
Hillétje Möller Bashew, Gerben Kamper en Marijda Kamper is die akteurs in ‘Die sonkykers’. Foto: Leopold Frechow
Die sonkykers
Inibos, Bloemfontein
Dit is nie net Dalene Matthee wat die towerkrag van die bos ervaar het nie. Inibos, ’n oerbos uit eie reg op die rand van Langenhovenpark in Bloemfontein, het Marijda Kamper, Hillétje Möller Bashew en Gerben Kamper betower om Die sonkykers te skryf en op te voer in ’n ruimte waar Covid-19-regulasies moeiteloos nagekom word en die toeskouer in ’n natuurlike bosteater sitplek inneem.
Die pragtige bome vorm nie net die agterdoek van die produksie nie; takke vorm ’n integrale deel van die dekor waarop lakens op wasdag deur Kamper en Möller Bashew uitgesprei word. Die openingstoneel skep ’n idilliese beeld van die Sewesterson-beweging; dit is ’n Impressionistiese skildery van ongerepte natuur, arbeid in die buitelug en jong vroue met vloeiende klede en hare. Die eerste paar minute van die produksie word gekenmerk deur sang, rituele dansbewegings en vrolike gelag, ’n ode aan ’n ongekunstelde lewenstyl in harmonie met die natuur.
Die Sewesterson-beweging is ’n kultus wat Gaia, die verpersoonliking van die aarde, aanbid en eenwording met haar voorstaan. Die stigter van die kultus, Lukas Dannhauser (Gerben Kamper), lei sy volgelinge, verteenwoordig deur sy twee dogters (Kamper en Möller Bashew), deur die poorte van die Gaia-hemel in ’n kollektiewe selfdood waarin die drie van hulle wonderbaarlik uitgespaar word. Maar was dit regtig Gaia se wens?
Dit is een van die vele aspekte wat deur die intrige aangespreek word. Die sonkykers neem die toeskouer tot in die binnekring van ’n skynbaar vredeliewende kultus met ’n leier wat nie so oortuig is as wat sy onderdane dink nie.
Gerben Kamper speel die rol van die kultusleier met oorgawe en oortuiging: Die grootheidswaan van die meeste kultusleiers word geïllustreer deur sy onverskilligheid teenoor die lede wat die hoogste prys vir “vryheid” betaal het, terwyl hyself in die laaste toneel soos ’n verlore kind in ’n feëverhaal in die bos verdwaal.
Gerben Kamper speel die rol van die kultusleier met oorgawe en oortuiging: Die grootheidswaan van die meeste kultusleiers word geïllustreer deur sy onverskilligheid teenoor die lede wat die hoogste prys vir “vryheid” betaal het, terwyl hyself in die laaste toneel soos ’n verlore kind in ’n feëverhaal in die bos verdwaal.
Dannhauser se dogters is aanvanklik onderdanig en neem entoesiasties deel aan die oorgang tussen lewe en dood, maar die rolle ruil om wanneer hulle hul pa se lafhartigheid ontdek. Die twee aktrises kom hier tot hul reg in ’n bevraagtekening van die bestaansreg van die kultus en uiteindelik ’n hartstogtelike terugkeer tot die beginsels daarvan, wat lei tot die onafwendbare, tragiese einde.
Die natuurlike omgewing verleen ondersteuning en geloofwaardigheid aan die intrige: Die bospaadjies is ’n verlengde coulisse; die ewig veranderende ligeffekte van die blaardak suggereer ’n langer tydsduur as die 60 minute van die produksie; die voëls wedywer met die akteurs, hadidas vlieg angstig op wanneer ’n eensame Dannhauser vergeefs na sy dogters in die bos begin soek. Daar is geen gehoorbuiging nie; die gehoor, wat op stoele tussen die bome sit, kan selfs glo dat dit alles net ’n visioen was, die soort tafereel wat in ’n magiese omgewing voor ’n mens afspeel.
Behalwe vir die natuurlike geluide, is daar ook die gepaste djembe- en kitaarklanke van Jaco de Wet wat onopvallend en met groot sensitiwiteit sekere tonele met ritmes en melodieë begelei.
Lafras Verster is verantwoordelik vir die vloeiende kostuums van ongebleikte linne wat perfek by die omgewing pas en aan die kultuslede die vryheid van beweging gee om hul rituele danse uit te voer. Dieselfde materiaal word gebruik vir die lakens en lyksklede wat oor die onsigbare, gestorwe kultuslede getrek word.
In hierdie Covid-19-jaar waarin akteurs waarskynlik die swaarste deur die inperkingsmaatreëls getref is, bied die produksie ’n sintuiglike alternatief vir aanlyn produksies, en vir toeskouers wat Inibos nie ken nie die geleentheid om een van die mees magiese plekke in Bloemfontein te ontdek.
• Vertoontye: 4 Desember om 17:00; 5 Desember om 12:00 en 17:00. Die kaartjies kos R100 by Webtickets.