Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Pieter-Dirk Uys: Kom ek vertel julle oor régte vrees
Die skrywer, akteur en satirikus Pieter-Dirk Uys het die openingstoespraak op die eerste Artfluence-kunstefees gelewer. Foto: Verskaf

Suid-Afrika se voorste satirikus, Pieter-Dirk Uys, het die eerste Artfluence-kunstefees vroeër vandag geopen met ’n toespraak waarin hy vertel van ’n persoonlike ervaring tydens apartheid – ’n gebeurtenis wat hy met die huidige vrees vir die onsigbare koronavirus vergelyk.

Die enigste mensereg wat ek het, is die reg om mens te wees. Kyk net wat het in die 400 dae van die koronavirus-inperking gebeur: Daar was tyd om te dink oor dinge wat gewoonlik in die gejaag van die lewe agterweë bly. Dinge soos die sigbare klimaatsverandering. Dinge soos ons brose demokratiese Grondwet. En dinge wat ons so maklik as vanselfsprekend aanvaar – soos vryheid van spraak en uitdrukking. En bowenal, vryheid van assosiasie met ander.

Van dié verbintenisse was nie so lank gelede nie nog ’n misdaad. Onthou jy? “Wees lief vir jou bure, moet net nie uitgevang word nie.”

Vyf en vyftig jaar gelede het ’n partytjie in Johannesburg die hoofopskrifte gehaal omdat die mans gay was en sommige vroueklere gedra het. Hulle het in die tronk beland. Nuwe drakoniese wette is afgekondig.

So, met maskers en sosiale afstand, vreesbevange oor ’n onsigbare vyand, laat ons nie vergeet van waar ons kom nie sodat ons ons toekoms kan vier in die hoop op ’n “nuwe normaal” – en seker maak dat ons demokraties-verkose leiers nie dieselfde vuil speletjies as destyds speel nie.

Stel jou voor: 1966, ’n week ná die polisieklopjag in Johannesburg, is daar ’n ander partytjie in Kaapstad. Ek is 21 jaar oud. Met hare! Ons hou ’n verjaardagpartytjie vir ’n vriend in die dramaskool. Soos ek, is hy ’n misdadiger, met ander woorde, gay. Daar was boonop ’n paar bruin mense by die partytjie, wat ook teen die Ontugwet was, maar wat de hel, dit was ’n Vrydagaand in Kaapstad en die partytjie was in Woodstock, ’n grys area. Die musiek was kliphard en die wit outjies het dit geniet om vir die ouens van die Kaapse Vlakte te wys dat hulle ook ’n sin vir ritme het.

Ek gesels met Alan, wat akteur wil word. Ons bespreek ’n fliek wat ons gesien het. Nie saam nie, dit was mos teen die wet, hy is ’n bruin man en ek is wit.

Dit raas; moeilik om gesprek te voer, so ek sê: “My kar is hier. Kom ons ry teen Seinheuwel op. Ek weet van ’n plek waar ons kan parkeer.”

Hy sê: “Great, ek word saam met jou in ’n kar op ’n Vrydagaand gevang. Hulle sal my doodmaak. Kry ’n lewe. Dis nie Hollywood nie! Onthou waar jy is.”

“Jammer, jammer, jammer,” sê ek.

Die partytjie is verby en Alan vra: "Kan jy my ’n lift gee?"

Ek sê: “Ja . . .” en dink dan nou moet ek in die Kaapse Vlakte-townships ry. Hoop ek verdwaal nie op pad terug nie.

Ek verlaat die “veilige” area in Kaapstad, ry met die snelweg langs na die donker horison toe. Hy sê: “Draai hier regs.” Rondebosch, Nuweland, Claremont. Ons kom in Kenilworth. Wat ’n verligting: Bekende terrein, ’n laning bome weerskante, groot huise agter versorgde heinings. Maar terwyl ons ry, sak hy laer af in die sitplek sodat hy minder sigbaar is. Hoekom? Dan sê hy: “Oukei,” en ons stop.

Hy klim uit en maak die deur sonder ’n geluid toe. Uit gewoonte klap ek my deur toe. “Sjjjt! Is jy mal? Kruip weg in die heining.” Ek kruip weg. Ek hou hom dop terwyl hy oor die grasperk loop na ’n buitehut, die soort waar die tuingereedskap en die grassnyer gebêre word. Hy maak die deur saggies oop en gaan in. Ek sien deur die venster hoe hy ’n kers aansteek en vir my wink om te kom. O, besef ek. Alan is die tuinwerker.

