glass Menagerie)
  • Beste vertolking deur ’n hoofspeelster in ’n toneelstuk: Fiona Ramsay (The Glass Menagerie)
  • Beste vertolking deur ’n hoofspeler in ’n toneelstuk: Alan Committie (Richard III)
  • Beste regisseur: Mandla Mbothwe (G7: Okwe Bokhwe [Like/Of a Goat])
  • Beste produksie: Eric Abraham en die Fugard-teater (Kinky Boots)
  • Toekenning vir innovering in die teater: Robin Malan en Andi Mgibantaka (Junkets Publishers)
  • Lewensprestasie-toekenning: Fatima Dike
  • Prys vir die belowendste student: Cantona James (Universiteit Stellenbosch)
Meer oor:  David Viviers  |  Zolani Mahola  |  Fugard-Teater  |  Teater  |  Kinky Boots
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.