Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Krit: As drome mense begin droom
Ben Pienaar Foto: Jaco Marais

Beet

Nati-arena, Kunstekaap

***

Op ’n klein dorpie word daar vir seker soos op enige ander plek groot drome gedroom. Soms word jou droom ook vir jou gekies deur die heelal, of ander se ywerige verbeeldings wakker dit aan.

Dit is wat met Ludwig (Ben Pienaar) gebeur. Bonnievale se kristalballeser sien die vaal museumwerker as die reïnkarnasie van die komponis Ludwig van Beethoven. Al die tekens is daar, en so word die saai alledaagse in Braam van der Vyver se teks iets wonderbaarliks anders.

Ben Pienaar Foto: Jaco Marais

Voordat jy kan sê “Maanligsonate”, neem Ludwig klavierlesse en oefen toonlere dat dit klap. Sy ouma Bets tel liefderik haar sente uit vir die lesse.

Daar was niks maar niks voorheen in Ludwig se verwysingsraamwerk oor die Duitse komponis nie, wat meer as 250 jaar ná sy dood steeds begogel met sy musiek. So, daar is die wonderwerk. En soos absoluut tipies van klein dorpies is dit die “uitkyktannies” wat Ludwig raaksien en sy droom met boeke oor die komponis en hul gawe aanspoorwoordjies aanhelp.

Ook op die kleindorpse manier sodat hy nie grootkop kry nie, word hy deur algar Beet gedoop en goedig, soms snedig, gespot.

Sy skielik vlytige vingers en versugting dat hy die Beethoven van Bonnievale of dalk dié Beethoven is, maak hom nie meer aantreklik vir die dorpsmeisies nie, inteendeel.

Van der Vyver se storiewortels kan in die magiese ervarings in ons rolprent- en teaterskat gesoek word. Dink maar aan Katinka Heyns se rolprent Paljas, waarin die verbeelding van gewone mense lewend word en dit die wêreld skielik laat bokspring van moontlikhede, asook Paul Slabolepszy se The Return of Elvis du Pisanie, waar vergete drome onthou word en so ’n middeljarige man weer op koers kry.

Pienaar kwyt hom goed van sy taak in veral sekere fasette van sy karakter. Dié van die seunman, wat blyk ’n taamlik vaal lewe gaan uittrap. Die skaamheid rondom ’n moontlike meisie en die ete van “russians en tjips” is lieflik hanteer. So ook die klein kragtoer – die komiese uitvoering van Fidelio, waar hy ál die karakters is.

Die stuk is langer as ’n uur en verg groot fisieke vaardighede waaroor die akteur wel beskik, soos in vorige vertolkings behendig bewys is. Pienaar rits deur al die karakters – nie almal met ewe veel oortuiging of onderskeid nie. Nuanse word telkens ingeboet.

Die ontknopingspunt is inderdaad magies as die pluiskeil en die juweelkleurige fluweeljas nut kry. Is die museumwerker inderdaad meester Beethoven? Gaan kyk en besluit self.

•Op die Suidoosterfees in Kaapstad te sien. Die volgende opvoering is op 29 April om 18:30. Kaartjies is by Computicket te koop.

Meer oor:  Beet  |  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.