Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Krit: Lottering dis weer skaterlag op
Marc Lottering Foto: Lindsey Appolis

Marc Lottering

Lottering on Lockdown, Baxter-teater

***

Uit al sy talente word die komediant Marc Lottering se gawe om ’n gevoel van samehorigheid onder Suid-Afrikaners te skep, nie genoeg geloof nie.

Terwyl giftonge elke moontlike openbare platform gebruik om Suid-Afrikaners te verdeel, werk Lottering dit aktief teen, in die meeste gevalle met ’n humoristiese perspektief op dít wat Suid-Afrikaners uitmekaardryf.

Dié sonderlinge gawe was op sy duidelikste in Lottering se musiekspel Aunty Merle – It’s a Girl!, wat tot kort voor die begin van die staat van inperking in die Baxter-teater op die planke was en dit staan weer soos ’n paal bo water uit in die skerpskertsvertoning Lottering on Lockdown, waarmee hy sy terugkeer tot die Baxter maak.

Hoewel dit onmoontlik is om vas te stel hoe Lottering dié samehorigheid vermag, is een moontlike strategie dat hy nie skroom om tameletjies, waaroor Jan en alleman gewoonlik vassit, by die horings te pak en sy gehoor te kry om daaroor te lag nie.

Die Covid-19-pandemie, die EFF, die Clicks-debakel, al die kaskenades in Brackenfell, OUTsurance en ’n TV-persoonlikheid se ontrouheid, asook politieke korrektheid is een ná die ander deur Lottering gepak soos net hy kan – dapper, skalks én plek-plek skreeusnaaks. Daarmee gee hy sy gehoor eintlik ook ’n kykie in die binnewerking van dít waaroor hy gedink het terwyl hy agter slot en grendel was.

Dié joligheid is afgewissel met twee “besoeke” deur Aunty Merle en Colleen the Cashier, twee van sy mees geliefde karakters, asook ’n roerende liedjie uit sy pen – in sy eie woorde, die vertoning se “Oprah moment” – om sy gehoor aan ons landsburgers te herinner wat weens die pandemie aan die kortste ent trek. Hy het daarmee ook soos ’n broer sy arm (denkbeeldig) om elke gehoorlid se skouer gegooi en gesê alles sal eindelik orraait wees . . . voordat hy die roerende oomblik met ’n grappie ontlont het deur sy vinger (weer denkbeeldig) in almal se kieliebakke te druk.

Die vertoning tersyde: Twee duime na bo vir die Baxter-teater se personeel wat Covid-19-maatreëls streng toegepas het.

Hoewel die vertoning nie meer bied as dít wat Lottering gewoonlik opdiep nie en dit boonop met ’n goeie 15 minute gesny kon word, word dit tog aanbeveel vir dié wat ’n goeie dosis vermaak nodig het, veral dié wat ’n bietjie woema kort om die einde van die jaar te haal. Die vertoning het ’n skaterlag belowe – en dit is presies wat Lottering vir teatergangers opdis.

Die vertoning tersyde: Twee duime na bo vir die Baxter-teater se personeel wat Covid-19-maatreëls streng toegepas het – en selfs nie geskroom het om in die teater tussen sittende lede van die gehoor in te stap om kansvatters (sommige van hulle bekendes . . .) oor die vingers te tik nie. Dié optrede laat teatergangers wat nog skrikkerig is om na die teater terug te keer, gerus voel.

Dit is wel jammer dat daar steeds mense is wat eenvoudig nie die maatreëls gehoorsaam nie. Wat is so moeilik om te verstaan? Dra jou masker. Sit op die regte sitplek. Handhaaf ’n gesonde afstand tussen medeteatergangers, ook wanneer jy jou sitplek inneem.

Hoekom sink hierdie basiese reëls nie in nie? Wat is so aanloklik daaraan om dié reëls te oortree? Is die moontlik tragiese gevolge van dié laksheid of die opvlamming van Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap nie ’n groot genoeg afskrikmiddel nie?

Of is dit dalk tyd om herhaalde oortreders, dié wat net nie ore het nie, die deur te wys sodat gehoorsame teatergangers die veiligste teaterervaring moontlik kan kry?

  • Lottering on Lockdown is tot 9 Januarie in die Baxter-teater in Kaapstad op die planke. Vertonings van Dinsdae tot Saterdae begin 20:00, met ’n bykomende Saterdag-vertoning 17:00. Kaartjiepryse wissel tussen R100 en R150. Bespreek by Webtickets of skakel die Baxter-teater by 021 685 7880. Die vertoning duur 80 minute. Die ouderdomsbeperking is 16.
Meer oor:  Clicks  |  Aunty Merle  |  Outsurance  |  Eff  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Pandemie  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Teater  |  Baxter  |  Baxter-Teater  |  Marc Lottering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.