Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Kiss of the Spider Woman’ noodsaaklike teater vir vandag
Wessel Pretorius, voor, is Molina en Mbubelelo Grootboom is Valentin in ‘Kiss of the Spiderwoman’, wat binnekort in die Baxter-teater opgevoer gaan word Foto: Oscar O’Ryan

Hy het lanklaas so aanklank by ’n karakter gevind soos met dié van Molina in Kiss of the Spiderwoman.

“Dit is sekerlik ’n droomrol, besonder uitdagend, dit gebeur nogal min dat jy ’n karakter kan speel wat amper dieselfde emosionele landskap as jy het.”

Die teaterskepper Wessel Pretorius kan nie uitgepraat raak oor sy rol in die klassieke tweemanstuk gegrond op ’n roman deur die Argentynse skrywer Manuel Puig nie.

Die drama is dalk meer aan lesers bekend as die rolprentweergawe van die jare tagtig met William Hurt en Raul Julia. Dit is na wete die eerste keer dat dit in Suid-Afrika as toneelstuk opgevoer word.

Sylvaine Strike is die regisseur van die stuk wat van 5 tot 19 Junie in die Baxter-teater in Kaapstad op die planke is.

Dit speel te midde van die Argentynse revolusie van die jare sewentig in ’n tronksel af en behels die interaksie tussen ’n swart man en ’n queer wit man.

Wessel Pretoriua is Molina en Mbubelelo Grootboom is Valentin in ‘Kiss of the Spiderwoman’, wat binnekort in die Baxter-teater opgevoer gaan word. Foto: Oscar O’Ryan

Molina is ’n winkelversierder en Valentin ’n revolusionêr. Molina is in die tronk weens seksuele oortredings as gay man en Valentin vir sy politieke bedrywighede. In hul sel verwyl hulle die tyd met Molina se fantasievlugte en herverbeeldings van tonele uit ou rolprente. In die prente figureer die verleidelike spinnekopvrou van die titel.

Baie raakpunte met die Suid-Afrikaanse politiek in die verlede, maar ook nou, kan uitgelig word, meen Pretorius. “Waar het jy toe wit en swart saam in dieselfde tronksel gekry en dan was een nog boonop queer?” vra Pretorius.

“Strike ondersoek onder meer manlikheid en ras, maar veral manlikheid, sou ek sê. Daardie tyd het daar nie eens ’n woordeskat met woorde soos ‘transgender’ bestaan nie, daar was nog nie eens ’n 'queer theory' nie, daar was nog nie eens 'pronouns' nie. Dit is ’n tragiese uitbeelding en die stuk kaats terug aan ons waar ons was, waar ons nou is en watter pad nog geloop moet word.

“Dit gaan ook baie oor hoe my karakter homself sien, eintlik as ’n vrou, hoewel hy fisiek ’n man is. Mense is toe meer ‘ge-other’ as nou, nou is daar dalk meer insig, maar nog nie genoeg nie.”

Dit is die eerste keer dat Pretorius, wat benewens ’n bekroonde dramaturg ’n regisseur in eie reg is, saam met Strike werk. “Wie droom nie daarvan om saam met Sylvaine te werk nie? Sy werk so gedetailleerd, so organies en baie presies. Dit is lekker om weer ’n proses te hê.”

Strike is bekend om die meer onlangse produksies in die Baxter van Endgame, Curse of the Starving Class, Tartuffe en The Miser.

Hy meen die teatergemeenskap rou omdat die inperkings van Covid-19 die bedryf hard geslaan het. Om iets van dié kaliber nou op te voer, inspireer en gee soveel hoop, meen hy. “Dit is dus opwindend en dit maak my so gelukkig.”

Met die stuk lei die teater die viering van die terugkeer na lewende teater asook met die grootskaalse opvoering van Life and Times of Michael K. onder spelleiding van Lara Foot.

Puig was ’n Argentynse skrywer wat die meeste van sy lewe in ballingskap in Mexiko gewoon het. Sy Spaanse roman El beso de la mujer araña (Kiss of the Spider Woman) het in 197 verskyn en is verwerk as draaiboek vir ’n gelyknamige Engelse rolprent in 1985. Later was dit ook ’n musiekblyspel.

Die akteur Mbulelo Grootboom (Rainbow Scars, Iagos Last Dance en Hamlet) vertolk die rol van Valentin teenoor Pretorius se Molina. Pretorius is bekend om stukke soos Ont, Die ontelbare 48 en Balbesit. Grootboom en Pretorius was saam in Balbesit te sien.

Die drama word as ’n reis van selfontdekking beskryf. Gehore kan gereed wees vir intrige, romanse, revolusie, liefde en verraad. Wat op die oog af lyk na ’n storie oor twee mense wat skynbaar teenpole van mekaar is (romanties en revolusionêr), ontwikkel in ’n verhaal van politieke intrige en bedrog. Eintlik handel dit oor twee verskillende invalshoeke op die lewe – dit handel oor vryheid en slawerny.

Ons lewe nou in ’n tyd waar inperking deel is van ons woordeskat. Ons lewe ook in ’n tyd waar dit van wesenlike belang is om ons beperkte begrip van genderpolitiek te verruim.

Die drama lewer steeds uitdagende kommentaar oor die norme van die samelewing; dit ondersoek die mag van ontvlugting danksy die verbeelding en verken ook die verband tussen identiteit en seksualiteit.

“Ons lewe nou in ’n tyd waar inperking deel is van ons woordeskat. Ons lewe ook in ’n tyd waar dit van wesenlike belang is om ons beperkte begrip van genderpolitiek te verruim,” sê Strike in ’n mediaverklaring.

“Die besluit op die seminale toneelstuk na vandag se revolusionêre klimaat na die verhoog te bring, is duidelik en noodsaaklik.”

Die beligtingontwerp is deur Mannie Manim, die musiek deur Brendon Jury en stel- en kostuumontwerp deur Wolf Britz.

Daar is beperkte sitplekke weens Covid-19-maatreëls. Die dra van maskers is verpligtend. Sosiale afstand moet gehandhaaf word. Gehoorlede word versoek om ’n uur voor die aanvang van die toneelstuk te arriveer om vertragings te voorkom.

• Kiss of the Spider Woman word van 5 tot 19 Junie om 19:00 in die Baxter se Golden Arrow Studio opgevoer en Saterdae is daar middagvertonings om 14:00. Die ouderdomsbeperking is 15. Bespreek by Webtickets by 086 111 0005, of aanlyn by www.webtickets.co.za of by Pick n Pay-winkels.

Meer oor:  Baxter  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.