Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kostuums vir ‘Shakespeare in Love’ kom al die pad van oorsee
Robyn Scott as koningin Elizabeth in een van die imposante kostuums wat oorsee by die Royal Shakespeare Company gehuur is vir die produksie Shakespeare in Love.

Waar gaan jy as jy in die vroeë lente aan die suidpunt van Afrika eg Shakespeariaanse kostuums soek? En dit boonop vir 20 akteurs – daar is ook ’n hond op die koop toe.

Dink uitskop-hoepelrokke, sissend swaar ryk materiale, stywe keurslyfies, goue borduursels, reuse-pofkrae en -broeke en hakskoene met gespes. Die hond – Bogart – pronk met sy eie klein pofkragie.

Birrie le Roux, bekroonde stel- en kostuumontwerper, het vir die komiese toneelstuk Shakespeare in Love tans op die planke in die Fugard-teater na die ware Jakob gegaan. Die Royal Shakespeare Company in Stratford-upon-Avon, Shakespeare se geboortedorp, en die reuseverhuringsmaatskappy Angels, wat al vir sewe generasies sake doen in Londen.

“So 95% van die klere kom van die RSC en die res van Angels. Angels huur nie eintlik aan teaters uit nie; die meeste huur nie graag aan die teater nie omdat dit vir langer periodes as vir flieks gedra word.”

Dit het hulle niks meer gekos as om die kostuums van nuuts af te maak nie. Ná die ontbondeling van die streekrade is die infrastruktuur vir die skep van kostuums en stelle op dié skaal in duie, vertel Le Roux.

“Ons het ook net nie tyd gehad om dit te maak nie. Aanvanklik sou ek na die Kunstekaap gaan om te kyk wat Kaapstad Opera het.” Sy sou aanklop vir Peter Cazalet se skeppings vir Don Carlos en dan “net so ’n bietjie bywerk – ’n kraag hier, ’n val daar”.

Die kostuumafdeling van die RSC en Angels is iets om te aanskou. Die RSC se kostuums word geherberg in ’n gebou op twee vlakke.

“Daar is rye en rye kostuums – als word in periodes gerangskik.”

Birrie le Roux en die akteur Walter van Dyk tydens repetisies vir Shakespeare in Love.Foto’s: Daniel Rutland Manners

Hulle was drie dae daar net om al die kostuums uit te kies, en daarna na Londen om by Angels te kry wat nog ontbreek. Angels beskik oor meer as ’n miljoen kledingstukke wat oor 12 km strek en ’n span ontwerpers en kleremakers wat kan skep wat jy soek.

Le Roux se vertrekpunt in die beplanning van ’n stel of kostuums is die teks en ’n lang gesprek met die regisseur en veral baie navorsing.

“Als is gewoonlik in die teks, soos met die Dans van die watermeid eersdaags in die Baxter-teater. Soms het die skrywer ook baie spesifieke beskrywings.”

Sy hou ook daarvan om die figuur en persona van die akteurs in ag te neem as sy vir hulle ontwerp. “Dit is dan instink; dit kom na jou toe om ’n manier te vind om die karakter te laat lewe.”

Eersdaags kom die musiekspel King Kong ook terug na die Fugard – sy het daarvoor kostuums van die jare 50 geskep.

Le Roux is ’n Pretorianer wat in die teater grootgeword het. Sy het aan Tukkies saam met die ontslape stelontwerper Johan Engels en die joernalis Sumien Brink drama gestudeer.

Sy het hoofsaaklik in die filmbedryf gewerk en veral vir Manie van Rensburg se rolprente stelinkleding gedoen, onder meer vir Verspeelde lente.

Haar seun, Rocco Pool, is ook ’n stelontwerper en soms werk hulle saam aan projekte. Nie dat hulle altyd kan saamstem nie, skerts sy. “Om saam met die jong klomp te werk, hou my op my tone.”

  • Shakespeare in Love word tot 25 November opgevoer.
Meer oor:  Shakespeare  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.