Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Komediefees in Kaap herleef ná 8 j.
Die Cape Town Comedy Festival is laas in 2012 aangebied en herleef vanjaar.

Die Cape Town Comedy Festival gaan ná ’n blaaskans van agt jaar weer in Kaapstad herleef.

Die internasionale fees is jaarliks van 1996 tot 2012 aangebied en het in dié tydperk sowat 250 internasionale komediante na Suid-Afrika gelok voordat dit volgens Sam Hendrikse, die feesdirekteur, “tydelik afgestel” is.

“Ek het net ’n punt bereik waar ek ’n blaaskans nodig gehad het,” sê Hendrikse.

“Ek het eers sowat twee tot drie jaar gelede gevoel ek het weer woema om die fees aan te pak en nuwe lewe daarin te blaas.”

Hendrikse sê die “nuwe” fees se DNS is presies dieselfde as die vorige feeste, maar aanhangers mag dalk klein verskille sien.

“Ek dink aan die nuwe fees as ’n ‘skerpsinniger’ neef of niggie van die vorige fees. Ek dink nie ons gaan alles vanjaar uit die staanspoor regkry nie. Kapenaars dink dalk hulle hou nie van die nuwe fees nie, maar as jy van komedie hou, is dít (die fees) die beste ding wat met Suid-Afrika kan gebeur. Daar was lanklaas so ’n vertoning soos dié.”

Shimmy Isaacs Foto: Verskaf
Schalk Bezuidenhout Foto: Verskaf

Die plaaslike komediante wat Suid-Afrikaners se lagspiere in talle vertonings gaan kielie, sluit in die grapjasse Schalk Bezuidenhout, Tsitsi Chiumya , Robby Collins, Bongani Dube, Loyiso Gola, Shimmy Isaacs, Mel Jones, Mojak Lehoko , Mo Mothebe, Prins en Nik Rabinowitz.

Die internasionale komediante wat by hulle aansluit, is Alonzo Bodden (VSA), Fern Brady (Skotland), Desiree Burch (VSA), die Britain’s Got Talent-finalis Daliso Chaponda (Malawi), Laura Davis (Australië), Stuart Goldsmith, Jeff Innocent en Spencer Jones (almal van Brittanje), Phil Nichol (Kanada), Fin Taylor (Brittanje), Richard Turner (VSA) en Sindhu Vee (Indië).

Turner, wat in San Antonio in die Amerikaanse deelstaat Texas woon, bied op sy eentjie die vertoning Dealt aan, wat vanjaar om verskeie redes groot aanhang sal geniet.

Die 66-jarige kulkunstenaar beskryf homself as ’n “speelkaart-werktuigkundige”, ’n benaming wat hy sê bestaan het lank voordat motors uitgevind is.

“ ’n Speelkaart-werktuigkundige is iemand wat met ’n kaartspel knoei en met vinnige vingers ’n speler kan laat wen of verloor,” het Turner aan Netwerk24 gesê.

“Dit is ’n bekende begrip in die casino-bedryf – en dit vat dekades om te vervolmaak.”

Die blinde, Amerikaanse speelkaart-werktuigkundige Richard Turner is ook vanjaar op die fees te sien.Foto: Verskaf

Turner se vertoning is ekstra besonders nie net omdat hy blind is nie, maar ook omdat hy al sy kulkunsies op “gewone” speelkaarte uitvoer – nie Braille-speelkaarte nie.

“ ’n Pak Braille-speelkaarte is te groot en te dik – dit sal nie in my vertoning werk nie,” sê hy.

“Ek werk met my vingers, hulle is baie sensitief, so ek voel die kaarte en die ink daarop.

“Dit beteken wel dat ek baie kieskeurig is oor die kaarte wat ek in ’n vertoning gebruik. Speelkaarte wat in China gemaak is, is gewoonlik van ’n swak gehalte. (Die handelsnaam) Bicycle is baie beter en ek het nie ’n probleem om hul kaarte van mekaar te onderskei nie.”

Turner, wat die onderwerp van die 2017-dokumentêr Dealt is, vertel hy het stelselmatig as kind sy sig verloor en het in dié tyd begin kaartspeel nadat hy dit in Westerns op TV gesien het.

Hy het sy loopbaan as speelkaart-werktuigkundige in 1972 begin en gebruik sedertdien nie net die geleentheid om mense te vermaak en te laat lag nie, maar om hulle ook tot groter hoogtes aan te spoor.

“Ek tree gereeld as motiveringspreker op, en dit is tot ’n mate ook deel van my vertonings,” sê hy.

“Mense sal waarskynlik nie net na my vertoning kyk en laggend vra wat de duiwel voor hulle afspeel nie, maar ek wil hulle ook daardeur leer hoe hulle struikelblokke in hul lewe in bates kan omskep. My lewe is ’n baie goeie voorbeeld daarvan.”

  • Die komediefees vind van 1 tot 8 Maart in die Kunstekaap plaas. Kaartjiepryse wissel tussen R30 en R285 per vertoning. Bespreek by Webtickets. Besoek https://capetowncomedyfestival.com/ vir meer inligting en ’n volledige program.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.