Ek is senuagtig terwyl ek oor die gras stap en hoop net ek val nie oor tuingereedskap of ’n groot hond nie. Ek gaan in en maak die deur toe. Hy skuif ’n lendelam stoel onder die deurknop in. Daar is nie krag nie. Ek dink die mure is heldergroen geverf. Die plek ruik na skoonmaakmiddel. ’n Grassnyer is in die hoek en ’n opgerolde tuinslang op die vloer. Sy klein matrassie op blokke op die vloer. Geen mat nie. Ek weet hy is 19 en sy ouers woon in die woonbuurt Manenberg. Sy pa verkoop skroot vir ’n inkomste. Sy ma is ’n huiswerker vir wit mense. Sy 13-jarige suster is swanger. Sy broer is vermoor. Ek vra nie hoe nie.

Dan onthou ek hoekom ons daar is. Ek trek my T-hemp en jeans uit en gooi dit op die vloer. Ek kyk hoe hy sy klere uittrek.

Die manier hoe hy die wit hemp met soveel respek uittrek, laat my besef die wit gesin vir wie hy werk, het dit vir hom gegee, ’n hemp wat aan die 18-jarige wit tiener behoort het wat nou weermagopleiding doen.

Hy vou die hemp versigtig op en sit dit op die bed. Hy sien my klere opgefrommel op die vloer lê, hy tel my T-hemp op en vou dit. Dan die jeans. Hy kyk na my en lag, hy weet hy gedra hom nou soos ’n regte huiswerker wat die baas se klere opvou.

Wanneer ons albei van ons klere ontslae geraak het, is ons dieselfde. In die kerslig kan ’n mens nie eens kleur sien nie. En so doen ons toe wat ons doen.

Ek word die volgende oggend wakker. Die Afrika-son skyn helder deur ’n gat in die swart plastiek. Ek sien die aaklige plafon. Waar de hel is ek? Ek kyk af. Hy slaap nog. Dan maak hy sy oë oop en sien my. “Nee, man, is jy nog hier?”

'Moenie worry nie, ek het nie universiteitklasse op ’n Saterdag nie.' 'Nee, man, ek moet vandag hul karre was. Die ander tuinman kom om die gras te sny. Jy moet nóú padgee. As hulle jou hier betrap, sal ek my werk verloor. Ek sal tronk toe gaan.' Hy is vreesbevange.

“Moenie worry nie, ek het nie universiteitklasse op ’n Saterdag nie.” “Nee, man, ek moet vandag hul karre was. Die ander tuinman kom om die gras te sny. Jy moet nóú padgee. As hulle jou hier betrap, sal ek my werk verloor. Ek sal tronk toe gaan.” Hy is vreesbevange.

Ek trek vinnig aan. Hy stop my skoene en sokkies in my hande en wys my deur toe. “Weg is jy! Agterom. Agter die garage. Daar is ’n gat in die heining. Maak seker die bure sien jou nie. Hulle het gewere en honde!”

“Kan ons mekaar weer sien?” “Gods, man! Asseblief, baas Pieter, gaan net!” Ek het hom nooit weer gesien nie.

Dit is hoe dit was. 1966. 1976. 1986. Tot 1994. Selfs vandag, 27 jaar later, is dit steeds moeilik om ’n entstof teen die virus van rassisme te vind – as gevolg van daardie talle daaglikse nuwe variante.

En tog, deur al daardie jare van ons afsonderlike ontwikkelings en ondanks die politieke korrektheid van apartheid, moes ons glo “liefde is liefde en ons soen almal dieselfde” . . . baie versigtig.

So, as julle wil hê ek moet julle van my vriendskappe, inspirasies en die pret vertel wat ek met my nuwe onwettige vriende in die donker gehad het, dan sal ek julle oor werklike vrees kan vertel.

• Die Artfluence-kunstefees word deur die departement van kreatiewe kunste van die Universiteit van KwaZulu-Natal aangebied. Dit duur tot 8 Mei en word op Faceboek by @Artfluencefest gestroom.

Meer oor:  Artfluence  |  Pieter-Dirk Uys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.